ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Rook soos ‘n spook

First published in Rapport, September 2020

‘n Ou okkafee in die Ou Dorp van Tunis

Reeds in 1775, toe William Hickey (1749-1830), die Britse skrywer van Memoirs wat as een van die merkwaardigste Engelse boeke ooit beskryf word, beswaarlik in Kalkutta, Indië gearriveer het, is hy ‘n okkapyp as ‘n gasvryheidsgebaar aangebied. Hickey se boek, Memoirs, beskryf hoe die lewe in die agtiende eeu onder andere in Kalkutta en Madras in Indië daar uitgesien het.

‘n Handgeverfde advertensie vir waterpype

Só het hy daaroor in Memoirs (geskryf in 1808-1810, gepubliseer in die vroeë 1900’s) geskryf: “Die mees ongelooflike okkapyp met ‘n magdom tierlantyntjies is vir my gereedgemaak. Ek het dit probeer, maar nie daarvan gehou nie. Aangesien ek na verskeie probeerslae dit steeds nie geniet het nie, het ek met groot erns versoek of dit inderdaad vir my nodig was om ‘n roker te word. My vraag is met net soveel erns beantwoord: Ongetwyfeld, ja, jy kan netsowel nie ‘n aardbewoner wees nie, eerder as om nie met die gewildste gier tred te hou nie. Hier gebruik almal ‘n hookah en niemand kan daarsonder klaarkom nie. Daar is gereeld mans wat verklaar dat hulle aandete liewer van hulle ontneem kan word, eerder as hulle hookah.”

Probeer is die beste geweer, lui die idioom

Waar daar ‘n rokie trek, is daar ‘n vuurtjie

Okkapype is allesbehalwe ‘n nuwe gier. Hoewel niemand weet presies waar en wanneer die eerste okkapype hul opwagting gemaak het nie, is daar wel talle bewyse dat die rook van hierdie waterpype al eeue gelede in verskillende wêrelddele vlamgevat het.

Baie historici is van mening dat die eerste okkapyp deur die Mughal-keiser, Akbar die Grote (1542-1605), gesuig is. Volgens hul teorie het sendelinge vir die keiser tabak present gegee. Die koninklike dokter het toe ‘n tipe water- of okkapyp geprakseer sodat die keiser die tabak kon rook.

Ander historici wys daarop dat ‘n Persiese digter, Ahli Shirazi, reeds omstreeks 1535 ‘n kwatryn (‘n vers met vier reëls) geskryf het waarin hy oor die rook van ‘n okkapyp gedig het. Volgens dié geskiedkundiges het okkapype in Persië ontstaan en vandaar het die rookgewoonte na Indië oorgewaai.

Wat die keiser van Indië doen, wou die Indiese edelmanne ook doen. Kort voor lank was die rook van die okkapyp ‘n statussimbool wat daarop gedui het dat die roker ‘n sekere prestige gehad het en van ‘n hoër sosiale klas afkomstig was.

In die 1600’s het die rook van okkapype in Persië deel van die nasionale kultuur geword. Die maak van okkapype het in ‘n kuns ontwikkel en selfs die sjah het spesiale okka-personeel gehad.

In Egipte, en ook sommige ander dele van Noord-Afrika is die rook van okkapype ‘n gewilde tydverdryf

Na alle waarskynlikheid kon die ontstaan van okkapype in verskillende wêreldddele naastenby in dieselfde era plaasgevind het.

Okkapype het mettertyd só gewild in Indië geraak dat die inwoners van ‘n klein vissersdorpie, Koyilandy, op die weskus nét okkapype begin vervaardig en uitgevoer het. Dié okkapype is Malabar Hookahs of Koliyandy Hookahs genoem; dis deesdae haas onverkrygbaar.

Een se okka is ‘n ander se hookah

Verskillende lande het verskillende benaminge vir okkapype.

In kleiner dorpies in die Midde-Ooste en Noord-Afrika sien ‘n mens dikwles okkapyprokers wat op die sypaadjies sit en teug

In sommige Midde-Oosterse lande word ‘n okkapyp ‘n narghile of shisha genoem. Die woord nargileh is afgelei van die Persiese woord nargil (of narikera in Sanskrit, die ou heilige taal van die Hindoes) wat kokosneut  beteken omdat die eerste narghiles van kokosneutdoppe, met vasgehegde pypies,  gemaak is. Shisha kom van die Persiese woord shishe waarvan die oorspronklike betekenis ‘glas’ is.

Nargileh (soms argileh) word dikwels in Turkye, Lebanon, Sirië, Griekeland en Israel verkies. In Egipte, Marokko, Tunisië en Saoedi-Arabië praat hulle meestal van shisha. In Iran noem hulle ook ‘n okkapyp ‘n ghalyan en in Pakistan ‘n huqqa. Hookah of huqqa kom van die Hindustani-woord wat onder andere waterpyp beteken.

In Saoedi-Arabië is die kultuur erg behoudend; hier is nie ‘n sypaadjiekultuur van okkapyprook nie – mense rook in die woestyn of in weggesteekte straatjies

Party historici glo dat tradisionele daggapype die Afrika-ekwivalent van okkapype is.

In die Midde-Ooste en Noord-Afrika wissel sommige mense tussen sigarette en okkapype hoewel sommige okkapype net vir ontspanning rook

Baie jongmense verwys deesdae na okkapype as hubbly bubblies.

Om te zol met ‘n okka

‘n Okkapyp bestaan uit verskillende onderdele: die glasfles of –vaas, pyp, klep, pakstuk (gasket), metaalsteel, metaalplaat, kleibakkie (wat amper soos ‘n wye eierkelkie lyk) en soms ‘n windskerm.

Die silikoonrubberpyp waardeur gerook word, is donkiejare gelede uit leer en draad geprakseer.

Koper en brons word nie meer vir die vervaardiging van metaalstele gebruik nie; vlekvryestaal en aluminium het dit vervang.

Die ronde metaalplaatjie vang die assies van die kole op.

Die rook van die okkapyp word deur koue water in die glasfles gefiltreer voor dit ingeasem word. Sodoende word die rook verkoel; dit het ‘n aangename sensasie tot gevolg. Voorheen is daar geglo dat die water die rook suiwer; dis egter nie waar nie.

‘n Okkapyprestaurant, net vir mans, in Saoedi-Arabië

As jy gaste wil beïndruk – of iets geurig nodig het omdat die rookpolisie jou lont laat kort trek – voeg vrugtesap of vrugte in klein blokkies opgesny, rooswater, mentblare of ysblokkies by die water in jou okkafles.

Die kooltjies en die tabak word binnein die vortekskleibakkie (soms is die bakkie van porselein of glas) geplaas. Die tabak word onderin geplaas waarna dit met ‘n stukkie tinfoelie, waarin gaatjies gedruk word, toegevou word. In Turkye word ‘n tabakblaar soms in plaas van foelie gebruik.

Orals waar jy in Turkye kom, sien jy okkakafees

Vorteksbakkies kan ook gemaak word deur vrugte bv. ‘n pynappel in die helfte te sny en uit te hol.

Blikwindskerms word net deur party rokers gebruik. Die skerms sorg dat die kooltjies nie te vinnig brand of te warm raak nie en keer dat die as nie rondwaai nie. Suid-Afrikaners was nog nooit op hul mond geval nie: hier by ons word die windskerm van ‘n okkapyp ‘n asjas genoem!

Jou twak is nat

Die tabakmengsel wat in okkapype gerook word, word mu’assel of sommer kortweg shisha genoem. Mu’assel is ‘n Arabiese woord wat ‘met heuning’ beteken.

Mu’assel is ‘n stroperige tabakmengsel waarby molasse (lank terug is heuning gebruik), geurmiddels en soms droëvrugte gevoeg word. Tabakgeure sluit in appel (die algemeenste geur), druiwe, ment, suurlemoen, waatlemoen, spanspek, aarbei, piesang, kersie en droplekkers.

Dis deesdae nie ongekend dat marijuana – of in vervloë dae opium of hasjisj – hul pad na ‘n okkapyp vind nie.

Party rokers drink vrugtesap terwyl hulle rook; ander gooi die vrugtesap by die water in hul okkaflesse

Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat desperate rokers tydens ons huidige plaaslike rookverbod herfsblare uit hul tuin asook teeblare in hul okkapype stop. As jy een van hierdie kandidate met ‘n okkapyp in jou huis is, moet jy dalk eerder in jou laaie rondsnuffel of daar nie nog êrens ‘n pakkie vrugtetabak skuil nie. Andersins is bees- of hoendermis jou enigste uitweg, soos wat ons oupas agter die kraalmuur gerook het. Dis nou te sê as hulle nie dié stories aandik nie.

Só teug hulle in Turkye en Tunisië

Een van die oudste okkakafees in Tunis

Kameraderie óf bepeinsing is deel van die ritueel van okkapyprook.

Veral in Turkye – waar hulle soms granaatsap by die okkawater voeg – het okkapype sommer twee, drie of vier slap pype waaraan verskillende mense kan teug.

Vandat die hele wêreld in ‘n pandemie verval het, is dit definitief nie die aangewese ding om ‘n okkapyp te deel nie!

In Café Ez-Zitouna in die souk (mark) van Tunis, die hoofstad van Tunisië, sit Tunisiese mans – jy sien min dat vrouens in Noord-Afrika shisha rook – óf in groepies waar hulle net elke af en toe ‘n frase uiter óf alleen by klein ronde tafeltjies waar dit lyk asof hulle oor die lewe mediteer.

Z staan vir zol

‘n Mens loop zolle of okkapype soms op die mees onverwagte plekke raak. In 1986 het The Bangles in hul liedjie Walk like a Egyptian gesing: Foreign types with the hookah pipes say, Whey oh whey oh, ay oh whey oh, Walk like an Egyptian.

Selfs in ‘n Tunisiese museum word die rook van ‘n okka uitgebeeld

In Lewis Carroll se boek Alice’s Adventures in Wonderland rook selfs die fiktiewe karakter, The Caterpillar, ‘n okkapyp, terwyl hy rookwolkies blaas wat Alice laat hoes!

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 12, 2020 by in Afrika, Europa, Midde-Ooste.