ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Overdaad in die Overberg

Bly oor in die Arniston Spa Hotel

First published in Rapport, May 2021

Die Klipgat-grot in Walkerbaai waarheen Overlandy jou neem

Arniston Spa Hotel is net so deel van die Overberg as wat “die kalkklippad en Visbekrots en Kassiesbaai se windpomp… deel was van Waenhuiskrans”, soos wat die skrywer Audrey Blignaut (1916 – 2008), ‘n gebore Bredasdorper, dit in haar boek “Die Rooi Granaat” beskryf het.

Arniston, oftewel Waenhuiskrans, een van talle stranddorpe in die Overberg, is die enigste dorp in Suid-Afrika wat met twee name kan spog.

Helder kleure – en bote – by Arniston se vissershawe, ‘n klipgooi van die Arniston Spa Hotel

Die naam Waenhuiskrans (oorspronklik Wagenhuiskrantz) is ontleen aan ‘n seegrot so groot soos ‘n plaasskuur. Dié grot kan met laagwater te voet bereik word.

Nie oranje nie, maar kanariegeel… en blanje, blou

Na die HMS Arniston op 30 Mei 1815 hier gestrand het, het Waenhuiskrans sy tweede naam gekry. Daar was tussen 350 en 400 mense aan boord (bronne verskil hieroor); net 6 het oorleef. Die oorlewendes het kus op gestap en is toevallig deur ‘n boer van die omgewing gevind, waarna hulle per ossewa na Kaapstad geneem is.

Loop deur Kassiebaai in Arniston; daar is nie nog so ‘n plek in Suid-Afrika nie

Arniston is 2.5 uur se ry vanaf Kaapstad.

Waar die Overberg begin

Met genoeg tyd tot jou beskikking is South Hill-wingerde (www.southhill.co.za) in die Elginvallei (dis omtrent hier waar die Overberg begin) ‘n ideale stop om by South Hill Restaurant aan tapas te smul en jou aan die kuns – alles te koop – teen hul mure te verkyk. Moenie nalaat om South Hill se wyne te proe nie.

Akkommodasie is ook by South Hill beskikbaar: ‘n ruim, keurig gemeubileerde gastehuis met slaapplek vir 12 volwassenes; ‘n romantiese wittebroodkothuis en ‘n huisboot met 3 afsonderlike kajuite en 2 sondekke.

Nie te ver van South Hill nie is Almenkerk (www.almenkerk.co.za) waar die uitsig oor wingerde, heuwels en dale genoeg rede is om by dié wynplaas aan te doen. Wag tot jy die Almenkerk Chardonnay of hul rooi versnit, Almenkerk The Flemish Masters, geproe het – dan sal jy telkemale terugkeer.

Die uitsig vanaf Almenkerk

Kies kortpad of draal op die langpad

Afhangende van hoe haastig jy is, kan jy óf die kortste pad met die N2 verby Botrivier en deur Caledon, Napier en Bredasdorp tot by Arniston ry óf ‘n sloertoer deur Hermanus, Gansbaai en die Agulhas Wine Triangle onderneem.

Elke seisoen bied ‘n ander tafereel in die Overberg

Hoe dieper jy die Overberg binnery, hoe meer word die mense op hul byname geken.

Die Overberg is malsgroen in die winter

Audrey Blignaut vertel: “Sonder die Ganse was ons dorp (Bredasdorp) dood. Waarom die Ganse Ganse genoem is, weet ek nie, maar hulle is so genoem en hulle wou nie so genoem word nie. Oom Giel Gans laat toe ‘n kennisgewing in die koerant sit dat enigeen wat weer van ‘n Gans praat, vervolg gaan word. Toe verander die Ganse dadelik in Kwake. Hier ‘n Kwaak daar ‘n Kwaak en al die Kwake saam het nooit ‘n mede-dorpenaar tot voor die hof gekwaak nie.”

Die Overberg is bekend vir skaap, canola en graan

Die kort lont

Moenie Deez op hul ‘buitebaadjie’ takseer nie; binne is dit boheems en knus
‘n Geurige bord uit Deez se kombuis

Beplan jou vertrektyd só dat jy by DeeZ Restaurant in Napier (kyk op Facebook) vir middagete kan aansit. Die eienaar Dee Robinson is die speserykoningin van die Overberg hoewel sy nie net Indiese-, Thai- en Asiese kos in haar restaurant voorsit nie. DeeZ bied ook speserykursusse en gewilde poësie- en vasvra-aande aan.

By Blue House Books (kyk op Facebook) is ‘n wye verskeidenheid boeke oor ‘n wyer verskeidenheid onderwerpe, ook versamelaarsboeke vir boekwurms.

Besoek die Skeepswrakmuseum in Bredasdorp
‘n Gerestoureerde boegbeeld in die Skeepswrakmuseum

Sit tyd opsy vir ‘n besoek aan die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp (www.westerncape.gov.za/facility/shipwreck-museum).

Napier het verskeie restaurante en winkeltjies

‘n Effense ompad

As tyd jou maat is, mik na die Hemel-en-Aarde-vallei. Draf eers in by die Wine Village (www.winevillage.co.za) op die hoek van die R320 waar jy na die vallei afdraai.

Hier is die grootste verskeidenheid van Suid-Afrikaanse wyne onder een dak. Dit gaan maar knor om te kies wat om te los en wat om te vat. As daar egter één bottel is waarsonder jy nie koers kan kry nie, is dit Black Dog Malbec van Paul Wallace Wines (www.paulwallacewines.co.za)!

Bespreek vooraf vir ‘n seisoenale pasmaatete by Creation (www.creationwines.com/); wys ‘n motorbestuurder vir die res van die rit aan.

‘n Pasmaat-ete by Creation is ‘n sensoriese ervaring op alle vlakke

Elke gereg by Creation verras nie net met die kreatiewe konsep daaragter nie, maar ook oor hoe die geure van die wyne by die disse – in kamma voëlnessies of op dofgroen, gekartelde keramiekblare – aansluit.

Vanaf Creation kan jy met met die Hemel-en-Aarde-pas (R320), wat van die een mooi uitsig na die volgende kronkel, aanry tot dit weer by Caledon aansluit.

Drentel deur Hermanus en kyk net watter verrassings hierdie kusdorp alles op

Alternatiewelik kan jy terugry soos wat jy gekom het en met die R43 na Hermanus, Stanford en Gansbaai reis.

Nog plek op jou boekrak? Draf gou by Hemingway’s Bookshop (www.hermanus.co.za/history/268-hemingway-bookshop) in.

Op die Lady Stanford-rivierboot ontdek jy die Kleinrivier en die walle van die rivier
Lady Stanford River Cruises

Sou jou reisplan ‘n aand insluit wat jy in hierdie omtes oorslaap, is daar twee moetdoen-dinge: ‘n vaart met die Lady Stanford-rivierboot (www.xplorio.com/stanford/lady-stanford-river-cruises/) op die Kleinrivier en ‘n 4×4-toer met Overlandy Off-Road Adventures (www.overlandy.co.za) waartydens jy die Walkerbaai-natuurreservaat deur die oë van Lloyd Koppel ontdek. Sy passie is aansteeklik, hy weet presies waar om vir fotogeleenthede te stop en die Klipgat-grot, ‘n Wêrelderfenisgebied, maak deel van die toer uit. Overlandy bied ook ander Overbergroetes aan.

‘n Deel van die Walkerbaai-natuurreservaat

In Gansbaai is ‘n ete by Blue Goose (kyk op Facebook) nie te versmaai nie; dit voel kompleet of jy ‘n weggesteekte juweeltjie ontdek het.

Gansbaai Book Exchange (www.xplorio.com/gansbaai/gansbaai-book-exchange/) het meer as 20 000 tweedehandse boeke oor elke onderwerp onder die son te koop.

Knap buite Gansbaai  bied Fynbos Deck (www.fynbosdeck.co.za/home/) restauranthappies of deli-padkos, jy kan op die strand perdry (bespreek by Gansbaai & Pearly Beach Horse Trails: www.pbhorsetrails.co.za) of strandlangs fiets ry (bespreek by: www.fatbiketours.co.za).

Skink ‘n glasie op die lewe

Vul jou wynvoorraad by Agulhas Wine Triangle aan
Die Agulhas Wine Triangle is veral bekend vir hul witywyne

Nog is het einde niet. Die kelders en wyne van die Agulhas Wine Triangle wag op jou.

‘n Mens kan maklik raai waarom Pierre Rabie een van sy Giant Periwinkle wyne Baardbek gedoop het

Net buite Baardskeerdersbos lê The Giant Periwinkle (www.giantperiwinkle.co.za). Hul wyne spog met name soos Baardbek, Wind Scorpion en Sun Spider. Die bebaarde keldermeester Pierre Rabie verduidelik die Baardbek-wyn só: “Die baard maak die man. Die man maak die wyn. Die naam maak die plek.”

‘n Glas koue witwyn is ‘n aangename verposing by Black Oystercatcher

Na jy deur die Morawiese Sendinggenootskapdorpie Elim (www.xplorio.com/gansbaai/en/about/areas/elim/) gery het, kom jy Black Oystercatcher-wynlandgoed (www.blackoystercatcher.co.za) – met heerlike pizzas by hul restaurant – en Strandveld Vineyards  (www.strandveld.co.za), die mees suidelike wynlandgoed in Afrika, teë.

In die Overberg is ‘n verwelkoming altyd gul

Skemerkelkies in Waenhuiskrans

Die Arniston Spa Hotel is regdeur die jaar gewild
Die uitsig vanaf ‘n seefront kamer by die Arniston Spa Hotel

Sorg dat jy voor sononder by die Arniston Spa Hotel (www.arnistonhotel.com) inklok. Met ‘n skemerkelkie in die hand kyk jy vanuit jou seefrontkamer of die hotelstoep uit oor die oseaan tot by die gesigseinder.

Die witgekalkte rietdakhuisies van Kassiesbaai is ‘n paar treë vanaf die hotelstoep.

Kassiesbaai, ‘n nasionale erfenisgebied, se naam kom vanaf die paraffienkissies wat vanmelewe se dae uitgespoel het. Dié kissies, afkomstig van skeepswrakke, is – tesame met kalk en riete – ingespan om die vissershuisies te bou.

Sit aan vir kontreikos by Wanda’s Waenhuis, Willeen’s Meals of Mien’s Tea Garden (lees meer op Tripadvisor).

Verken die omgewing

Vanaf die Arniston Spa Hotel is Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, minder as ‘n uur se ry.

Die Agulhas-vuurtoring is imposant, met die agtergrond van die son, aldan nie
Die stoep en die rooi-en-wit toring van Agulhas-vuurtoring

Vanaf die imposante Agulhas-vuurtoring kan jy met ‘n plankpaadjie na die suidpunt drentel. Op die suidpunt pryk die Agulhas Icon (www.sa-venues.com/attractionswc/map-of-africa-monument.php) in die vorm van ‘n reliëfkaart van Afrika; ek wil nog die persoon raakloop wat nie opgewonde oor dié monument raak nie.

‘n Wandeling van sowat 20 minute verder lewer die geroeste wrak van die Meisho Maru op. Dié wrak lê so vlak dat jy met laagwater amper bo-op kan klim, maar dit moet jy natuurlik nie doen nie!

Op Struisbaai se hawe
Visvangers, hengelaars en visskieters beskou Struisbaai as hul heimat
Drink ‘n bier by Struisbaai-hawe en kyk na die bote wat in- en uitkom, vis aflaai en duikpakke wat uitgetrek word

By Struisbaai-vissershawe kan jy aan ‘n koue bier teug terwyl jy oor die visserskuite en die kaaitjie uitkyk.

As die see rof is, is die manne van die see maar versigtig

Nog nie uitgelees nie? In Bredasdorp het Fiksie en Fantasie (www.xplorio.com/bredasdorp/fiksie-fantasie/) boeke teen billike pryse vir elkeen se smaak.  

Pryslys:

Arniston Spa Hotel: bed en ontbyt vanaf R1200 vir 2 persone

Verblyf by South Hill

  • Gastehuisvilla met 6 slaapkamers: R8076 per nag
  • Pumphouse-wittebroodkothuis: R1790 per nag
  • Stokies Ark-huisboot: R5000 per nag
  • Geldig 1 Mei-30 September 2021

Lady Stanford: R225 p.p.

Toegang Bredasdorp Skeepswrakmuseum: volwassenes R25, kinders R10

Aromatiese winter-pasmaatete by Creation R495 p.p.

Overlandy Gansbaai – Walkerbaai-natuurreservaat 4×4 Kussafari: R800 p.p.

Pizza by Black Oystercatcher: R95-R125

Arniston Spa Hotel, South Hill Vineyards en Lady Stanford val onder Cape Country Routes (www.capecountryroutes.com).

Koop die koerant – en vars ciabatta – by die mees suidelike kafee in Agulhas

6 comments on “Overdaad in die Overberg

  1. Dr Christa van Staden
    January 25, 2022

    Sjoe, jy maak mens sommer lus om die plekkies te gaan besoek. Ek was al in Struisbaai en na Agulhas se kant toe saam met ‘n vriendin en haar man. Ek is nuuskierig oor hierdie ander plekke en sal dit beslis wil besoek.

  2. ilsez
    January 25, 2022

    Die Overberg het baie om te bied sonder dat dit oorvol raak, Christa. Behalwe vir die kusdorpe het die plattelandse dorpe ook genoeg om ‘n mens besig te hou. Kom maak ‘n draai – jy sal nie spyt wees nie.

  3. Letty-Ann
    January 25, 2022

    Baie goed beskryf en uitgebeeld,Ilse.

    • ilsez
      January 25, 2022

      Dankie, Letty-Ann. Jy weet die Overberg is na aan my hart.

  4. ilsez
    March 21, 2022

    Nog ‘n dankie, Letty-Ann.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 24, 2022 by in Oral(s) in die Overberg.