ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Plat, platter, Verneukpan

First published in Die Burger, April 2013

By Verneukpan is jy deel van die groot niks

KUL JOUSELF BY VERNEUKPAN

Verneukpan is so ‘n magiese woord. Terselfdertyd so boers. ‘n Mens kan ook net só lank die woord in jou mond rondrol voor jy maar moet sorg dat jy daar kom.

So gesê, so gedaan. Eintlik is dit my jarelange reisvriendin, Reisgenoot Rachel, wat haar voet neersit. Sy wil opsluit op Verneukpan by ‘n vuur sit, mondfluitjie speel en voel hoe dit vóél.

Kul jou hier, kul jou daar

DSC_0813

Ons weet glad nie wat om te verwag nie. Die webtuiste spog met die tintelende belofte ‘Verneukpan – waar alles gebeur’.  Gmmff, ons het juis gedink hier gebeur niks nie en dit is die aantrekkingskrag van die plek.

Ons sien die droë pan is in die omgewing van Brandvlei en Vanwyksvlei, plekke wat ons nie ken nie. Die oogmerk is om in een dag tot daar te ry hoewel talle (dalk besorgde) vriende ons pertinent inlig dat dit nie moontlik is nie. Nie eers as ons vroeg wegtrek nie.  (Ons het hulle toe wel gewys waar Dawid die wortels begrawe het.)

Voor ons nog die roete uitgewerk het, moet ons darem weet waar en hoe ons gaan slaap. Op die akkommodasieblad kan ons nie hond haaraf maak nie behalwe deur ‘n vorm in te vul en te wag tot ons gekontak word.

Fop jouself dat jy ‘n rol in ‘n fliek gaan vertolk

Met die fynkam van die galery foto’s sien ons twee karavane onder ‘n afdakkie raak. Verder is verskeie aktiwiteite soos motorfietse wat deur vlamme spring en eienaardige driewielkontrêpsies op film vasgelê, maar niks daarvan gaan ons te siene kry nie. Blykbaar word hier ook baie flieks en TV-reekse verfilm.

As jy verkies om nie self tent op te slaan nie – veral as jy, soos ons, in een dag soontoe wil ry – bied die karavane basiese verblyf. Dis nie nodig om jou eie beddegoed saam te neem nie, maar dis aanbevole. Verder moet jy alles anders saamneem wat jy dalk gaan nodig kry. ‘n Allemintige sak hout – wat wel gou uitbrand – kan by die vriendelike boer, Louis Salzmann, gekoop word.

Voet in die hoek

Kort voor sewe vertrek ons uit die Boland, vasbeslote dat ons voor sononder op Verneukpan gaan uitspan sonder om te erg te laat spaander.

Ons draf in by die Agape Plaasstal met sy hartversierde buitegeboue op die N7; eet ontbyt op Citrusdal; ry kruis en dwars deur Nieuwoudtville se strate én drink ‘n vinnige bier in die hotel; gaan kyk die kokerboomwoud buite die dorp; verwyl tyd by Fred Turner se Windpomp-museum in Loeriesfontein (waar ons ook tot ons verbasing twee Boesmans raakloop); swem in ‘n niksvermoedende boer se plaasdam (tjierie tjierie sê die windpomp); eet ‘n ietsie op Brandvlei en kom net-net voor sononder op die platte Verneukpan aan!

Op Loeriesfontein loop ons twee Boesmans raak wat huis toe verlang

Die pad tussen Brandvlei en Verneukpan is uitermate sleg en hier kan jy glad nie voet in die hoek sit nie. Plek-plek is dit duidelik sigbaar dat dit nie te lank terug verspoel het nie.  Om na donker hier te ry – wat ons gelukkig nie hoef te gedoen het nie – moet ‘n nagmerrie wees. Wees dus gewaarsku.

Verdwaal kan jy nie – jy ry amper binne-in die plaashuis vas as jy net heeltyd reguit hou. Ons kon nie tyd verspeel nie, maar dit was ook nie nodig nie. Die sleutel van ons karavaan is aan ons oorhandig; ons streepsak hout is opgelaai en die besorgde boer het sekergemaak dat hierdie twee weet waarvoor hulle hul inlaat.

Geen verneukery nie

Verneukpan self is so seker so ‘n kwartier se ry vanaf die plaashuis. Net mooi as jy begin wonder of die pan regtig so plat soos ‘n pannekoek is en of die bossies nooit gaan ophou nie, staar die groot niks jou in die gesig. So ver as wat die oog kan sien. Plat platter platste.

Kom bly oor in 'n karavaan sodat jy nie jou eie kampgoed hoef saam te ry nie

 

Behalwe die twee ietwat gehawende karavane, die broodnodige skadudakkies teen die brandende son en die getimmerde ablusieblokke, is daar ‘n taklapa. Ons verkyk ons aan die ou skewe kroegtoonbank – dis hier waar die cowboys in die flieks wild en wakker op mekaar skiet. So lyk dit. Dalk kruip John Wayne – of sy kleinseun – hier iewers weg.

Die son sak weg oor die groot niks; ons maak ‘n vuurtjie in die wye oopte; en ons drink te veel rooiwyn. ‘n Mondfluitjie vibreer so af en toe. Salig voel dit om so ver van alles en almal te wees. Hierso beleef jy die natuur op ‘n ander manier – op so ‘n wyse dat dit nie in woorde omvat kan word nie.

Dit raak later lank na middernag terwyl die lekker lékker bly. Op Verneukpan sien jy meer sterre as in enige woestyn, redeneer ons. Dis tjoepstil, dis pikdonker, dis ‘n ander manier van kamp dié.

·        Loer na die webtuiste: www.verneukpan.co.za
·        Moenie vergeet om muskietweerder in te pak nie.
·        Dis beter om laat in die dag daar aan te kom en vroeg genoeg weer te ry, want as die son jou hier alleen kry, gaan jy doodbrand.
·        Dis moontlik om direk vanaf Verneukpan anderkant uit na Kenhardt te ry – die pad is ietwat beter as die pad vanaf Brandvlei.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 28, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .