ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Wat rym met pikkewyn?

First published in Die Burger, March 2017

Die Afrika-Pikkewyn-en-Seevoel-Sentrum fokus op pikkewyne, maar verleen ook hulp aan ander seevoels

As jy ‘n pikkewyn op ‘n dak sien koning kraai, is jy op die regte plek

Met die naderry sien ek ‘n uitgelate pikkewyn, snawel na die hemel gestrek, op die dak van die pikkewyn-en-seevoël-sentrum in Kleinbaai naby Gansbaai. Sy – dalk haar – uitbundigheid is aansteeklik. Met die uitklim doen ek onwillekeurig ‘n paar Happy Feet-danspassies.

Die Afrika-Pikkewyn-en-Seevoël-Sentrum het in Februarie 2015 hul deure oopgemaak. Met my besoek was ek gelukkig genoeg dat daar verskeie pikkewyne was waarna ek kon kyk.

Een pikkewyn het in een hoekie op sy eie gesit en vere vir die ander pikkewyne gevoel. Maar met ‘n houding, gehoor. So asof hy homself as verhewe bo die ander ag.

Van die pikkewyne ‘n entjie weg het vir my op ‘n koddige manier gestaan. Hulle rus op hul hakke, hoor ek toe, omdat hul groot pote eintlik relatief kort is en boonop met ‘n swemvlies bedek is.

Glo dit of nie - pikkewyne is soms maar lui vir swem

Glo dit of nie – pikkewyne is soms maar lui vir swem

Dit was ook interessant om te leer dat pikkewyne se waterdigte vere ‘n luglagie vasvang. Só bly die pikkewyn warm terwyl hy in koue seewater swem.

Onder die lyf van ‘n pikkewyn is ‘n spesiale vellel wat die eier warm hou. Afrika-pikkewynkuikens neem sowat 40 dae voor hul uitbroei.

Rehabilitasie en versorging word by dié sentrum aan siek en oliebesmeerde pikkewyne sowel as aan seevoëls verleen wat weer vrygelaat word sodra hul voldoende herstel het. Daar word op die Afrika-pikkewyn waarvan slegs ongeveer 38 000 volwasse pikkewyne in die natuur oor is, gefokus.

Theanette Staal, bestuurder en veeartseny-verpleegster van die Afrika-Pikkewyn-en-Seevoël-Sentrum  en Xolani Lawo, senior pikkewynrehabiliteerder (wat weens sy besondere aanslag met hierdie voëls soms die pikkewynfluisteraar genoem word) beklemtoon: “Die populasiegetalle van die Afrika-pikkewyn is op ‘n laagtepunt en hul oorlewing is op ‘n mespunt gebalanseer.”

“Ons is letterlik nou op ‘n stadium waar die rehabilitasie van elke beseerde, ge-oliede of siek pikkewyn ‘n verskil maak. Om ‘n volwasse pikkewyn te rehabiliteer en weer in die natuur te kan vrylaat, is goud werd. Die jongelinge neem tussen 4 en 6 jaar alvorens hulle begin broei. Alhoewel pikkewyne deur rehabilitasie gehelp word, is dit nie die antwoord op die krisis wat die Afrika- pikkewyn in die gesig staar nie.  Die antwoord lê in die bewaring en herstel van hulle natuurlike habitat en voedselbronne.  Daarom is dit belangrik dat mense bewus gemaak word van die feit dat die Afrika-pikkewyn op die randjie van uitwissing staan.”

Die Afrika-pikkewyn word bedreig omdat hul broeiplek al minder word. Vissersbote vang ook so baie vis dat daar minder vis is vir die pikkewyne om te eet. Oliestortings en besoedeling dra verder tot hul bedreiging by.

As brilpikkewyne aan olie blootgestel word, kan hulle verdrink en hulle kan hulself nie voer nie. Die olie veroorsaak dat hulle nie kan swem nie en dat hulle hul waterdigtheid verloor. Dit beteken ook dat hulle nie meer hul temperatuur kan beheer nie. As gevolg van die traumatiese ondervinding beteken dit somtyds dat hulle vir jare daarna nie broei nie.

Pikkewyne en seevoëls wat permanente inwoners by die sentrum word, kry name en die personeel leer hul karaktertrekke en eksentrisiteite ken.

Captain wat met ernstige robbytwonde opgeneem is, is baie nuuskierig. Al is hy blind in een oog, ondersoek hy alles – van ‘n skulpie tot ‘n veer. Hy val ook die tuinslang aan.

Bob, ook ‘n robslagoffer, is ‘n goeie leermeester as daar kuikens is wat vir die eerste keer moet swem.  Bob maak seker dat hulle almal in die water kom en swem dan saam terwyl hy hulle byt-byt jaag sodat hulle leer duik.

Na Bob en Hope op dieselfde pikkewynwyfie verlief geraak het, het die twee nie meer ooghare – of vlerkvere – vir mekaar nie. Die een probeer die ander gereeld ligweg opdons. Hope, daarenteen, geniet al die aandag terdeë en verseg om die een bo die ander te kies. Dis ‘n regte pikkewynsepie met ‘n liefdesdriehoek.

Verveerders woerts-warts vinnig in en uit by hul tydelike verblyfplek by die sentrum. Dis omdat pikkewyne wat verveer 14 tot 21 dae lank op land moet bly. Tydens ververing kan hulle nie swem of jag nie.

By die Afrika-Pikkewyn-en-Seevoël-Sentrum is laboratoriums, ‘n kliniek, geriewe vir die behandeling en herstel van die pikkewyne en seevoëls, en areas wat op rehabilitasie toegespits is. Die vloer van die rehabilitasiesentrum is spesiaal ontwerp sodat die seevoëls se pote nie swamme opdoen nie aangesien dit iets is wat maklik tydens rehabilitasie kan gebeur. Waardevolle wetenskaplike inligting word voortdurend hier versamel.

Benewens ‘n geskenk- en koffiewinkel is daar ook ‘n ouditorium waar inligtingsessies gehou word.

Die sentrum is een van die projekte deur die Dyereiland-bewaringstrust (DICT). Daar was ‘n groot behoefte aan só ‘n sentrum aan hierdie deel van die Overbergse kus juis omdat een van Suid-Afrika se vernaamste pikkewynbroeikolonies op Dyereiland voorkom. Voor die sentrum sy deure oopgemaak het, moes siek of besmeerde voëls na Kaapstad vervoer word. Sommige maande het dit beteken dat tot 5000 kilometer afgelê is. Gelukkig is dit nou glad nie meer nodig nie.

Theanette Staal sluit af: “Ons is net die pleister op die seerplek, maar bewaring en herstel van die Afrika-pikkewyn se natuurlike habitat sal uiteindelik al wees wat die ‘seerplekke’ sal voorkom.”

Daarvóór moet meer as net bewustheid gekweek word.  Anders is daar die moontlikheid dat die Afrika-pikkewyn binne die volgende tien jaar net nog ‘n naam op ‘n lys van uitgesterfde spesies kan wees.

Feite oor pikkewyne 

  • Op land kommunikeer pikkewyne met harde piepgeluide en trompetgeroep. Onderwater maak hulle geen geluide nie.
  • Pikkewyne kan nie vlieg nie en op land is hulle bysiende.
  •  Pikkewyne kom – in hul natuurlike habitat – slegs in die Suidelike Halfrond voor.
  • Pikkewyne se gemiddelde swemspoed is tussen 5 en 10 km/h. Vir kort tye kan hulle wel teen hoër snelhede swem. Soms dolfynswem hulle – dit beteken dat die pikkewyn, soos ‘n dolfyn, die water vir ‘n kort rukkie verlaat deur te spring. Op land waggel hulle – dit lyk maar net vir ons potsierlik, maar dis eintlik ‘n baie energiedoeltreffende manier van beweging. Op ys gly hulle op hul mae.
  • Die enigste pikkewyn wat in Afrika broei, is die brilpikkewyn Hy’t sulke pienk ringetjies om sy oë, vandaar sy naam. Hy maak ‘n geluid soos ‘n donkie wat balk; daarom word hy in Engels die jackass penguin
  • Die swart en wit kleure van ‘n pikkewyn dien as uiters goeie kamoeflering as hy swem. Sy swart rug maak dit moeilik vir roofvisse om hom teen die donker seebodem raak te sien; en sy wit vere laat hom saam met die ligter water op die see-oppervlak saamsmelt.
  • Die algemeenste pikkewynspesie is die macaroni-pikkewyn wat met ‘n windmakerige geel kuif – meer stylvol as Donald Trump s’n – spog. In Engeland is na ‘n man wat baie windmakerig aangetrek is, as ‘n macaroni verwys.
  • Die geeloogpikkewyn (of hoiho) van Nieu-Seeland is die mees bedreigde pikkewynspesie, die keiserpikkewyn van Antarktika die grootste, en die kleinbloupikkewyn (of feetjiepikkewyn) van Australië die kleinste.
  • Afrika-pikkewyne is deel van die mariene groot vyf – die ander vier is die withaai, robbe, walvisse en dolfyne.
  • Daar is tussen 17 en 20 pikkewynspesies in die wêreld. Wetenskaplikes stry nog hieroor.

Waar kom die woord pikkewyn vandaan? Die woord pikkewyn is verwant aan Nederlands (pinguïns), Duits (Pinguine) en Engels (penguin). In Sweeds, Deens en Noorweegs is dit pingvin. Party meen dit is ‘n vervorming van penguigo – dit was die naam wat Spaanse matrose lank terug aan pikkewyne gegee het omdat dit verwys na hul liggame wat so baie vet bevat. Die Walliesers meen weer die naam is ontleen aan pen gwyn (ou Walliese woorde wat ‘wit kop’ beteken en wat na ‘n pikkewynagtige voël verwys wat in die negentiende eeu deur jagters uitgewis is

Wat rym met pikkewyn? Net brandewyn!

Waar is die Afrika-Pikkewyn-en-Seevoël-Sentrum? Op die hoek van Kleinbaai- en Franskraalweg, Gansbaai.

Besoekure: Tussen 9h00 en 16h00 daagliks. Om 15h00 word die pikkewyne en seevoëls gevoer.

Toegang: Gratis

Pikkewyn Reddingslyn: Kontaknommer: 072-598-7117

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 26, 2019 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .