ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Jippie – ons is in Joubertina!

First published in Beeld, September 2017

(Since this article has been published some details might have changed)

Joubertina – hier is die hartklop

Met die instap by die Appelkas Geskenkwinkel begroet 'n toneel van die omgewing jou

Met die instap by die Appelkas Geskenkwinkel begroet ‘n toneel van die omgewing jou

‘n Mens gaan Joubertina toe omdat jy iets daar moet gaan doen. Of met die deurry verken jy gou ‘n indrafplek of straat of twee.

As jy meer tyd hier spandeer, kom jy agter hoe die hart van die hárt van die Langkloof – tussen die Tsitsikamma-berge en die Kouga-berge in die Suidoos-Kaap – klop.

Joubertina het sy ontstaan aan die vrugteboere te danke. Die dorp is in 1907 gestig. Tóé was dit bekend as Joubertville, later eers as Joubertina.

In die middel van die dorp by Joubertina se ou stasie is ‘n ietwat gehawende lokomotief as ‘n gedenkteken gemonteer. Dis ‘n hartseer herinnering aan die legendariese Appeltrein, ‘n smalspoorlokomotief wat appels en ander vrugte vanaf die Langkloof na Port Elizabeth, die naaste groot hawe, vervoer het, maar wat al jare nie meer in gebruik is nie.

Deesdae sien ‘n mens in appelseisoen al met hierdie deel van Roete 62 langs kratkarretjies (of ‘bin-waens’ soos die boere dit noem) skud-skud met vragte appels ry. Dit laat my onwillekeurig aan Enid Blyton se verbeeldingryke – en later kontroversiële – boeke oor Knikkie (Noddy in Engels) dink. Knikkie se motortjie was weliswaar geel en rooi met ronde uitpeulligte, maar ek verbeel my hy het ook so waggelend op en af tussen bome gery.

Roete 62 loop deur Joubertina oftewel bokant die dorp deur. Langs die pad – op die hoek van Roete 62 en Ferreirastraat – is die Joub’s Gebou – hulle het Wifi – met die Diner R62 Restaurant (ook bekend as Joubs), die Winery R62 Wynwinkel en die Appelkas-geskenkwinkel.

Die vloere van Diner 62 is beskilder met Midde-Oosterse kelims wat so eg lyk dat jy fyn trap om nie oor die fraiings te struikel nie. Die pizza-oond sorg dat die restaurant knus en warm is; die diens is vriendelik en die kos is goeie trooskos. Teen een muur is ‘n kleinerige wynrak waar jy self jou wyn – teen baie billike pryse – kan gaan kies.

Die mure van die Winery@R62 Wynwinkel is met verskillende blinkgepoetste wieldoppe bedek en daar staan ‘n Italiaanse Vespa-motorfietsie soos wat jy by die deur inkom. Hier is meer as 400 wieldoppe wat uit die 1940’s tot 1980’s dateer waarvan baie hul eie storie het.  Dis nie ‘n winkel vir petrolkoppe nie – dit lyk soos ‘n moderne kunsuitstalling en min mense kry dit reg om sonder ‘n bottel of ses onder die arm uit te loop.

By die Appelkas is hekel- en breiwerk, teepotte met hasieknoppies op hul dekseltjies, konfyte en soetkoekies, oorgetrekte hangers en baie ander geskenke. Soos jy inkom, begroet ‘n naïewe kunstoneel – wat die plase, plaashuise, landerye, berge en ‘n kerkie van die omgewing uitbeeld – jou.

Soos vele dorpe regdeur Suid-Afrika het Joubertina ‘n imposante NG-Kerk wat uit klip – uit die omgewing afkomstig – gebou is. Die geelhoutbanke en die res van die houtwerk binne-in die kerk is met ossewaens vanaf Knysna – oor die Tsitsikamma-berge – tot hier gebring.

Aan die ander kant van die dorp is die Langkloof Country Club. Hier’s nog ‘n kroeg soos wat ‘n kroeg in die ou dae gelyk het en ‘n restaurant wat sappige biefstuk en tjips bedien.

‘n Laaste rede om na Joubertina te gaan: Ek het ‘n voëltjie hoor fluit daar is nie eers een spietkop op Joubertina nie. Ek het ook nie ‘n verkeerslig bespeur nie.

Die volgende dorpies en gehuggies is na (genoeg) aan Joubertina: Krakeelrivier, Louterwater, Misgund, Haarlem, Avontuur, Uniondale, Kareedouw, Humansdorp en Jeffreysbaai.

Haarlem lê 66 kilometer van Joubertina af op die R62 in die rigting van George.

Haarlem is ‘n piepklein dorpie waar die meeste van die inwoners op landbou staatmaak om ‘n inkomste te verseker. Daar word vertel dat dié plekkie oorspronklik só deur Nederlanders gedoop is omdat hulle met heimwee aan hul eie land teruggedink het. Duitse sendelinge het in 1860 ‘n sendelingstasie hier gestig.

Haarlem spog steeds met die pragtige Lutheraanse Sendingkerk wat in 1880 gebou is. Gaan loer na die lieflike kerkorrel as die kerk oop is.

Die Evangelies Lutherse gemeente van Haarlem sluit die gemeentes van Avontuur, Misgund en Louterwater in en het in 2010 die gemeente se 150ste en die kerk se 130ste verjaardag gevier. ‘n Spesiale gedenkplaat wat by die kerk aangebring is, lui: “Tot hiertoe het die Here ons gebring.”

As jy nie bang vir spoke is nie en  besluit om ook in Uniondale ‘n draai te gaan maak, ry jy met Uniondale Poort langs.

In Uniondale Poort, ‘n bergpas wat ook as Queenstraat bekend staan, begroet imposante rotsformasies en klein watervalletjies in die reënseisoen jou.  Êrens is jy veronderstel om twee rotsformasies raak te sien wat na die gesigte van onderskeidelik Koningin Victoria en Paul Kruger lyk. Kyk maar of jý dit – met meer as ‘n goeie skeut verbeelding – raaksien.

George en Port Elizabeth is onderskeidelik een en ‘n half uur se ry – in verskillende rigtings – vanaf Joubertina. Die Baviaanskloof Wildernisgebied is ook sowat een en ‘n half uur vanaf Joubertina.

Verblyf in Joubertina

  • Le Bocage Gastehuis het lieflike kamers, onverbeterlike diens en ‘n pragtige uitsig vanaf die agterstoep oor die omringende berge. Hoogs aanbevole.

www.lebocage.co.za

  • Die Kraaltjie het selfhelp-kothuise sowel as ‘n karavaanpark. Daar is ook ‘n restaurant met vriendelike diens en heerlike ontbyt.

www.diekraaltjie.co.za

Besigheidsure by die Joub’s Sentrum

Diner R62 Restaurant

Maandae: 7h30-15h, Dinsdae-Saterdae: 7h30-21h00, Sondag: 9h00-14h00

Winery@R62

Maandae-Vrydae: 10h00 -18h00, Saterdae: 9h00-14h00

Appelkas Geskenkwinkel

Maandae-Vrydae: 8h00 -17h00, Saterdae: 8h00-13h00

As jy meer oor Joubertina-distrik wil weet:

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 18, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .