ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Sloertoer om die Tankwa

First published in Rapport, February 2022

Lus vir die langpad? ‘n Klip in die bos word om die vuur gegooi. ‘n Koor van vier stemme skree uitbundig ‘Ja!’.

‘n Kort koukus laat ons vier dekadelange vriende besef ons was wraggies nog nooit in Sutherland nie. ‘n Deurry, ‘n vinnige koffie, by iemand in die distrik kuier, tel nie.

Dis korte mette om te besluit om ons eie langnaweek te skep en bietjie verder te verken as wat twee dae jou toelaat.

Nie lank daarna nie – toe vat ons die pad.

Matjiesfontein bly mooi

In ons uitgebreide vriendekring geld ‘n ongeskrewe reël dat jy nooit verby Matjiesfontein (matjiesfontein.com) mag ry sonder om vir ‘n drankie – al moet die bestuurder boeretroos bestel – by die Laird’s Arms aan te meld nie.

Oorgeslaap het ons ook al… insluitende een keer toe ons te lank by die kroegtoonbank vertoef het en maar móés oorbly.

Die Lord Milner Hotel se ouwêreldse sjarme taan egter nooit nie; dus boek ons op ‘n Vrydagaand in.

Al die regte boksies word getiek: slaap in die hoofgebou in ‘n balkonkamer wat oor die stasie uitkyk, eet Karoo-tjops in die hoteleetkamer, ‘n laataand-kroegkuier en soek een van die spoke voor in die bed geklouter word.

As jy ‘n sloertoer onderneem, mag niks jou haas nie. Jy moet van die pad kan aftrek net wanneer die gier jou pak.

Op Saterdagoggend verken ons Matjiesfontein se strate. Die eerste foto-geleentheid is sommer reg voor die hotel waar ‘n knalrooi brand-en-redding-lorrie skouers skuur met die ikoniese rooi Beefeater-bus wat altyd daar geparkeer is.

Dit sal maar ‘n geheim bly wie die “bankklerk” in die Dorpskantoor & Bank vriendelik goeiemôre geheet het… dis eintlik ‘n winkelpop met ‘n spoggerige krawat wat jy met die inloop by dié museumpie teëkom.

Om die hoek is Matjiesfontein Transportmuseum (automuseums.info/south-africa/matjiesfontein-transport-museum) nie te versmaai nie. Hier is van ‘n Penny Farthing (tiekiewawielfiets) tot ‘n middernagblou Chrysler en ‘n glimswart Rolls-Royce, ‘n Royal Daimler uit 1947 wat aan Lanzerac-wynlandgoed behoort het, ‘n stoomtrein met treinwaens en lykswaens te sien.

‘n Entjie verder in die pad af is ‘n kerkie wat lyk of dit met pienk versiersuiker bedruip is. Gaan loer binne as die deur oopstaan.

Besoek ook die Marie Rawdon-museum met sy Victoriana-versameling én ander ongewone items en drentel op Matjiesfontein se treinstasie rond.

Vat grond

Nóú was ons lus vir grondpad ry. Dus het ons die hoofpaaie misgery en met kronkelende gruispaaie vir ure aaneen gery. Plek-plek het selfs ons GPS-toestel ons mislei; tyd was gelukkig nie ‘n faktor nie.

Ons missie was om by die Tankwa Padstal vir iets kouds aan te doen. So gesê, so gedaan – 140 km later!

Tankwa Padstal (facebook.com/tankwapadstal/) lê op die langste ononderbroke grondpad, die R355, tussen twee dorpe, Calvinia en Ceres, in Suid-Afrika. Daar is basies niks anders tussenin nie, behalwe afgeleë plase.

Tankwa Padstal dien as kroeg, winkel, optelpunt en toerismekantoor – kyk uit vir die vlieënde piering wat saam met motorfietsers, boere, reisigers sonder rigting en Afrikaburners hier aangedoen het! Verwag die onverwagte; dié padstal is al beskryf as “extraordinary… eccentric… all walks of life…  You feel the soul of the farm and the decadence as an apocalypse… yes the chaos is under control and in style… (!)”

Calvinia is nie kaal nie

Vanaf Tankwa Padstal was dit nog sowat 200 km – of twee en ‘n half uur– se ry tot by Calvinia. Twéé pap wiele later – of drie as jy die groepie vroue bytel wat ons met hul pap wiel bygestaan het – was dit knap voor donker toe ons by die plaaslike hotel aankom.

Die R355 is inderdaad ‘n berugte klipperige sinkplaatpad – pak die pad met ‘n robuuste voertuig aan en pak maar ‘n ekstra spaarwiel in. Op ‘n vorige sloertoer het ons voertuig in een dag drie pap wiele gehad alhoewel ons stadig genoeg én versigtig gery het.

Calvinia is vernoem na die Franse godsdienshervormer Johannes Calvyn; ja, die einste een wat so baie van ons só geneigd tot wróég maak.

‘n Besoek aan Calvinia beloon jou eerder met helder sterre, hul Blomposbus van meer as 6 meter hoog en die Calvinia-museum wat in die voormalige sinagoge met sy art-déco-boustyl gehuisves word.

Ons het in die Calvinia Hotel oorgebly; hoewel ons beplan om na die dorp terug te keer, sou ons liefs volgende keer in een van die talle gastehuise inboek.

Calvinia Magic Garden (kyk op Facebook) het ons goedgunstelik toegelaat om deur hul feetjietuin en boheemse vertrekke te drentel; dís nou ‘n plek waar sloertoerders wat van ‘n anderste plek hou en wat lief is vir baldadige kleur, moet oorslaap.

By Die Blou Nartjie (nartjie.co.za/restaurant) gaan ons wéér eet, het ons al vier onderneem.

Die middeweg word nie bewandel nie

Die gehuggie Middelpos is regtig in die middel van nêrens. Oversetgesynde, dis amper ewe ver van Sutherland en Calvinia, met niks tussenin nie, en lê op die R354.

Juis daarom het dit ‘n aantrekkingskrag wat nie mooi in woorde omgesit kan word nie.

Sou jy nie genoeg sloertoerdae tot jou beskikking hê nie, kan jy in óf Calvinia óf Middelpos oorslaap.

Ons oorspronklike plan was om op Middelpos te fokus.

Ongelukkig het Middelpos Hotel weens die hotelbestuur wat covid gehad het, toegemaak. Ons moes dus alternatiewe planne beraam.

Ons het egter nie ons geld teruggekry nie alhoewel ons op ‘n later stadium weer kan bespreek (ons het weliswaar nie die opsie aanvaar om in ‘n gastehuis te bly en self kos te maak nie). Dit blyk ietwat opportunisties van hulle kant te wees aangesien die hotel ons bespreking gekanselleer het en dit nie maklik bereikbaar is, maak nie saak waarvandaan jy kom nie.

Benewens Middelpos Hotel is daar ‘n polisiestasie, posagentskap, Die Winkel en Middelpos Diensstasie – Wiel en Siel.

Op die hotelstoep het poue vir ons poseer; ons het onbedaarlik gegiggel vir kennisgewings op die winkeldeur wat lui: “Die ma wie se kind weer aan hierdie ruit suig, moet dit asseblief kom skoonmaak!!” én “Geen diens aan pajama lopers. Ons neem aan jy loop in jou slaap en weet nie wat jy doen nie, so kom koop maar weer as jy wakker is.”

Aanstoot, Rooies, die pad is lank… en mooi

Vanaf Middelpos het ons kruie-kruie met die grondpad langs tot by Blesfontein-gasteplaas (www.blesfontein.co.za) buite Sutherland se afdraai gery.

Almal wat ons ken wat vantevore by Blesfontein gebly het, was liries oor hul gasvryheid; dís juis hoekom ons hier bespreek het.

Blesfontein is ‘n werkende plaas met perde, alpakas, vriendelike honde en katte en twee zebras. Sommer met die aankom is die verwelkoming so gul dat jy voel of jy hierdie plaas se mense al jou lewe lank ken.

Hoewel ons gekies het om net te ontspan en na die vlamme van ons braaivleisvuur te staar, bied Nicol van der Merwe van Blesfontein ook sterrekykaande, gekenmerk deur volslae entoesiasme, aan. Jy kan ook aandetes by Blesfontein bestel, sou jy nie lus wees om self kos te maak nie.

Die uitsig vanaf die eskarpment op die plaas strek oor die hele Tankwa-Karoo; dis een van die mooiste uitsigte wat ek nog in ons land gesien het. Dit het ons genoop om twee keer soontoe te ry – met sonsondergang én die volgende oggend.

In hierdie omtes raak dit bitterlik koud in die winter met sneeu wat diep lê; dit is omtrent iets om te aanskou. Warm alpakasokkies om te help teen die koue – sowel as Karoo-biltong – kan bestel word as jy jou verblyfbespreking maak.

Sutherland, dorp van sterre en sneeu

Die meeste besoekers aan Sutherland kom vir die Sutherland Planetarium (sutherlandplanetarium.co.za) en/of die Sutherland-sterrewag (saao.ac.za). Om teleurstelling te voorkom, moet jy lank vooraf bespreek en die res van jou sloertoer daarvolgens organiseer.

By die Planetarium kry jy ‘n fenomenale 3D-ruimte-ervaring; jy voel asof jy in die ruimte is en jy sien die hemelliggame van naby. Jy kan ook deur middel van jou slimfoonpasstuk jou foon aan hul teleskoop koppel en foto’s van die kraters op die maan neem.

Besoek ook die NP van Wyk Louw-museum, vergaap jou aan die imposante NG Kerk, sit langs ‘n geel taxi en ‘n trekker in die binnehof van Boorgat Restaurant (boorgat.com) waar die leuse “Kaalvoet Vriendelik” is, en drink warm sjokolade met rum, wat jy apart moet bestel, by The Blue Moon (bluemoonrestaurant.co.za).

4 comments on “Sloertoer om die Tankwa

  1. selmaohlsson
    March 23, 2023

    Makes me want to go there right now! What a fabulous time you spent exploring on of our fav areas!

  2. daisyopdiestoep
    March 26, 2023

    Oe, ek het hierdie skrywe nou so geniet. Ons het nie dieselfde pad as julle gery nie, maar was wel laasjaar op Matjiesfontein en Sutherland. Dis so mooi daar. Jou reis het nou herinneringe by my opgeroep.

  3. ilsez
    December 30, 2023

    Dankie daisyopdiestoep! Ek maak myself sommer lus om met my motor die pad te vat. Sommer vir sommer. Veilig ry as jy weer in ‘n rigting mik.

  4. ilsez
    January 7, 2024

    Nothing beats a road trip! selmaohlsson

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 22, 2023 by in Die res van Suid-Afrika.