ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

The Showroom Theatre in Prins Albert

First published in Die Burger, January 2014

Ouwêreldse glans herleef

'n Pragtige ou gebou kry 'n nuwe baadjie

Daar sal altyd doemprofete wees wat die taan van teatergehore voorspel, maar solank daar boergonje fluweelgordyne bestaan, sal dit opgehang word.

Soos nou in Prins Albert met die splinternuwe The Showroom, net so twee deure van die NG Kerk af in Kerkstraat.

Die kaartjies vir die vertoning op die openingsaand in November 2013 is in ‘n japtrap uitverkoop. So ook die volgende aand én die daaropvolgende aand se kaartjies. Al drie vertonings was deur Nianell.

Eens was hierdie pragtige art deco-gebou ‘n motorvertoonlokaal voor en ‘n werkswinkel aan die agterkant.

As jy nou na die rye en rye dieprooi wegsinkstoele, die muurpanele en die dakbeligting kyk, kan jy jou nie indink dat hier eens oliekolle op die vloer was en spanners rondgelê het nie. Waar eens mans in oorpakke kragwoorde gebesig het (of so stel ek my dit voor), gaan daar nou opgetofte teaterliefhebbers kom sitplek inneem.

Voor die droom van The Showroom gerealiseer het (maar ná die era van die werktuigkundiges en verkoopsmanne), was hier ‘n restaurant, kroeg en kuierplek ineen.

Die boere van die distrik en die dorpenaars het hier kom eet, drink en rugby kyk, Hulle vertel lang stories van “fênsierige paarties” en ‘n berugte boemelaarspartytjies wat tegelykertyd hier gehou is.

Een of twee fris boere probeer my wysmaak daar het selfs af en toe ontkleedanseresse hier opgetree, maar dit klink na ‘n wolhaarstorie. Veral as dit so laataand vertel word.

Blink gepoets vir die eerste gaste

 

Wat ook al in die afgelope paar dekades tussen die vier mure van hierdie statige ou dame gebeur het, behoort nou aan die verlede. The Showroom se nuwe tabberd getuig van outentieke elegansie. In die week voor die amptelike opening is alles gepoets en gepolitoer, blinkgevryf en opgedollie. Jy kon jou eie weerkaatsing op die vloer sien, daar was nie ‘n stoffie te bespeur nie. Die twee voorste rye in die teater het gespog met ‘gereserveer’-skouerkussings en die kandelare in die voorportaal het gevonkel.

Op 22 November neem die eerste teatergangers hier plaas

Daardie selfde fris boer vertel ‘n uitgerekte storie van ‘n Chevvie wat “‘n week se trêvil” nodig gehad het om van Prins Albert na Mosselbaai te reis. Die nostalgie neem oor toe hy terugdink aan hoe hulle as jong manne hul motorfietse hier vol brandstof gemaak het.

The Showroom ontlok nostalgie van ‘n ander aard. Ek kan in my geestesoog teatergaste in stolas en polvye sien arriveer. ‘n Paar klim uit veteraanmotors wat blink in die laatmiddagson… Dan sien ek ook ‘n Karoo-dorp wat ‘n opwindende nuwe era met hul unieke teater binnegaan.

  • Bespreek jou sitplek: Gaan kyk op hul Facebook-blad (www.facebook.com/The-Showroom-Theatre-398805090242244/) vir meer inligting oor die teater se program. Jy kan ook hier kyk na foto’s van hoe die restourasie van die gebou – en die openingsaand – verloop het.

weerskante-van-die-verhoog-pryk-hierdie-muurskildery.jpg

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 21, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .