ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Beleef Bozcaada – Sielsalige bederf op vakansie

As published in Die Burger, September 2010

kat-se-kind-by-een-van-die-griekse-restuarantjies

‘n Slukkie Karalahna (‘n onbekende rooiwynkultivar vir ons) van Talay Wynplaas wat dateer uit 1948. ‘n Happie kalamar tava by Sandal Restaurant waar ‘n blou boot deel van die sypaadjie-dekor uitmaak. ‘n Straatkat skuur teen my bene vir my volgende happie. Bleek, maar warm, sonstrale beur deur die wingerd bo ons koppe. A, sielsalige vakansie.

Dit voel na ‘n Griekse eiland, maar dis Turks, weliswaar met Griekse invloed. Dis Bozcaada aan die weskus van Turkye. Dis naby, maar ver genoeg van Istanboel. As jy self bestuur of een van die plaaslike busdienste gebruik, kyk jy na sowat 400 kilometer.  Jy kan ook per veerboot van Istanboel na Bandirma vaar en vandaar ‘n bus neem. Op ‘n helder dag kan jy vanaf Bozcaada die Griekse eiland van Lesbos sowel as ‘n paar kleineres uitmaak.

eerste-blik-op-bozcaada

Bozcaada-eiland is stil en rustig, tog is daar genoeg om te doen. Soort van, as wynproe en duimgooi na vuurtorings tel. Darem ook op die strand lê en lekker kos eet, die son dophou soos wat dit agter die fort ondergaan en deur die straatjies drentel.

filosoferende-groenteverkopers

Bozcaada was lank terug as Tenedos bekend. Nie dat ons na die lekker plaaslike wyn soveel omgee nie, maar ‘n tikkie geskiedenis het niemand nog kwaad gedoen nie. Die eiland word al vir sowat 5000 jaar ononderbroke bewoon. Klaarblyklik het Romeine, Bisantyne en Venesiërs al hier gewoon. Onder andere. Ook Grieke en van hulle is hier nog ‘n hele paar op die eiland oor. Selfs die katte miaau in Grieks!

Dis maklik genoeg om hier te kom. Die meer gewilde bestemmings van Canakkale en Troje is ‘n rit of twee hiervandaan. Ons kies om eers in Gelibolu, ‘n klein vissersdorpie waar die eerste kartograaf Piri Reis (1470 -1554) vandaan kom, te oornag. Twee busse en ‘n vinnige veerbootrit later bring ons by die hawe van Bozcaada waaroor ‘n imposante fort uitkyk.

Eers inboek, dan verken. Otel Kaikias (ja, die H val weg in Turks) is ons bederf-opsie, maar daar is oorgenoeg goedkoper opsies insluitende by plaaslike families. Die handjievol straatjies maak dit ook maklik om rond te kyk vir wat jou sak pas.

Ons het gehoor en gelees van ‘n tipe Turkse ‘suidooster’ waarvoor Bozcaada bekend is. Dalk was ons net gelukkig, want net ‘n welkome briesie waai terwyl ons daar is.

Die eiland, een van twee bewoonde eilande in die Egeïese See wat aan Turkye behoort(die ander een is Gokceada), het sowat 2500 permanente inwoners. Ou tannies in verbleikte haremstyl-broeke skuifelstap tussen hortjie-huise met vrolike blombakke. Almal groet vriendelik en poseer maklik vir ‘n foto of twee. Katte lê uitgerek en slaap. Ou omies kom met waentjies met grassnyer-enjintjies verby gepoerpoer. Die geplaveide straatjies is skoon gevee; jy moet net oppas vir skeef trap en enkel swik.

dit-word-nie-verniet-turkish-delight-genoem-nie

Op Woensdae is dit markdag net buite die dorpie waar die eerste pad wegdraai in die rigting van die wynplase en die ongerepte strande. Beplooide tannies met kopdoeke verkoop tafeldoeke. Plaas-omies pak groente in fotogeniese hopies. Eenkant is ‘n stal met ou plaasimplemente. Ons ruik aan kruie en speserye wat ons glad nie ken nie. ‘n Tipe molasse waarmee jy kook, ruik soet en wil-wil sy pad vind na my sak, maar om nog ‘n maand hiermee te reis, gaan ook nie werk nie. Selfs die kleurvolle streepsakke waarin kilogramme speserye op ‘n slag uitgestal word, is mooi genoeg om te koop en te gebruik om ‘n stoel by die huis mee te stoffeer!

Ons het gehoor van twee vuurtorings op verskillende uithoeke van die eilandjie waarvan die kuslyn maar 14 myl lank is. Dít kan ons nie mis nie, veral siende dat daar ‘n vuurtoringfoto-versameling by die huis is wat aangevul moet word.

Skaars 10 minute na ons begin duimgooi het, tel ‘n klein Bantam-rige bakkie ons op. Die bestuurder kan, verbasend genoeg, Engels praat. Hy is hier gebore en getoë, maak nou saam met sy pa wyn, maar die eiland voel te klein na sy sin. Almal ken almal en almal weet alles van almal. Hoe moet hy nou ‘n meisie leer ken?!

Die vriendelike wynmaker laai ons by ‘n plaashuis af wat nog sowat 4 kilometer se stap van die eerste vuurtoring is. Hy vra erg om verskoning dat hy haastig is. Die vriendelike huiseienaar gee vir ons koue water en kyk na ons sakke terwyl ons net ons kameras saamdra. Vyfhonderd meter verder tel twee Oosterse studente van Amerika ons op.

Waar die eiland ‘n punt in die see maak, staan ‘n kleinerige spierwit vuurtorinkie waarvan die verf plek-plek afdop. Amper omring deur water aan die voet van die koppie en met ‘n uitsig doer oor die see. Daar is niemand anders behalwe ons vier tussen die geelgebrande onkruid nie. Die studente neem mekaar af en ons neem die vuurtoring uit elke hoek denkbaar af.

Terug by die plaashuis word ons dadelik nog koue water aangebied. Die gesin sit knus buite om ‘n houttafel en eet uit ‘n verskeidenheid klein bakkies. Ons derde saamrygeleentheid is agterop die wa van ‘n trekker wat van een wynplaas na ‘n ander ry. Die eienaar-arbeiders gesels vrolik in Turks en ons knik maar entoesiasties.

Nog drie Barmhartige Samaritane later, elke keer ‘n paar minute na ons afgelaai is, met tussenin ‘n koue bier by ‘n palmblaarkroegie, en ons is by die kronkelpad af na die reservaat waar ‘n windplaas met 17 turbines en die tweede vuurtoring is. Dis ‘n ent se stap en alhoewel dit warm is, is daar plek-plek skadu gegooi deur die dennebome wat orals op die eiland groei. ‘n Broekafval-insident om verby ‘n (dooie) slang in die pad te kom en die turbines verskyn binne sig.Eers mooipraat met die hekwag omdat dit tans toe is vanweë onderhoudswerk. Vandaar stap jy af see se kant toe sodat die vuurtoring geleidelik al groter en meer sigbaar word. ‘n Regte outydse vuurtoring en ons kameras kliek onophoudelik.

Behalwe vriendelike trekkers is daar ook mini-bussies wat die besiger paaie bedien en dit teen slegs ‘n paar sent per rit. Kies jou tyd van die jaar reg en orals langs die pad groei rooi papawers waarvan drankies en suursuiker (wat ons kleintyd sherbet genoem het) gemaak word.

Nie net is Bozcaada die enigste distrik in Turkye waar daar geen dorpies is behalwe die hawedorpie self nie, maar dit is ook die enigste area in Turkye waar wyn aktief verbou word. En nie sommer hierjy-wyn nie! Ongelukkig is min van die wynplase oop vir proe. Om tussen die lappies wingerd deur te ry, of te loop, en die klipgeboutjies te sien, is al amper genoeg. In die hawedorpie is meer as een platdakgeboutjie ingerig vir proe en so leer ons nuwe kultivars ken sowel as bekende kultivars in ander style gemaak.

blinkgevryfde-groente-te-koop

Die restaurante in die halfsirkel van die hawetjie, alhoewel duurder, is bekend vir hul seekos. Daarmee saam kom die uitsig oor die vissersbootjies verniet. Begin die aand met ‘n glas wyn by Kaktus Café and Bar waar jy ‘n wens aan ‘n boom kan hang en ook oor die hawe-bedrywighede kan uitkyk. Die geurigste Griekse kos word by Sandal en Güverte, skuins oorkant mekaar in Alsancak Sokak(straat), bedien – wees egter gereed vir klein porsies teen nie-so-klein pryse.

Vir ‘n romantiese paar dae kan jy inboek by Otel Kaikias waar die kamers baie smaakvol met antieke meubels en eklektiese dekor versier is of andersins ‘n paar blokke verder by Otel Ege Bozcaada wat vantevore ‘n ou skoolgebou was. ‘n Goedkoper opsie is ‘n kamer by ‘n familie waar jou kom en gaan steeds jou eie is.

opkikker-tee

Alhoewel die inkomste uit toeriste vir Bozcaada belangrik is, weet daar nog betreklik min mense van hierdie bederf-destinasie. Dis dus jou keuse hoe ver jy die nuus versprei na jou terugkoms.

Lees meer op:

www.bozcaada.info

www.tour-turkey.com/bozcaada-hotels.htm

www.kaikias.com

www.egehotel.com

www.rengigul.com

www.talay.com.tr

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 13, 2017 by in Europa.