ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Raak verlief op ‘n lokomotief

First published in Rapport, December 2017

Soos wat die trein ry, hang baie mense by die vensters uit om te sien hoe die lokomotief stoom uitblaas

Soos wat die trein ry, hang baie mense by die vensters uit om te sien hoe die lokomotief stoom uitblaas

Daar’s ’n trein – toe-toe-toe, toe-toe-toe, daar’s ‘n trein…

Refreine van dié liedjie hoor ‘n mens kort-kort soos al die passasiers op die Ceres-Kaapstad-Ceres treinrit van treinwa na treinwa loop en hul verkyk aan hoe elke wa ingerig is. Sommige treinwaens lyk soos sitkamers; ander bestaan uit kompartemente met glimmende blou kunsleersitplekke; daar is ook ‘n eetwa met donkerhouttafeltjies en houtpilaarafskortings sowel as twee treinwaens met kroegtoonbanke.

Hier en daar neurie iemand “Tussen treine en stasies” nog vóór hulle ‘n glas vonkelwyn in die hand het.

Uit pure nostalgie kloek baie passasiers aan die begin van die rit in die eetwa saam waar koffie,  kolwyntjies en toebroodjies bedien word.

Haar naam is Dominique en sy is 'n pragtige, elegante lokomotief waarop Ceres Rail Company baie trots is

Haar naam is Dominique en sy is ‘n pragtige, elegante lokomotief waarop Ceres Rail Company baie trots is

Ceres Rail Company wat hierdie treinritte reël, besit vier glimmende swart lokomotiewe. Elkeen met hul eie naam: Dominique #3322 en Jessica #3321 is Klas 19D-lokomotiewe en hulle staan bekend as die tweelingsusters; Bailey is ‘n Klas 19B-lokomotief en die Rooi Duiwel is ‘n (1981) Klas 26 en enig in sy soort.

Ek kan nie kop of stert uitmaak van die nommers en klasse nie, maar heelwat van die passasiers wat saam met my op die treinrit (met kersies van Cherry Time as tema) is, weet presies wat dit beteken.

Ingelig of nie, ál die passasiers op die trein is vurige treinentoesiaste.

Dit het alles begin toe Derick du Toit van Ceres die visie gehad het om die Ceres-spoorlyn te laat regmaak. Vir Derick en sy vennoot, Simon Beckett, was die doel hiervan tweeledig: om vrag per spoor eerder as pad te vervoer en om Ceres se toerisme ‘n inspuiting te gee.

Die eerste voorlegging is in 2002 gedoen, in 2004 het onderhandelings met Transnet begin en in 2014 het die finale goedkeuring plaasgevind.

Ceres Rail Company het ‘n permanente span waaronder ons masjinis, Cassie Carstens, en heelwat vrywilligers wat onder andere die kroegtoonbank beman. Almal is barstens van trots om by die projek betrokke te wees en deel al te graag inligting en stories oor die lokomotiewe en die roetes.

Almal wat op Ceres Rail Company se treine werk, is so trots en passievol oor hul werk dat 'n mens trane in jou oe kry

Almal wat op Ceres Rail Company se treine werk, is so trots en passievol oor hul werk dat ‘n mens trane in jou oe kry

Op my vraag hoe lank laas hy stoomlokomotief gery het voor hy by Ceres Rail Company betrokke geraak het, antwoord masjinis Cassie net: “Ek’s gebore op dié goed.” Net daar skiet my oë vir die hoeveelste keer op die trein vol trane.

Cassie Carstens, die masjinis

Cassie Carstens, die masjinis

Net mooi almal op die trein was geraak deur die ervaring. Sommige passasiers neem onophoudelik foto’s, ander hang kort-kort by die vensters uit, ouers vertel aan hul kinders stories van vervloë dae se treinry terwyl sinjale en perronne verbyflits, ieder en elk verkyk hul aan die swart rook wat by die lokomotief uitborrel en almal maak beurte om voor Dominique afgeneem te word toe ons uitklimgeleentheid op ‘n stasie kry.

Die kontantkroeg op die trein doen flink besigheid, maar dis nie waarom daar so jolig in die treinwaens gekuier word nie – dis van pure lekkerkry.

Die Chileense digter en Nobel-pryswenner Pablo Neruda het geglo ‘n mens moet nooit die innerlike speelsheid van ‘n kind verloor nie.

Nog 'n gelukkige passasier, Esna Swart van Agulhas, van Ceres Rail Company

Nog ‘n gelukkige passasier, Esna Swart van Agulhas, van Ceres Rail Company

Dís wat ek op Ceres Rail Company se treinrit sien: ‘n groep van sowat 120 mense wat nie almal mekaar ken nie, maar wat hulself verlustig in ‘n treinry-ervaring en wat uitbundig daaraan meedoen. Dis ook waarom ek met ‘n ligter hart van die trein af klim. En nie kan wag om weer saam te ry nie. Toe-toe-toe toe-toe-toe…

Gereelde treinritte

Kaapstad-Ceres-Kaapstad: Vertrek vanaf die Royal Cape Yacht Club om 7h30. Oppad na Ceres ry die trein deur Wellington, die Nuwekloofpas, Wolseley en die asemrowende Michell’s Pas. Middagete is by Ceres Gholflandgoed (voorafbespreking noodsaaklik teen ‘n addisionele koste van R150) waarna die trein na Kaapstad terugkeer. Om 18h30 is jy terug by die seiljagklub.

Kaartjies kos R800 per persoon en R500 per kind.

Wolseley-Ceres-Wolseley: Die dagekspedisie-trein vanaf Kaapstad stop op Wolseley-stasie sodat passasiers die kort – maar onvergeetlike – treinrit deur die Michell’s Pas kan onderneem.

Kaartjies kos R250 per persoon en R200 per kind.

Spesiale treinritte

Ceres-Mosselbaai-Ceres: Hierdie treinrit duur vier dae en drie nagte. Die trein ry deur Wolseley, Worcester, Robertson, Ashton, Bonnievale, Heidelberg, Riversdal en Albertinia.

Kaartjiepryse begin by R6500 per persoon; dit sluit akkommodasie vir drie nagte en alle maaltye in.

Ceres-Bredasdorp-Ceres: Hierdie treinrit word vir vroeg in 2018 beplan. Hou Ceres Rail Company se Facebook-blad of www.ceresrail.co.za dop vir meer inligting.

3 comments on “Raak verlief op ‘n lokomotief

  1. selmaohlsson
    October 3, 2019

    Still got to do this! You’ve made me more lus now!

  2. ilsez
    October 23, 2019

    You will ABSOLUTELY LOVE this, Selma. Go as soon as you can. I’ve been twice and can’t wait to do it again. Truly truly truly!

  3. ilsez
    December 25, 2019

    So: have you been by now, Selma? You can thank me later…

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 2, 2019 by in About trains / Oor treine and tagged .