ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Eisj, dis ‘n yskroeg

First published in Die Burger

Alles by die Icebar is van ys

Alles by die Icebar is van ys

As jy in een van die handjievol yskroeë in wêreldstede soos Stockholm en Praag sit, is dit nie ‘n geval water, water oral, maar nie ‘n druppel om te drink nie. Dis eerder ‘n geval van ys, ys oral, behalwe in jou glas.

Ysglase op die ystoonbank van die Ice Bar

Ysglase op die ystoonbank van die Ice Bar

Dis omdat jou glás ook van ys is. Soos ook die mure, hoë tafeltjies, stoele en bankies. Selfs die rakke waarop die bottels staan, die toonbank waar jy bestel, die standbeelde en die skilderye teen die (ys)mure. Alles, net mooi alles, is van soliede ys. Die yskroeg word van soliede ysblokke gebou.

Dis net mooi alles soliede ys

Dis net mooi alles soliede ys

Dis net die kasregister wat skoon onvanpas tussen al die ligblou ys lyk.

Die eerste yskroeg is in 1994 in Jukkasjärvi, Swede opgerig. Daarna het die idee – by wyse van spreke – vlam gevat en meer as dertig stede orals in die wêreld het nou al yskroeë. Van die stede waar jy ‘n yskroeg kan besoek, is Barcelona, Montevideo, Amsterdam, Sint Petersburg, Budapest, Dubai, Tokio, Praag, Londen, Nieu-Delhi, Hong Kong en New York.

Dis gewoonlik in kouer dele van die wêreld waar ‘n mens ‘n yskroeg kry omdat dit makliker is om die ys koud genoeg te hou, maar verskeie ander dele van die wêreld het al planne beraam waarvolgens die ysblokke waaruit die kroeg gebou is, nie smelt nie.

Praag se yskroeg is in die oksel van die brug wat twee buurte, Staromestska en Mala Strana, verbind

Praag se yskroeg is in die oksel van die brug wat twee buurte, Staromestska en Mala Strana, verbind

Binne-in die meeste yskroeë is die temperatuur ‘n konstante minus 5˚ Celsius. Dis waarom die kroegmanne en –meisies slegs kort skofte kan werk. Daar is ook ‘n kamer waarheen hulle kan wegglip om bietjie te ‘ontdooi’ as daar nie ‘n bestelling is om te neem nie.

As jy aankom, kry jy ‘n pelsgevoerde pansjo. Aan jou pansjo is handskoene vasgespeld. Dit verhoed dat jy jou handskoene wegdra. Glo my, jy het die handskoene nodig om jou ysglas vas te hou!

So werk die yskroeg: jy betaal ‘n vaste prys (dit wissel van land tot land – in Swede kos dit R300 en in die Tsjeggiese Republiek R155) vir die eerste 40 minute. Na 40 minute is jou sessie streng gesproke oor, maar daar word slegs daarby gehou as die kroeg vol is omdat spasie beperk is. Die toegangsfooi sluit ook jou eerste wodka-drankie in. Die gewildste wodka-drankies word met bessiepuree gemeng.

Die wodka-drankies wat jy by die Ice Bar kan bestel

Die wodka-drankies wat jy by die Ice Bar kan bestel

As jy daarna nog nie genoeg gebibber het nie – vir Suid-Afrikaners is dit kóúd – kos jou volgende drankie tussen R75 en R150.

Hou maar jou handsak oor jou skouer anders vries dit aan die tafel of toonbank vas.

‘n Paar jaar gelede het die Waterfront in Kaapstad vir ‘n seisoen met die eerste yskroeg in Afrika gespog. Nie mét eisj nie, maar ván eisj.

Loer na die yskroeg in Praag, Tsjeggiese Republiek: www.icepubprague.cz

Loer na die yskroeg in Stockholm, Swede: www.icebarstockholm.se

Die meeste mense bly nie lank in die Ice Bar nie, want dis te koud

Die meeste mense bly nie lank in die Ice Bar nie, want dis te koud

2 comments on “Eisj, dis ‘n yskroeg

  1. Toortsie
    March 6, 2019

    Ag nee! Ek het nie hiervan geweet nie!

  2. ilsez
    March 15, 2019

    Dis in nog ‘n paar stede in die wereld, Toortsie. Ek was nog net in Praag en Stockholm. Google voor jy weer reis – dalk is dit in die stad waarheen jy gaan. Ek hou duimvas namens jou!

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 6, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .