ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

GANSBAAI IS ‘N ‘GOOSE’ MET ANDERSTE VERE

First published in Die Burger, July 2013

Gans anderste kusdorpie

DSC_1080

As jy ‘n sweempie fiemies het, moet jy maar soos die meeste mense regdeur die hoofstraat en ander kant uit ry. Gansbaai is ‘n dorp wat jy aandoen om die haaihokke aan te durf; waardeur jy ry oppad na Pearly Beach, Franskraal of Kleinbaai; of waar jy uitspring om broodnodige inkopies vir die naweek aan te vul.

DSC_1081

Die eerste ganse van die baai

Gansbaai se ontstaan is gekoppel aan die HMS Birkenhead wat in 1852  vergaan het. Daar was omtrent 643 mense aan boord; slegs 193 het oorleef. Die kaptein van die Birkenhead het ‘n bevel uitgereik dat vrouens en kinders voorkeur moet kry waar dit die reddingsbootjies aangaan. Slegs drie mans het nie aan die bevel gehoor gegee nie. Sommige soldate wat aan boord was, het daarin geslaag om na die strand te swem. Baie is egter deur haaie opgevreet.

DSC_1085

Die oorlewendes het hul in hierdie omtrek gevestig. Mettertyd is ‘n verwerkingsfabriek vir vaalhaaie gebou.

Witdoodhaaie en ganse

xx.jpg

Met die inry begroet ‘n naambord met grynslaggende haaie en twee ou houtvissersbote jou. Dís juis waarvoor Gansbaai bekend is. Soos wat jy deur die dorp ry, begroet haaihokduik-advertensies jou van alle kante. Gansbaai bemark hulself as die witdoodhaai-hoofstad van die wêreld.

As jy jou nou wel hier bevind – en nie om in ‘n haaihok te klouter nie – is daar ‘n paar plekkies wat jy kan ondersoek.

Gansbaai is een van ‘n handvol plekkies in Suid-Afrika waar jy nog ‘n werkende vishawe kan beleef. Die vars-vis-en-tjips (snoek of andersins) by Gansbaai Vismark is nie te versmaai nie. By die vismark word ook ander wegneem-etes, vars vis en aas verkoop. Dan ook snoekkoppe teen R2.50 elk!

‘n Reuse Lucky Star-visblik sal jou (en jou kroos) laat glimlag. Ander geboue huisves kreef- en perlemoenverpakkers en Dyer Eiland Visserye. Handlyn vissers sit in ‘n ry op die hawemuur en korswel terwyl tjakkies in die water wieg.

By The Boathouse op die hawe se parkeerterrein kan jy iets vir die dors en iets vir die honger nuttig. Net buite die hawe – soos jy die bultjie afry om by die hawe in te draai – is B-Blondes Restaurant en Kunsgalery, Sharky’s Pizzeria en Wegneem-etes en Oppidek Kroeg en Bistro. Hardebaarddrinkers sal die seerower in ‘n rooi jas met swart gordel en groot gespe en met ‘n swaard in sy hand op die venster van Oppidek oombliklik herken.

‘n Groot walvis en baie koekblikke

x

Antiekversamelaars of snuffelaars van oudhede moet ‘n oog gaan gooi by Baai-Gones en Tiekiedraai. Tiekiedraai het verskuif na die hoofstraat vanaf die systraatjie waar hulle eers besigheid gedoen het. Baai-Gones is nie meer soos voorheen elke dag oop nie. Ek wonder of hul al die ou rooi Coke-yskas verkoop het…

Tyd vlieg as jy jouself eers binne-in Tiekiedraai bevind. Tussen die koekblikke, koffiemeule, blou glas, groen glasbottels, implemente, ketels, koekbordjies, swaar swart houtrame en opskepskottels vind ek sowaar Arabiese badsout en lyfpoeier met ‘n 1001 Nagte as tema.

Die vriendelike mense van Tiekiedraai vertel met trots – so asof hulle ‘n aandeel daaraan gehad het, maar eintlik is hul net entoesiasties oor hul distrik – van die walvisskelet wat nou by The Great White House van Marine Dynamics in die plafon gehang is.

Hul entoesiasme is aansteeklik en ek ry dadelik na Kleinbaai om die walvisskelet te gaan besigtig. Die plafon moes spesiaal versterk word om hierdie veertien meterlange skelet uit te stal. G’n wonder nie – die skelet weeg een en ‘n half ton. Dit het drie dae geneem om vir Susan – soos die noorkapperskelet gedoop is – in die dak op te hang.

Sommer vir die lekkerte ry ek ‘n draai by Danger Point se vuurtoring met sy rooi Turkse feshoedjie op. In dieselfde omtrek is die Ligthouse Tavern waar jy voor die kaggel na rugby op die groot skerm kan kyk.

Terug in die dorp kry ek lekker met die lees aan die besighede se name: Vleispaleis, De Seemans Taphuis, Jannas Pannekoekhuis, Goose Bay Verfwinkel en Fish Fever waarheen jy jouself begewe as die viskoors hoog loop. Selfs langs die naambord van die Sjinese winkel is ‘n anker geverf.

Die vooraansig van Rosemary’s verklap nie die geheim van die sielsverkwikkende tuin met sy groot vyebome aan die agterkant van die gebou nie. Tussen die verwronge stamme hang mandjies met plante en orals anders staan emaljeskottels met petunias. ‘n Pienk emaljebad staan op ‘n tafel. In wynvate groei fyn varings. ‘n Fonteintjie murmel langs aronskelke. En dit net knap agter die hoofstraat! Hier kort nog net ‘n paar kwetterende ganse om die prentjie te voltooi.

 

Wat jy nog moet weet:
·        Lees die volledige storie van die Birkenhead by http://www.gansbaai.com/en/about/history/story-of-the-birkenhead/
·        Skakel Tiekiedraai by 028 384 2364 as jy na spesifieke oudhede op soek is.
·        Kry al die inligting oor haaihokduik by http://www.sharkwatchsa.com/en/the-trip/shark-cage-diving/
·        Kyk hoe Susan, die noorkapper, in die dak van The Great White House opgehang is: http://www.youtube.com/watch?v=hQaPlp7-40A

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 5, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .