ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kos&Wyn – Vanpaste Pasmaats

First published (a re-worked version) in Die Burger, August 2017

(Since this article has been published some details may have changed)

Vir smulpape is daar wyd en syd pasmaat-aande waarin jy jou kan verlustig.

Klok in by Clos Malverne

Knus in glas by Clos Malverne

Knus in glas by Clos Malverne

Kom eet, met ‘n uitsig, bemark Clos Malverne hulself. Graag, koor ons vier wat al sedert 1989 saam restaurante verken.

Die uitsig vanaf Clos Malverne

Die uitsig vanaf Clos Malverne

Dis ook al geruime tyd wat Clos Malverne uitstekende kos-en-wynpasmaat middagetes met seisoenale spyskaarte aanbied.

Met oor-en-weer proe hou ons kosverkiesing.

Sjitake-sampioensop met Parmesaanstrooitjies tree as die wennervoorgereg by Clos Malverne uit die stryd

Sjitake-sampioensop met Parmesaanstrooitjies tree as die wennervoorgereg by Clos Malverne uit die stryd

Die voorgereg wat as wenner uittree, is sjitake-en-sjimeji-sampioensop, gegeur met truffel en roosterknoffel-met-pietersielieroomkaas, en parmesaanstrooitjies waarby Clos Malverne Chardonnay geskink word.

'n Wenkombinasie van biefbrisket, wortelkapokaartappels en sampioenragout

‘n Wenkombinasie van biefbrisket, wortelkapokaartappels en sampioenragout

Die biefbrisket met wortelkapokaartappels en wildesampioenragout tree net-net as nommer een uit die stryd. Daarmee saam is Clos Malverne Pinotage Reserve bedien.

Ons kou(kus) nog steeds oor die Nutella-sjokoladebruintjies met kersieroomys, soutfudgekrummels en kersie-coulis (met Clos Malverne Pinotage Reserve) en die nartjiegeur-melktert met nartjiesorbet, nartjiestroop en witsjokolade-met-pistachio-brosbroodkrummels (met Clos Malverne Honeydew). Dis seker maar tyd vir ‘n koalisie, mymer ons na afloop van die ete.

Die wynpasmaat-spyskaart by Clos Malverne is seisoenaal.

www.closmalverne.co.za/restaurant/

Sout van die aarde by Fleur du Cap

Die ingang van Bergkelder

Die ingang van Bergkelder

Met my onlangse opspoor van Kala Namak-sout raak ek sommer lus om weer ‘n aand by Bergkelder vir hul soute-van-die-aarde en Fleur du Cap-wyne opsy te sit.

Historiese vate by Bergkelder

Historiese vate by Bergkelder

Sjef Craig Cormack is passievol oor sout. Fleur du Cap noem hom hul sout-ambassadeur. Uit die 161 soorte sout wat in die wêreld voorkom, het hy reeds laaie vol in sy eie soutarsenaal.

Craig en Nadia Ferreira van Fleur du Cap is soos ‘n sout-en-peperpotjiestel as dit kom by pasmaats vir soute kies.

Die geurigste sout van die aand – met pasmaats Fleur du Cap Unfiltered Merlot en biefcarpaccio, kersietamaties en parmesaan – was Kala Namak wat gewoonlik in Indiese cuisine en Ayurvediese medisyne gebruik word.

Persiese Blou Sout van Iran het as speelmaats Fleur du Cap Unfiltered Chardonnay en Pastrami-Forel gekry.

Plaaslike Oryx-sout (minder indrukwekkend as die res) is bedien saam met gesoute bief (bottersag met ‘n lekker vetjie by), slaphakskeentjies en Fleur du Cap Cabernet Sauvignon.

Ons sluit af met Noble Late Harvest en sóét kondensmelkfudge besprinkel met rooi Alea-sout van Hawaii.

www.fleurducap.co.za/fleur-du-cap-wines/wine-salt-pairings/

Gaan groot by Groot Constantia

Jonkershuis spreek van ouwereldse styl

Jonkershuis spreek van gemaklike elegansie

Dis nie enige dessertwyn wat ‘n viergangmaal met ewe veel sukses kan inlei én afsluit nie. Die sjefs in die kombuis van Jonkershuis weet egter net hoe om dit te bewerkstellig.

By hoenderlewerpatee en romerige bokmelkkaas op brioche-roosterhappies kies jy self watter konserf daarmee saam vir jou die geurigste gaan proe: appelkoos-en-vanielje, speserybeet,  appelblatjang, amandel-en-heuningpralien of pynappel-en-rissiekonserf.

Veerligte ricotta-gnudi is saam met Groot Constantia Gouverneurs Reserve White voorgesit

Veerligte ricotta-gnudi is saam met Groot Constantia Gouverneurs Reserve White voorgesit

Getroos daaraan dat Grand Constance weer saam met die nagereg ‘n verskyning gaan maak, skuif almal aan die lang tafel gemoedelik aan na die Groot Constantia Gouverneurs Reserve White saam met ricotta gnudi. Gnudi is ‘n soort gnocchi van ricotta wat by Groot Constantia saam met botterskorsie-emulsie, roosterpekanneute, salie-haselneutbotter en spinasie in jou mond smelt.

Koedoe Wellington skryf sy eie resensie met 'n skilferkorspotlood

Koedoe Wellington skryf sy eie resensie met ‘n skilferkorspotlood

Banting-bekeerdes stoot die skilferkorspotlood ietwat teësinnig opsy, maar smul aan gedekonstrueerde Koedoe Wellington met porcini-en-rooiwynsous, geroosterde winterknolgroente, parmentier-aartappels en botterverrykte blomkoolkapok. Gouverneurs Reserve Red is nou op die tafel.

DSC_0545

Die sjokoladenageregbord – met donkersjokolade-en-sitrusterrien, sjokoladefondant met gesoute karamel en glutenvrye sjokoladekoek

Grand Constance kom tot almal se vreugde weer saam met die sjokoladenageregbord – met donkersjokolade-en-sitrusterrien, sjokoladefondant met gesoute karamel en glutenvrye sjokoladekoek – te voorskyn.

Só maak mens as jy sjokoliste – en Grand Constance-aficionado’s – se harte wil wen.

www.jonkershuisconstantia.co.za

Bederf-aand by Walkersons Hotel en Spa, Dullstroom

So lyk dit vroegoggend op 'n oopgetrekte dag as jy by Walkersons gaan forel vang

So lyk dit vroegoggend op ‘n oopgetrekte dag as jy vanaf die hoofgebou/restaurant van Walkersons uitkyk

By Walkersons Hotel en Spa, Dullstroom kan jy nie net (leer om) jou eie forel (te) vang nie; jy kan dieselfde aand daaraan smul. Hul (of jou) forel verskyn met peperwortelroom, snytjies appel en Parma-ham op kruieblaartjies, bedruip met vinkelvinaigrette. Eintlik is die slaai-voorgereg ‘n verrassingspakkie – tussen lagies forel word repies piekelgemmer as’t ware versteek. Dalk verklap ek nou ‘n geheim!

Walkersons het dalk net die lekkerste forel in die land

Walkersons het dalk net die lekkerste forel in die land

Bellingham Homestead Sauvignon Blanc is ‘n perfekte pasmaat hierby – díé wyn blyk verlief op forel te wees, verduidelik die bestuurderes , Kate Christie.

Swartbessie-eend op aartappelkrokette waarby Baleia Tempranillo bedien is

Swartbessie-eend op aartappelkrokette waarby Baleia Tempranillo bedien is

Ver van die huis kom ek agter dat Baleia Tempranillo in my smaak val. Veral saam met brosgebraaide eend geglaseer met swartbessiesous en bedien op aartappelkrokette.

Leer by Walkersons - bedien suursuiker saam met nagereg waarby jy dan 'n goeie MCC skink

Leer by Walkersons – bedien suursuiker (sherbet) saam met nagereg waarby jy dan ‘n goeie MCC skink

Die verruklikste smaakkombinasie van die aand was egter die proeseltjie suursuiker (sherbet) saam met ‘n slukkie Boschendal Grande Cuvee Brut. Die kwadraat-borrelsmaak is ‘n treffer ver bo die waarde van korale.

www.walkersons.co.za/food-and-wine/

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 28, 2020 by in Afrikaans foodies.