ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

So kruis pad toe met rare Outa Lappies

First published in Die Burger, February 2012

Gegroet: Outa LappiesAs Outa Lappies glimlag, verhelder sy hele gesig - die ene lewensvreugde

Helaas, Outa Lappies (soos hy homself genoem het) met sy Josefskleed – uit laslappies gestik – is nie meer met ons nie. Daai einste jas het sy dood gekos. Sy kleurvolle jas het aan die brand geslaan en hy het op 7 Julie 2011 aan brandwonde beswyk.

Ons paaie het af en toe gekruis. Êrens op ‘n Karoo-pad met sy karretjie.

Niemand anders het so ‘n karretjie gehad nie. Stukkies glas, vere, los draad en bamboes. Hy’t by sy pa, ‘n rondreisende skaapskeerder, geleer om iets uit niks te maak. Hy het sy laslappie-jas begin dra om mense van armoede bewus te maak. ‘n Jong nefie van hom moes in geskeurde klere kerk toe gaan. As kind het dit ‘n indruk op Outa Lappies gemaak.

Daar was allerhande stories van Outa Lappies. Soos dat hy in ‘n boom gewoon het. Waar ‘n rokie trek, is daar ‘n vuurtjie – hierdie plattelandse kunstenaar-filosoof het vir jare in De Beerstraat in Prins Albert gewoon waar hy ónder ‘n peerboom, versier met sy lanterns en sy wasgoed, geslaap het.

Outa Lappies se lewensfilosofie was:  As jy jou hand boontoe draai – om te bedel – word jy ‘n slaaf; as jy dit na die grond toe draai, word jy ‘n man.

Outa Lappies was ‘n allemansvriend, soos pastoor Willy Joseph ook op sy begrafnis opgemerk het. En ‘n allekatsvriend, want Outa Lappies het bykans dertig katte in die buurt kos gegee. Boonop is hy in 2001 as die Wes-Kaapse Toerisme-Persoonlikheid van die jaar vereer.

Sag in my hart lê ons laaste ontmoeting met Outa Lappies. By Prins Albertweg-stasie, waar die treine nie meer loop nie, klop ons by Outa Lappies se spoorweghuisie aan. Hy wys ons vriendelik rond. Hy vertel met smaak dat hy standerd twee en ‘n half as kwalifikasie het. Trots gaan haal hy sy sertifikaat van die Wes-Kaapse Toerisme.

Outa Lappies vroetel bietjie rond en haal ‘n dik pak briewe van regoor die wêreld uit, van mense soos die koningin van Swede aan wie hy van sy lanterns gestuur het.

Wêreldwyd is daar min ware buitestaander-kunstenaars (outsider artists). Outa Lappies kon Suid-Afrika se naam hoog hou sover dit buitestaander-kuns aangaan.

Die laaste keer wat ek Outa Lappies gesien het, was dit 'n sonnige dag by Prins Albert-stasie

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 19, 2017 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .