ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘N GROEN FEETJIE EN ‘N JAGHOND SPEEL SAAM

First published in Die Burger, November 2011

Die Groen Feetjie met 'n absintlepel

Bloublomsalie, kankerbossie, kougoed – die Afrikaanse name rol van die Engelsman se tong af. Soetklinkende name soos angelica en hisop volg. Boonop ken hy nog al die wetenskaplike name ook – nie dat ek sou agterkom as ‘n foutjie insluip nie.

Roger Jorgenson klink of hy plante eet, drink en slaap. Verkieslik inheemse plante. En veral drink.

Roger is ‘n self-geleerde kruidkundige en ‘n distilleerder van formaat. Op sy klein familieplasie – hy en sy vrou Dawn woon hier – in die hart van Wellington mikro-distilleer hy klein hoeveelhede absint, jenewer, brandewyn (maar nie sommer enige brandewyn nie), en wodka asook verfrissende suurlemoen-, lemmetjie-, en nartjielikeur.

Eers praat, dan proe

By Jorgensen Distillery aangekom, praat Roger so onophoudelik oor sy kruie dat ek dog ons gaan nooit by die proe uitkom nie.

Ons hoor van Afrika- of Natal gemmer wat deur sangomas gebruik word en waarvan hy die grootste privaat versameling in die land het. Gedroogde bergboegoe (een van die plantsoorte wat ook opstandingsplantjies genoem word) wat twee jaar gelede gepluk is, word na ‘n halfuur in die water weer groen. Hiermee moet hulle mos ekspirimenteer om gewasse gedurende droogtes te help oorleef, spekuleer Roger.

Ons kou aan peperige Grains of Paradise (paradyssaadjies). Hoe langer jy kou, hoe meer brand dit tot dit voel of ‘n klein vuurtjie in jou mond aangesteek is, aldus Roger.

Pluk neem tyd

Ons stap na sy buitelug-kantoor. Rye en rye kruie begroet ons. Om die plantmateriaal bymekaar te maak, is meer tydrowend as enigiets anders, vertel hy. Weerskante groei mielies en pampoene – Roger se werkers benut die besproeiing en plant hul eie groentetuintjies.

Roger kneus blaartjies en laat ons ruik; hy vertel van die confetti-bos en van zoethoutwortel; hy raak meegevoer deur die idee van khat (ook miraa genoem) wat in die Arabiese Skiereiland, veral in Jemen, en in dele van Afrika gekou word.

Net waarvoor ons gewag het

Nou’s dit tyd vir proe. Op die stoep van die Versailles-plaashuis wat seker die mooiste uitsig in Wellington het. En dit in die middel van die ietwat stowwerige dorp.

Roger besluit ons begin met sy Primitiv Vodka gemaak van die primitiewe koringsoort, spelt, wat hy uit die Sederberge kry.  Die wodka is sterk, maar terseldertyd ryk en romerig. Soos Roger by sy Noorweegse pa geleer het, bedien hy happies by die wodka. Dis hoekom die Russe en die Skandinawiërs so baie kan drink, motiveer hy. ‘n Happie salm, ‘n teugie wodka. ‘n Happie spelt-brood met plaaslike kaas en atjar, nog ‘n teugie wodka. Roger deel op die daad ‘n resep met ons – hy voeg van sy wodka by ‘n waatlemoen-en-tamatie gazpacho vir ‘n somerse voorgereg met ‘n verskil.

Jorgensen’s Gin spog met ‘n elegante boepensbottel met bonkige rooi en swart  letters. Roger beskryf dit as “gin with an African twist”. Jeneverbessies verskaf die ruggraat van hierdie Afrika-jenewer. Verder kom daar onder andere paradyssaadjies, Kaoko Ohandua perdepram (wat deur die Himba-vroue in Namibië gebruik word om hulself te parfumeer) en Bybelse kalmoes by. Probeer ook jenewer op ys met ‘n skeutjie Angostura Bitters by, raai Roger ons aan.

Saam met die Savingnac arriveer ‘n skyfie bittersjoktert wat Roger self gebak het. Hy blyk ‘n man van vele talente te wees. Ons proe naeltjies, kaneel, marmalade en rosyntjies; ons ruik rose.

Praat en proe vloei ineen

Saam met die proe vloei die geselskap. Dit draai by ras el hanout (‘n Morokkaanse speserymengsel) wat Roger self vir eie gebruik maak. Ons hoor van die Pecha Kucha-aanbiedings in Kaapstad en wil dadelik meer weet. ‘n Gladdemond-Roger probeer ons oortuig hy doen nooit self bemarking nie. Net daarna raak hy opgewonde oor woestynsout wat hy onlangs leer ken het.

Die etikette van altwee Naked Liqueurs beeld die vroueliggaam uit. Naked Lemon is ‘n organiese limoncello en Naked Lime is skerp en uiters verfrissend. Verder eksperimenteer hy met ‘n nartjie-likeur.

Laat die groen feetjie praat

Hierna is dit tyd vir oopoog droom. Met Absinthe Field of Dreams. As jy meer as twee sopies hiervan drink, kom sit ‘n groen feetjie op jou skouer. Dan’s dit sý wat praat, nie meer jy nie. Sy laat haar ook nie voorsê nie. Wees gewaarsku.

Behalwe artemisia absinthium, word anys, vinkel en angelica ook gebruik om die absint volgens ‘n Franse resep uit 1871 te maak. Altesaam is daar vyftien kruie in hierdie bottel. ‘n Absint waar slegs inheemse plante gebruik word, is een van Roger se volgende projekte. Nêrens anders in Suid-Afrika word absint gemaak nie; niks anders laat jou jou inhibisies so verloor as wat gebeur as jy te veel absint gedrink het nie. Vra maar vir die wynmaker en sy vriende wat kaalbas uit Bainskloof huis toe geloop het.

 

HOE OM ABSINT TE DRINK
·        Voeg ‘n titseltjie by vonkelwyn of sjampanje
·        Versoet die absint met ‘n klontjie suiker waaroor water stadig gedrup word

·        Verdun met drie dele yswater en een deel absint

·        Om die absint te verhit en suiker daarin te smelt, is ‘n boheemse gewoonte

 

 

SWAAI SOLANK JOU STERT VIR JAGHOND 12
Een van die dae is Roger se volgende produk waaroor hy amper die mees opgewonde is, ook op die mark. Dis ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Jagermeister wat hy Jaghond 12 gaan noem. Die twaalf verteenwoordig die aantal kruie wat hy gaan gebruik; net een daarvan – die lourierblaar – is nie inheems nie.

 

 

 

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 26, 2017 by in Afrikaans foodies and tagged .