ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KATEL EN KOOI – GOEDKOOP EN MOOI

First published in Die Burger, August 2012

DIE PA VAN ALLE KARAVANE: OLD MACDADDY  LUUKSE KARAVAANPARK, GRABOUW

Dis nie sommer sulke hierjy karavane nie. By die Old MacDaddy Woonwapark staan twaalf Airstream-aliminiumtreilerwoonwaens uit die 1950’s. Elkeen is volgens ‘n speelse tema ingerig en het ‘n aparte Skandinawies-geïnspireerde aangeboude kuiervertrek sowel as modern badkamer met stort met dofgrys sinkplaatmure.

In die Meksikaanse Dirkie Sanchez treilerwoonwa is ‘n stoeikryt; in For Better or for Boerewors is ‘n “varsgebakte” plastiekbrood in die koolstoof, warmwatersakke met stowwerige plastiekblomme teen die muur en ‘n jagtrofee teen ‘n rakkie gemonteer.

Slaap in die oerwoud in “The Dream” wat deur ‘n Henri Rousseau-skildery geïnspireer is; zoem soos ‘n by in “Give Bees a Chance”; verlei jou liefie tussen die kitsch pienk frille en satynkussings in “Mills and Boone”. Die King Midas-treiler is die ene goud; Life Before Colour is monotoon; en daar’s geen prys te wen as jy kan raai watter kleurskema in die Yellow Submarine die botoon voer nie.

In een treiler kan jy skape tel; in ‘n ander, die Grolsch Airstream, is alles magneties en ‘n speldmuur skei die sit- en slaapplek. Private Life of Plants beeld die laboratorium van ‘n botanis uit.

As jy eers hier is, hoef jy nêrens heen te gaan nie. Stap tussen die posbus-naambordjies deur – waar die mis in die winter soos spookasem hang – na die restaurant met sy blonde hout-interieur en onderstebo emmer-ligte.

HANG UIT BY DIE HANGKLIP HOTEL

Dis nie so 'n stywe stappie na Hangklip se vuurtoring nie

Vir die afgelope paar dekades het Hangklip Hotel al so ‘n cowboy-erige gevoel. Met die stilhou in die stof verwag jy om ‘n handvol perde met teuels aan die heining vasgemaak te sien. By die kroeg loop jy wel gereeld ‘n paar eienaardige karakters raak, maar ‘n perd het ek nog nie daar gewaar nie.

Om lank genoeg by hierdie kroeg – en by hul ander kuierplek, Plankies – uit te hang, moet jy by die Hangklip Hotel oorbly. Dis ‘n ondervinding op sigself – en ‘n verrassend aangename een daarby. Al die kamers is oorgedoen en die eetkamer spog met ‘n plafon behang met eksotiese Suzani-lappe uit Afghanistan. Moet net nie koffie (of tee) in die oggend verwag nie.

Dis ‘n kykie op ‘n ander wêreld, dié. In Plankies staan ‘n ou motorfiets met said-kar en bekende bends maak gereeld hier musiek. Buite op die dak baljaar bobbejane of probeer jou Texas-styl hensop as jy na jou kamer stap.

DAAR’S ‘N TREIN NA MATJIESFONTEIN (HOTEL)

Matjiesfontein ís eintlik die hotel. En die stasie en dalk die museumpie en so ‘n paar huise.

Voor James Logan, die eerste eienaar van Hotel Milner, grond hier gekoop het, was Matjiesfontein maar net ‘n treinhalte, nie eers ‘n volwaardige stasie nie. Teen 1899 was Matjiesfontein dié plek om heen te gaan.

Bespreek vooraf ‘n kamer in die hoofgebou van die hotel. Anders kry jy glad nie die gevoel van die hotel self nie – en so het jy ook ‘n beter kans om die residensiële spook op die trappe teë te kom. So ‘n wasige vroue-figuur wat vinnig verbygly. Nee, nee, dit was nie die rooiwyn wat ons visioene laat sien het nie. Bang was ons ook nie – hoewel die bravado dalk aan die wingerdstok te wyte kan wees.

In Laird’s Arms Bar tienkeltonkel John, die energieke kroegman, of van die gaste, die pianola; gou word lustig saamgesing of tydgehou. Die volgende oomblik word al die drinkebroers en –susters op ‘n wa of in ‘n bus gebondel en vir ‘n Kaapse draai deur die dorp – eintlik maar om die blok – geneem. Moenie vergeet om jou fooitjie in ‘n uitgestrekte hand so met die afklim te plaas nie.

Die Shosholoza Meyl vertrek elke oggend om tienuur vanaf Kaapstad-stasie en is veronderstel om halfvier in Matjiesfontein te arriveer, maar wees voorbereid daarop dat dit dalk later kan wees.

SLAAP SOOS ‘N PRINS(ES) IN PRINS ALBERT

Oor die jare het die Swartberg Hotel in Prins Albert sy stylvolle self gebly. Van buite afgewit met tradisionele groen aksente soos vensterrame, hortjies en ‘n riffeldak. Bougaienvilla rank in die voortuin.

Soos dit ‘n opregte plattelandse hotel betaam, is die Swartberg Hotel amper presies in die middel van die hoofstraat. Ook heel betaamlik is daar ‘n tradisionele kroeg en ‘n properse eetkamer.

In die kroeg kan jy stilweg in jou hoekie sit en (maak of jy) lees. So hoor jy al die sappige skinderstories, ook van die hotel (se sogenaamde verkooptransaksie) self.

Prins Albert is seker een van die Suid-Afrikaanse dorpe met die meeste en die beste gastehuise. Was dit nie daarvoor nie, sou die Swartberg Hotel nog veel meer aftrek gekry het, want ‘n goeie plattelandse hotel – soos hierdie een – is óf aan’t uitsterf óf pleinweg skaars.

Prins Albert is die Wes-Kaapse finalis vir Dorp van die Jaar in 2012.

DROOM VAN DIAMANTE IN ‘N DELWERSHUISIE BY NOUP

Noup, Koiingnaas en Hondeklipbaai rol nie sommer van die tong af nie. Plekke met name soos dié is plekke met stories. En dis plekke wat nie naby ‘n groot dorp geleë is nie. Dalk is dit soveel te meer die rede (of een van die redes) om hier uit te kom. Verkieslik met ‘n viertrekvoertuig.

Elke delwershuisie het sy eie karakter en beskrywende naam en is met optelgoed soos skulpe en dryfhout versier. Dis uit klip gebou en hier en daar is ‘n venster of dakbalk turkoois geverf. Die see is reg voor jou en die gemeenskaplike eetkamer agter die ry van nege huisies.

Behalwe die delwershuisies bied Back To Basics verblyf aan rugsakreisigers, kreefduikers en branderplankryers. The Workshop is blykbaar die plek met die beste branders.

  • Vir die delwershuisies: kontak Aletta of Dudley Wessels (wat ook die vereiste permitte om die diamantdelfgebied binne te gaan, organiseer) by 083 286 7080
  • Dit kan moeilik wees om daar uit te kom; gebruik dus die volgende op jou GPS: Oos 17.2029 en Wes -30.1386
  • Vir meer basiese verblyf: skakel Bruce Wessels by 084 964 5856

WORD WAKKER IN ‘N TRONKSEL IN PHILIPPOLIS

Op ‘n wintersnag is dit vrekkoud as jy in die nag moet opstaan en jouself na buite moet begewe om ‘n draai te gaan loop. Maar dan’s dit soveel lekkerder om in ‘n warm bed met ‘n wollerige kombers terug te klim – en net voor jy weer indut, jouself daaraan te herinner dat jy ten minste gekíés het om in hierdie tronk in Justisiestraat te oornag.

Die ou foto’s teen die mure in die selgang en die vrolike eetkamer laat jou wonder hoe die gevangenis daar uitgesien het toe dit nog as opsluitplek gebruik is. Sou elke gevangene darem meer as een kombers gekry het? Hoe warm word dit in die somer onder daardie koepelsinkplaatdakkie in die smal vertrekkie? Kon die gevangenes vir hul familie anderkant die hoë muur skree? Of is dit ook streng gemonitor?

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 24, 2017 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .