ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Mi casa, su casa

First published in Rapport, March 2022

Mi casa, su casa. My huis is jou huis, soos wat die Italianers sê.

Dís net mooi die storie agter Casa Labia, die Italiaanse herehuis of palazzo, in Muizenberg in die noordweste van Valsbaai.

Dié Italiaanse herehuis is in 1929 gebou om as tuiste en Italiaanse konsulaat vir prins Natale Labia (1877-1936) en sy vrou, Ida Louise Labia (1879-1961), te dien. Prins Natale Labia was destyds die Italiaanse konsul in Kaapstad.

Die grond waarop Casa Labia gebou is, was ‘n kanonfort wat as verdediging teen vyandelike skepe of skepe wat daarop uit is om te plunder, in Valsbaai ingespan is.

Wie was prins Natale Labia?

Prins Natale Labia is in 1877 in ‘n klein dorpie genaamd Cerignola in die suidooste van Italië gebore. Net voor sy 30ste verjaardag het hy by die Italiaanse Departement van Buitelandse Sake aangesluit.

In 1916 is prins Natale Labia na die Italiaanse konsul in Johannesburg verplaas. Hier het hy vir Ida, die dogter van Sir Joseph Benjamin Robinson, ‘n bekende mynmagnaat op sy dag, ontmoet; hulle is in 1921 getroud.

Hulle was nie lank getroud nie toe prins Labia as Italië se eerste volgemagtigde minister in Suid-Afrika aangestel is. In 1929 het die prins en prinses besluit om hul eie huis, wat ook as konsulaat van Italië sou dien, in Muizenberg te bou.

Omdat die woning ook as konsulaat gebruik sou word, moes dit uit die aard van die saak ‘n Italiaanse styl handhaaf. Daar is dus op ‘n 18de-eeuse Venesiese boustyl besluit wat deur die Palazzo Labia, ‘n barokpaleis in Venesië wat aan die Labia-familie behoort, geïnspireer is. Die bouwerk aan die konsulaatwoning is in 1930 voltooi.

Ten einde seker te maak dat die afronding en dekor waarlik Venesies is, is ‘n binnenshuise versierder met die naam Angelo Zaniol na Kaapstad laat kom. Angelo Zaniol het so baie van die Kaap gehou dat hy nooit weer na Italië teruggekeer het nie!

Vanuit Venesië is 18de- en 19de-eeuse meubels sowel as skilderye van ou meesters, filigraanglaskandelare, plafonpanele en muurmateriaalbedekkings ingevoer.

In die eetkamer van hierdie Kaaps-Italiaanse palazzo hang ‘n stillewe wat Angelo Zaniol geskilder het; dis een van sy enigste skilderye wat behoue gebly het.

Een van die eerste onthale wat in die nuut voltooide Casa Labia gehou is, was ‘n viering ter ere van die Koning van Italië se verjaardag. Met verloop van tyd, soos wat prins Natale Labia se diplomatieke verantwoordelikhede toegeneem het, is Casa Labia toenemend as ontmoetingsplek vir staatshoofde, akademici en sakemanne gebruik.

Tesame met sy werksverantwoordelikhede het die prins se werkspanning ook toegeneem. Die Italiaanse regeringshoof, Mussolini, se inval in Abessinië, oftewel die Keiserryk van Ethiopië, en Suid-Afrika se dreigement van sanksies teen Italië het tot prins Labia se spanning bygedra. In Januarie 1936 is hy aan ‘n stresverwante hartaanval oorlede.

Na afloop van sy staatsbegrafnis het plaaslike koerante berig dat Prins Natale Labia van Suid-Afrika en sy inwoners gehou het en dat die land en sy mense op hul beurt geheg aan hom was.

Ida Labia kon haarself nie sover kry om langer in Casa Labia te woon of enigsins daar te kom nie. Jare moes verbygaan voor sy weer daar gaan vakansie hou het.

Na Ida se sterfte in 1961 het hierdie praggebou weer leeg gestaan. Daarna is dit eers aan die Kanadese regering en toe aan die Argentynse regering as ambassade verhuur.

Huis, kombuis … paleis

In die 1980’s is Casa Labia as satellietmuseum van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum heropen na die erfgenaam, graaf Natale Luccio Labia (die seun van prins Natale Labia), die huis met sy inhoud aan die staat geskenk het. Sy enigste wens was dat die herehuis ter herinnering van sy ouers bedryf moes word.

In 2008 het Casa Labia weer die eiendom van die Labia-familie geword. ‘n Restourasieprojek van twee jaar is deur graaf Natale Luccio Labia (1924-2016)en sy dogter Antonia Labia Hardres-Williams geloods. In Mei 2010 het die Casa Labia, na die herehuis tot sy eertydse glorie herstel is, weer hul deure geopen.

In September 2020 het Ideas Cartel by die Casa Labia-kultuursentrum betrokke geraak. Tans is daar twee gastesuites waar oornag kan word, werkspasie te huur en The Restaurant at Casa Labia is oop vir die publiek.

Die grootste bederf van ‘n besoek aan Casa Labia is om jou in die oordaad, elegansie en ou-wêreldse styl van hierdie palazzo te verlustig: vergulde spieëlrame, Victoriaanse fluweelstoele, stilleweskilderye, tapyte, porseleinvase en kaggelhorlosies.

  • The Restaurant at Casa Labia

Hoofweg 192, Muizenberg

Oop van Maandag tot Donderdag 08:00 tot 17:00, Vrydag en Saterdag 08:00 tot 21:00 en Sondag 08:00 tot 17:00.

Bespreking aanbevole; dié restaurant is baie gewild – volg net daarna op dat jou bespreking wel ontvang en aangeteken is. Meld of jy in die stylvolle eetkamer, op die stoepterras wat deels oor die see uitkyk of by die tuintafels wil sit – dis moeilik om te kies, want elkeen het sy eie bekoring. 

Bestel liefs ‘n antipasti-peuselbord, al vir jare ‘n gunsteling, of ‘n bief- of hoenderburger; die pasta was teleurstellend.

casalabia.com

facebook.com/casalabiabyideascartel

                                         ***

Die Historiese Myl van Muizenberg

Casa Labia, ‘n nasionale gedenkwaardigheid, maak deel uit van die Historiese Myl van Muizenberg.

Op die Historiese Myl kan jy ook onder andere die volgende geboue sien: Muizenberg-stasie, die Post Huys circa 1673, die ou Poskantoor, die ou Carnegie-biblioteek wat later as ‘n polisiestasie gebruik is en die Papier-Maché-Huis oftewel Yokohama, wat uit Japan ingevoer is. Dan is daar ook Rust-en-Vrede wat deur Sir Herbert Baker ontwerp is en die Rhodes Cottage Museum wat eens Cecil John Rhodes se vakansiehuisie was en ook die plek wat hy gesterf het.

theheritageportal.co.za/article/historical-muizenberg-st-james-walk

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 26, 2022 by in Die res van Suid-Afrika.