ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

My magtig – dis Moskou!

First published in Die Burger: Reis, July 2019

Moskou is 'n 'wow'-bestemming

Moskou is ‘n ‘wow’-bestemming

‘n Besoek aan Moskou is manjifiek. Jy kan na Lenin se gemummifiseerde lyk staar; warm én koue beetsop eet; jouself verkyk aan onbeskryflik mooi ikone; en by moltreinstasies wat aan kunsgalerye herinner, afspring.

Die St. Basilius-katedraal op die Rooiplein in Moskou

Die St. Basilius-katedraal op die Rooiplein in Moskou

Héél eerste moet jy egter – arms omhoog – op die Rooi Plein (Krasnaya Ploshchad in Russies) gaan staan. Laat die gedagte insink dat jy jouself wrintiewaar op hierdie berugte stadsplein bevind. Watwou, die Rooi Gevaar! Deesdae is die enigste gevaar dat jou begroting te min roebels gaan hê.

Eintlik het ‘krasny’ oorspronklik pragtig in ou Russies beteken; eers later is die betekenis van rooi ook daaraan gekoppel.

Slaan jou asem weg

Sint Basil Katedraal is die kersie op die koek as jy op die Rooi Plein staan. Eintlik lyk die katedraal soos die héle verjaarsdagkoek op ‘n kinderpartytafel.

Sint Basil spog met een blou-en-wit streepkoepel, baksteenrooi torings met dun goue kruisies op die punte, geelgroen kriskraspatrone,  en uitsteekknobbels soos draakstertskubbe.

Hoe meer haas, hoe minder spoed. Dis nie heeltemal die geval in Sint Basil nie. Soms tree ‘n a capella-groep genaamd Doros in ‘n kapelkamertjie op. Hul suiwer stemme – veral dié van die hoofsanger – vul die katedraal en vervul hul luisteraars met verwondering gepaard met hoendervleis op die arm.

'n Waatlemoenfontein in die Gum-winkelsentrum gedurende herfs

‘n Waatlemoenfontein in die Gum-winkelsentrum gedurende herfs

Die verkoopsdame in die wandelgang van Gum-afdelingswinkel kon nie voorbly met waatlemoen verkoop nie

Die verkoopsdame in die wandelgang van Gum-afdelingswinkel kon nie voorbly met waatlemoen verkoop nie

Hokaai, systap eers die Gum-inkopiesentrum (uitgespreek Ghoem) en stap na die pienk versiersuikerkerkie aan die anderkant van die Rooi-plein. Die Kazan Katedraal(tjie) is dinamiet in ‘n klein boksie verpak.

Die ingang na die gebou(tjie) waar Lenin in staatsie lê en na die plafon staar, is ook op die Rooi Plein. Hier geld reëls en regulasies wat nie gebuig mag word nie. Soldaatwagte maak seker dat nie ‘n tree uit plek gegee word nie.

Ja, stilstaan en kyk is totaal verbode. Jy móét verbystap, al in die rondte, maar net één keer – g’n niks van stilstaan nie. Ook mag jy nie ‘n enkele woord uiter nie. Die armsalige wagte spandeer die ganse dag deur sjjjt, sjjjt, sjjjttt te sis.

Foei tog, ek kan my net verbeel hoe hierdie soldate deur ‘n besnorde brigadier gemonitor word ten einde vas te stel of hulle entoesiasties genoeg, maar tog suutjies, aanmanings uiter sonder om hul stemme te verhef.

Dit kos fyn beplanning

Sorg dat jy spoedig jou kaartjie vir die Kremlin bekom. Dit het al gebeur dat die Kremlin onaangekondig vir ‘n paar dae sluit of kaartjieverkope vir die dag gestaak word as daar reeds te veel toeriste toegelaat is.

Absoluut niks op deeske aarde kan jou voorberei op die oordadige mooi van en sereniteit binne die katedrale – Oespenski oftewel Katedraal van die Ontslaping van die Moeder van God, Tzerkov Rizpolozheniya oftewel Kleedafleggingskerk en Blagowjesjtsjenski Sobor oftewel Katedraal van Maria se Boodskap (genoem na die boodskap wat Maria van die engel gekry het dat sy aan Jesus geboorte sou gee) – op die uitgestrekte Katedraal-plein midde-in die Kremlin nie.

Af en af, en dieper ondertoe

Bid jou aan, moltreinstasies wat kunsgalerye in eie reg is. Die ene rooi en wit marmersneewerk, gegote glas, mosaïekteëltjies, kristalkandelare, plafonversierings, vergulde porseleinpanele en graniet. Die rewolusie en nasionale helde soos Vladimir Ilyich Lenin en Pieter die Grote; sosialisme; en die lewens van werkers en kleinboere word amper deurgaans uitgebeeld.

Die Metrostroy-projek is in die vroeërige 1900’s deur Stalin aangepak en vir die eerste keer in 1935 geopen. Daar word gesê party van die stasies is so diep onder die grond gesetel sodat dit ook as bomskuilings kon dien. Vir sommige is dit senutergend om só diep met die roltrappe af te daal.

Soos tye verander en die jare verbygaan, sit daar al hoe minder onvergenoegde baboesjka-tannies in uitgetrapte skoene aan die onderpunt van die einste roltrappe. Maar wees gewaarsku: hulle het nie heeltemal verdwyn nie.

Versigtigheid is die moeder van wysheid

SA reisigers is – uit die aard van wat in ons land gebeur – ingestel op hul eie veiligheid. Tog – wees gewaarsku – in Moskou moet jy ekstra bedag wees op sakkerollers, misdadige boemelaars en ander verdomde kansvatters.

Te meer so by die moltreinstasies wat deel van die Goue Ring uitmaak; hier werk die sakkerollers in spanne van drie of vier én hulle is uitgeslape. Een kalant spring in die treinwa waar jy jouself bevind en sms sy mede-boef, want hulle wéét toeriste klim op bykans elke stasie af om die kunswerke mooi te bekyk. Dis ‘n klomp blikskottels – hou jou oë oop en jou handsak toe as jy ‘n kat se kans wil hê om ongeskonde daarvan af te kom.

Tot en met ‘n dekade of wat gelede was ‘n inkopiesteeg soos Arbat die plek waarheen jy gegaan het om baboesjka-poppies (skilpoppies), foppelshoede, halfjêkkies met Lenin voorop en weermagkentekens by kraampies aan te skaf. Nyet, nie meer nie.

Nou is dit die ene ontwerperswinkels – by een wink ‘n kristalskedel, sowat twee meter hoog, met ‘n maniese grinnik.

Amper soos die grinnik op jou eie gesig na jy Moskou platgeloop en probeer verstaan het. Dis nie ‘n plek wat sommer onder jou vel inklim nie – eerder ‘n stad wat jou soms ietwat laat grynslag. My magtig, ons was in Moskou!

Lees ook:
·        Vind meer uit van Moskou: www.moscow.info
·        St Petersburg is net ‘n een uur en vyftien minute vlug of oornagtreinrit ver van Moskou: www.visit-petersburg.ru/en/
·        Suzdal is ‘n dagekspedisie weg van Moskou, maar bied meer as genoeg om ‘n nag of twee oor te bly: www.waytorussia.net/GoldenRing/Suzdal/Suzdal.html

So skryf jy Moskou in Russies, verduidelik Ilse

So skryf jy Moskou in Russies, verduidelik Ilse

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 23, 2020 by in Europa and tagged .