ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

O! Moskou se metro is mooi

First published in Rapport, December 2019

DSC_0354

Sedert die moltreinstelsel in Moskou in gebruik geneem is, was daar nog net een dag wat dit nie gefunksioneer het nie

Moskou se moltreinstelsel, algemeen bekend as die Moskouse Metro, is een van die besigste moltreinstelsels in die wêreld. Dié moltreinstelsel vervoer tot 9 miljoen mense per dag.

Volgens die webwerf Russia Beyond (www.rbth.com) het 2.4 miljard mense in 2014 met die Moskouse Metro gery. Sedert dié moltreinstelsel op 15 Mei 1935 geopen is, is daar al meer as 145 miljard ritte onderneem.

Die moltreinstasies op die hooflyn van Moskou is besienswaardighede in eie reg. Nie net vervoer die Moskouse moltreine miljoene passasiers per dag nie, toeriste stroom ook daarheen omdat die bekendste stasies elkeen ‘n kleinerige kunsmuseumpie in eie reg is. Dit was Stalin se oogmerk dat die stasies “ondergrondse paleise” vir die man op straat moet wees. Die moltreinstasies beeld onder andere die Russiese rewolusie, sosialisme, en die lewens van werkers en kleinboere uit.

Volgens die Russiese Departement van Vervoer is die moltreine 99.9% van die tyd presies op tyd. Dit wil gedoen wees as jy bylees dat moltreine tydens spitsverkeer elke 90 sekondes by ‘n stasie aankom.

Een van die allermooiste moltreinstasies is Nowoslobodskaja waar jy jou kan verkyk aan 32 geboë loodglaspanele wat ‘n musikant, landbouer en argitek sowel as geometriese patrone en die sterre uitbeeld. Kiëfskaja spog met 18 mosaïekpanele met die fynste mosaïekteëltjies wat grepe uit die geskiedenis van die Oekraïne uitbeeld. Elke mosaïekpaneel het sy eie ryklik versierde raam.

Al die pilare op Komsomolskaja is met marmer beklee en die kandelare lyk of dit uit een van die tsaars se paleise weggedra is om hier te kom hang. Op Novokuznetskaja kan jy op marmerbankies met marmerarmleunings sit terwyl jy vir die moltrein wag. Bokant die marmerbankies is brons skilde wat vlae, gewere en Russiese militêre bevelvoerders uitbeeld.

Op Plosjtsjad Revoloetsii hurk 76 bronsbeelde van soldate, kleinboere, matrose, arbeiders, ingenieurs en studente. Maak soos die Russe en vryf oor hierdie standbeelde. Amper almal bring geluk: as jy geluk in jou huwelik wil behou, vryf oor die student se skoen, as jy self ‘n student is en goed in jou eksamen wil presteer, gee die neus of die poot van die hond ‘n veeg in die verbystap en as jy wil hê jou drome moet bewaarheid word, gee die matroos se vlag ‘n plukkie. Vermy die haan se snawel – dít bring slegte geluk.

Om die moltreine meer gebruikersvriendelik vir blindes te maak, is daar met ‘n briljante plan vorendag gekom. In treine wat in die rigting van die stad ry, doen ‘n manstem die aankondigings. In treine wat na die voorstede ry, hoor jy ‘n vrouestem oor die interkomstelsel.

Sedert die moltreinstelsel in diens geneem is, was daar nog net een enkele dag wat hulle nie gefunksioneer het nie. Dit was tydens die Tweede Wêreldoorlog – op 16 Oktober 1941.

Verskeie van die stasies is in oorlogstye as skuilplek teen bomaanvalle ingespan. Die stasies is juis so diep ondergronds gebou sodat hulle dié rol kon vervul.

Dis nogal ‘n eienaardige gevoel om so diep onder die grond met ellelange roltrappe af te ry. ‘n Mens voel so ietwat duiselig, veral in die Park Pobedy-stasie waar jy met die langste roltrappe in die wêreld afry.

Die Moskouse Metro het sy eie kwota legendes.

Een legende lui dat die Sirkellyn nie daar sou gewees het as Stalin nie sy koppie koffie op die oorspronklike beplanningskets neergesit het nie. Toe Stalin sien dat dié bruin kring naby die hartjie van die stad is, het hy summier opdrag gegee dat ‘n sirkelvormige lyn gebou moes word. Dis ook waarom die Sirkellyn tot vandag toe in bruin op die metroroete aangedui word.

Volgens ‘n ander legende is daar voorstedelike honde wat self op treine spring en weet by watter stasie, wat naby ‘n vleismark geleë is, af te klim. Net so ken hulle die pad huis toe.

Die kanse dat jy ‘n hond op ‘n moltrein gaan teëkom, is skraal; die kans dat ‘n sakkeroller jou gaan bespied, is baie groter. Wees versigtig, veral as jy ‘n kamera by jou het.

Lees en kyk meer:

www.rbth.com/arts/328682-moscow-metro-most-beautiful-stations

en www.theguardian.com/artanddesign/gallery/2015/oct/31/moscows-metro-stations-in-pictures

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 8, 2020 by in Europa and tagged .