ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘N KOSMOPOLITAANSE AAND IN PHILIPPOLIS

First published in Die Burger, February 2013

Lank terug se Chevie lyk nou soos 'n hoenderhok

Verrassing om elke hoek, draai

Hier raak dit koud. Alles-afvries-koud. Veral met onverwagse sneeu en dan nog ‘n snerpende windjie ook.

Skoon onverwags praat die eerste twee mense met wie ek in Philippolis, 180 km suid van Bloemfontein, praat, Engels. Die Vrystaat is ‘n plek waar die rooinektaal net gebesig word as dit broodnodig is. Of so spot die res van die land se provinsies. Maar ons kom agter dis glad nie hoe sake hier staan nie.

Min het ek geweet dat my aand in Philippolis erg kosmopolitaans sou uitdraai. Ek het darem vooraf geweet dat my slaapplek vir die aand in die tronk – let wel vrywillig – sou wees.

Wie’s wie in Philippolis

Soggens vroeg lui die kerkklok in Philippolis

Philippolis wat amper reg in die middel van Suid-Afrika geleë is, was die eerste nedersetting in die Vrystaat. Dit was die hoofstad van Adam Kok se Griekwas; Emily Hobhouse het hier ‘n skool begin om die lot van die vroue en kinders in die Anglo Boere-oorlog te verlig; en Laurens van der Post is in 1906 hier gebore.

In hierdie dorpie waar net ‘n handvol strate – sommige nog grondstrate – is, kan jy die Ou Kruithuis, Laurens van der Post se skrywershuis en gedenktuin, die imposante NG Kerk en ‘n ou begraafplaas besoek.

Snags – veral op winternagte – voel die sterre nader as in die meeste ander plekke, behalwe miskien Sutherland. G’n wonder Anna Neethling-Pohl het na Philippolis as die “sterre-pluk-dorp” verwys nie.

Sneeu word voorspel

Terwyl – dit was so in die middel van verlede jaar – vragmotors op hul sy in die sneeu lê en motors vasgeys is, sit drie van ons knus by Oom Japie se Huis aan. Vroeër die middag so met die toevallige inloop om na die indrukwekkende boekversameling – almal te koop – hier te kyk, is ons spontaan genooi om die Bastille-aand saam met die plaaslike aandete-klub te kom meemaak. Ek laat my nie twee keer deur Richard (toe nie Japie nie) Proctor-Sims nooi nie! Veral nie toe die kospotte se deksels opgelig word en die geure my sommer vooraf laat lippe aflek nie.

Daar’s ‘n ommekeer aan Philippolis aan die gang – hoewel hier nog baie leë huise te sien is (en hier en daar een wat tans te koop is) – word hier gewoeker om besoekers te lok. By SwartSkaap gaan binnekort ‘n deli oopgemaak word, hoor ek. By JobHuis is ‘n permanente uitstalling van 25 skilderye wat op die boeke van Job en Klaagliedere geskoei is. Ek het nie die vrymoedigheid om aan Rina Coetzee, die kunstenares, se deur op so ‘n koue naweek te klop nie. Hul sê mos spyt kom altyd te laat.

Koud, kouer, koudste

Dis drie grade buite. Dis stilkoud. Daar’s nie ‘n siel op straat nie. Twee koeie kom wei-wei verby die stadsaal, so groot soos ‘n middelklas-huis. ‘n Paar blokke verder daal dit eensklaps net mooi een graad en vir ‘n wonderlike twee of drie minute dwarrel sneeuvlokkies op die voorruit. Net daarna verskyn ‘n reënboog bokant ‘n windpomp in ‘n agterplaas. Die lewe voel soos ‘n lied.

Die ietwat gehawende kroeg by die Philippolis Country Lodge is die bymekaarkomplek van ieder en elk. Die windpomp-mekêniek met sy swart leerhoed, die boere en hul voormanne, ‘n paar jagters. Almal wens sporadies die kroegman geluk met sy verjaardag. En skree verder vir die Cheetahs wat manmoedig probeer speel. Net twee drinkebroers waag dit om vir die Sharks te skree. En dit nog luidrugtig ook. Lyk darem nie of iemand se vuiste jeuk om hulle te herorïenteer nie.

DSC_0942

Van hier na Oom Japie se huis. Lyk my almal wat vanaand hier eet, het vooraf ‘n draai in die kroeg gemaak; blyk so half ‘n instelling te wees, lyk dit.

Franse cuisine in die Vrystaat

Ons word verwelkom asof ons uit die staanspoor op die gastelys was en terstond ‘n glas in die hand gestop. Ons kla glad nie hieroor nie. Oom Japie se Huis het die mooiste kroeg in die Suid-Vrystaat, word ons breëbors meegedeel. Die swart kat spin en knik haar kop.

Die spyskaart oortref ons wildste verwagtinge: Franse uiesop of avokado ritz as voorgereg, coq au vin as hoofgereg, en crème caramel of vrugte-met-roomroset as nagereg. Dan nog Franse kase, Bolandse wyne en Jean d’Orsene Brut (Franse vonkelwyn).

Ons vergeet skoon dis eintlik winter en donker en koud daarbuite. Aan tafel is besigheidsmanne en –vrouens en boere, ‘n wildplaaseienaar, ‘n Russiese bruid, ‘n trotse boere-Jood wat vlot Afrikaans (insluitend idiomaties) praat, twee visskieters – dis net diegene wat aan ons kant van die tafel aan die gesprek deelneem.

Ons praat oor Ayn Rand se boeke Atlas Shrugged en The Fountainhead; ons praat oor die geskiedenis van die dorp; ons praat oor wat was en wat nou weer in Philippolis opvlam; ons praat oor internetverhoudings, en oor Mosambiek. Vanmiddag het orrelmusiek die kamers van Oom Japie se huis gevul; nou sing Edith Piaf in die agtergrond.

Zzzzzz in ‘n sel

Philippolis is roughly halfway between Cape Town and Johannesburg

Môre lê ‘n lang pad voor; dus blaas ons – ietwat onwillig – die aftog. Sel Nommer 1 en Sel Nommer 2 wag op ons. En dit lyk maar spartaan het ons met die uitpak gesien. Ag wat, ons slaap hier vir die ondervinding.  Philippolis se Ou Tronk is al in 1872 gebou en daar is sedertdien nog weinig verander.

Die dik staaldeure swaai langsaam toe. Kort voor lank is ons in droomland; almal slaap vas en van koud kry is daar geen sprake nie. In elke sel is twee enkelbedjies – met genoeg komberse en die storte het vuurwarm water.

Voor ons die langpad – wat toe ‘n ompad word – terug Kaap toe aandurf, drink ons koffie uit emaljebekers met Philippolis se tronk se embleem. Hopelik slaap ek nooit in ‘n regte tronk nie, dink ek toe ek inklim om terug Kaap toe te ry. Maar hierdie tronk was ‘n lekker plek om te oornag.

so-koud-dat-ek-met-hierdie-stewels-geslaap-het.jpg

 

AS JY VAN DIE N1 AFDRAAI NA PHILIPPOLIS:
·         Jy kan selfs tiere in Afrika sien en dit net 25 km buite Philippolis. John Varty is bekend vir sy werk wat hy met tiere doen. Lees meer by: www.jvbigcats.co.za
·        Maak of jy ‘n tronkvoël is en bespreek ‘n sel in Philippolis se Ou Tronk by www.wheretostay.co.za/oldjail/
·        Alternatiewe verblyf is in vier gerestoureerde kothuise beskikbaar by www.starrynights.co.za
·        Moenie Oom Japie se Huis misloop nie. Dis nodig om te bespreek aangesien Oom Japie se Huis nie altyd oop is nie. Lees meer by www.openafrica.org/participant/Oom-Japie-se-Huis
·        In 2013 word daar weer Witblitsfees gehou. Dit sal heel moontlik in April wees. Is jy mans genoeg hiervoor?
·        As jy ‘n boekwurm is, lees meer van Ayn Rand – ‘n Russies-Amerikaanse filosoof en wysgeer – by www.aynrand.org

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 3, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .