ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

VIES VARKE WORD NIE VET NIE

First published in Die Burger, 

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

'n Vark en 'n skaap is boesemvriende

Oftewel, ‘n mens moenie te kieskeurig of uitsoekerig wees nie. Die arme otterjasies loop gewoonlik deur as dit by sêgoed van varke kom. In die volksmond is iemand so vuil (of vet) soos ‘n vark, tree soos ‘n vark op, is ‘n regte padvark.

As jy eers die storie van die drie klein varkies ontgroei het, steur die meeste mense hulle nie veel aan enige ot nie. Tog is daar van ons wat dink ‘n varksnoet vra vir ‘n klapsoen en ‘n krulstertjie is net te oulik.

Meer as drie varkies

By Majeka House se vyfster-verblyf in Stellenbosch verwag jy nie regtig om ‘n swetterjoel varke te sien nie. Met die instap groet Dominic jou – weliswaar nie met ‘n oink nie. Die span by Majeka het die naam Dominic gekies omdat hulle nie weet of die lewensgrootte houtvark – met ‘n skinkbord op die rug – ‘n sog of ‘n beer is nie. Dominic het twee takies: om gaste welkom te heet en om die wyn by die ingang na Makaron Restaurant te bewaak.

So gelukkig soos 'n vark in Palestina

Nog ‘n hele paar ander varkies is op hok in MLounge, die über-koel sitkamerkroeg by Majeka. ‘n Goue varkie van vyftig kilogram loer wat in jou glas is as jy by die kaggelvuur plek inneem. ‘n Bont varkie van porselein lê uitgestrek op ‘n sytafeltjie.

'n Spaarvark lees koerant op die kroegtoonbank

Op die blou verligte kroegtoonbank sit ‘n boepens spaarvark.  As jy te lank hier vertoef, kan jy regtig begin varke aanjaag.

'n Reuse ot begroet jou as jy by Majeka House inloop

  • Majeka House, Houtkapperstraat 26-32, Paradyskloof, Stellenbosch
  • majekahouse.co.za

Aardvark artvark erdvark

Artvark se mooie gebou met elegante gewel

Iets aan die woord aardvark sê net so lekker.  Net ‘n sprongetjie daarvandaan is Artvark.

Watse geluid sal ‘n aardvark of erdvark maak? Dit sal nie ‘n oink wees nie. Eerder iets soos: ôgge ôgge. Maar ‘n artvark is ‘n vark van ‘n ander kleur. En daardie kleur is nie pienk nie. Artvark in Kalkbaai is ‘n klassiek-kontemporêre kunsgalery en geskenkwinkel met ‘n espresso-kroeg in ‘n sonnige, knus binnehof.

Die statige ou gebou wat Artvark huisves, is loodgrys met wit vensterrame en kunstige boomtak-diefwering.  Op die sypaadjie voor jy by die trap oploop, staan ‘n deurwagpop in ‘n gestreepte einabroekie.

Binne-in Artvark is ‘n wye verskeidenheid skilderye, tekeninge, etse, reproduksies, keramiek, juweliersware en ontwerper-messegoed. Net soos hul naam, is hierdie galery se kuns- en geskenkversameling ongewoon en bowenal eietyds.

‘n Pienk vark op ‘n kruiwa

Die Rooi Rok Padstal in die Paarl word deur ‘n pienk vark bestuur. Of so smaak dit my. Of hierdie ot meer van besigheid as van ‘n borshemp weet, is nie duidelik nie.

Maar as jy soggens vroeg hier verbyry, het die einste otterjasie reeds besluit of daar vandag in die kruiwa gesitlê word, die hoenderstellasie bestyg word, of die dag se uitdaging boomklim behels.  Dis die gelukkigste vark in die wynland – so gelukkig soos ‘n vark in Palestina (of dalk ‘n ot wat in die modder rondrol).

'n Kersfees-otterjasie wat strooi - en aarbeie - eet

Die eienares, Deonette Bourbon-Leftley, sê die lyfies van aarbeie met hul groen blaartjies laat haar aan ‘n rooi rokkie met ‘n groen kragie dink. Vandaar die naam van die plaasstal.

Hierdie plaasstal met sy baldadige vark doen net mooi die teenoorgestelde as wat die ou sêding,  varke skuur hul modder teen pilare af’, impliseer. Die pienk vark en sy boesemvriend – ‘n skaap met ‘n blommekrans –  inspireer jonk en oud, ontketen ‘n glimlag by ieder en elk.  En dis net mooi Deonette se missie in die lewe.

Volgende jaar kry die tweetjies ‘n nuwe maatjie by: ‘n pers koei met groen kolle.

Die Rooi Rok se vark hiberneer in die winter: van September tot Desember word hier aarbeie verkoop en van Januarie tot Maart pruime (“wat aan die bome ryp word”) en druiwe.

By die Rooi Rok is ook vars aarbeisap, heuning, aarbei-vrugterolle, aarbeistroop, bloubessies en “leke Krismis jêm” te koop.

  • Die Rooi Rok, Ceciliastraat, Paarl

Huis, paleis, pondok, varkhok

'n Muurskildery van Flora, die geliefde varksog

Op Picardie-Plaas in die Paarl kan jy in die eertydse varkhokke slaap.  Tot en met die tagtigerjare is hier nog varke aangehou; daarna is dit omskep in verblyf as deel van hierdie gasteplaas.  En nee, jy sou nooit kon raai dat dit eens varkverblyf was nie.

In die voorste kamers is die sôe en bere aangehou; in die agterste kamers die babavarkies met hul polvy-hoefies.

Die silo waar ertjiepeule as voeding vir die varke gestoor is, is nou ‘n skoonheidsalon! In die boonste helfte sit jy aan vir ‘n manikuur; en onder natuurlik – heel gepas – vir ‘n pedikuur.

Waar die kuilvoer eens gebêre is, is nou ‘n plaasstyl-jacuzzi. In die kombuis pryk ‘n muurskildery van die grootste ma-sog, Flora.

STOPBY~1

Vanaf die stoep kyk jy uit op ‘n dam omsoom deur bome.  Hier word Sondae ‘Tapas & Tunes’ gehou.

CHARLO~1

Met die inry by Picardie kom ‘n lange lat van ‘n Great Dane jou tegemoet. Sy naam is Jan en hy tesame met die ou melkkan wat deel van die plaas se storie is, het die naam van die padstal, JanKan, geïnspireer. Die hanslam, Kosie, laat homself geredelik optel.

‘n Varkhappie met ‘n kwarteleier

Dit gaan nou dalk klink of ek nie al my varkies op hok het nie, maar ‘n happie vark op sy tyd is darem baie smaaklik.  Die sjef (en eienaar)van Lizette’s Kitchen in Voëlklip, Hermanus dink ook so. En dis nie of haar bont varkie weg is nie!

Lizette’s Kitchen is ‘n bestemming waar Afrika en Asië mekaar ontmoet.  Lizette Crabtree se passie vir kos spreek vanself as sy self uit die kombuis wegglip om meer van die spyskaart te verduidelik.  Ook haar agt jaar reis- en werksondervinding in Asië en Afrika.

Die uitgebreide spyskaart – wat gereeld verander – sluit in: noedelgeregte (garnaal, Vietnamees, Morokkaans), dim sum, Morokkaanse geregte, ietsie meer tradisioneels soos bobotie, en tom yum-sop.

Die Vietnamese Heo Kho To is ‘n pikante kombinasie van pork belly en kwarteleiers wat met al die geure (steranys, palmsuiker, knoffel, sojasous) van die dis deurdrenk is. Daar is ook Bun Cha (tradisioneel Noord-Vietnamees): drie variasies van varkvleis word met Hoisin-doopsous bedien.

  • Lizette’s Kitchen, Voëlklip-sirkel, Hermanus
  • lizetteskitchen.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 21, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .