ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kronkel op die paaie van die  Midlands Meander 

First published in Rapport, January 2019

Op die plek rus

Hier’t! Trap rem!  Hier staan ‘n handvol brahmaan-beeste neffens die pad!

Oeps, jammer, dis nie regte koeie nie.

Dis die lewensgrootte uitgesnyde sjabloonbeeste wat by die ingang van die Brahman Hills Hotel pryk. Dié roesbruin brahmaan-beeste lyk kompleet of hulle tussen die rietpolle en pers agapantusse wei.

Brahman Hills lê op Curry’s Post-weg in die Midlands Meander (of Midlands Kronkeling) van KwaZulu-Natal. Brahman Hills maak deel uit van die Bloukraan Privaatwildreservaat.

In die Brahman Hills Hotel – en in hul keurige selfsorgkothuise – hang daar talle skilderye van brahmaan-beeste, die een mooier as die ander. Per slot van sake is brahmane ‘n aantreklike beesras.

Tussen die ingang en die hoofhotelgebou by Brahman Hills is daar 'n skuursirkel vir die wildsbokke in die reservaat

Tussen die ingang en die hoofhotelgebou by Brahman Hills is daar ‘n skuursirkel vir die wildsbokke in die reservaat

Op die heuwels van die 1000-hektaar Bloukraan Wildreservaat is ruim selfsorghuise waar die brahmane verby jou stoep of buitelug-borrelbad drentel en die sebras, elande, rooihartebeeste, swartwildebeeste en impalas net ‘n entjie verder wei.

Die rustigheid wat hier heers en die groen heuweluitsigte laat ‘n mens voel of jy met ‘n boek wil opkrul en van die hele wêreld – of die afgelope jaar – se probleme wil vergeet. Die Midlands Meander – op jou spreekwoordelike drumpel as jy hier is – bied egter so baie om te verken dat ‘n mens maar jou boude lig en daarna glad nie spyt daaroor is nie.

Een perseel, vyftien kombuise

Knap langsaan die reservaat en die hotel is The Windmills Kitchen (tot onlangs was hul bekend as The Midlands Kitchen).

Dis só naby dat jy selfs soontoe kan loop; vra net die vriendelike hotelpersoneel om jou te beduie na watter kant jy moet mik.

By The Windmills Kitchen is vyftien ‘kombuise’ of kosstasies.

Net mooi alles by The Windmills Kitchen is vars en smaaklik: kies tussen gebak van Soulflour, pasteie van Windmills Pie Company, vrugtesap en -skommels van Juice Brew, regte Durbanse Kerrie en bunny chows van Mr Naidoo’s Genuine Durban Curry, spesiale roomys van Wild Child Gelato en pizzas wat proe of dit in Italië gemaak is, van Farina di Grana Pizzeria.

Rangeer na The Junction

The Junction, ook bekend as Notties Junction, is nou wel nie binne stapafstand nie, maar ‘n paar minute se ry bring jou uit by sestien interessante winkeltjies omring deur ‘n kleurvolle tuin waar jy kan koffie drink en jou spruite kan speel. Dis nou as hulle nie heel eerste by Chocolate Heaven indraf nie; die sjokolade-bedruipte aarbei, so groot soos ‘n hangkas, teen die winkelmuur kan nie misgekyk word nie. Pak maar ‘n houtlepel vir die wiksslag in.

Die dekoritems by China Rose sal vrouens met ‘n oog vir mooi verlei.  Zawadi – in ‘n vrolike rooi sinkplaathuisie – verkoop helder stoele en sytafeltjies in Afrika-lap gestoffeer.

Collective is ‘n mekka vir versamelaars. Op die stoep word hanglampe, ploegskaarstoele en prenterame uitgestal; binne begroet ammunisiekiste, noodhulpkassies, aardbolle en lanterns jou.

Dis die rustigheid vanself by The Junction

Dis die rustigheid vanself by The Junction

Soos die speelse padteken in die tuin aandui, is The Junction ‘n toevlug waar jy tussen die blomme kan asem skep. ‘Ry stadig – vrylopende kinders en diere’ staan op die teken.

Soek die vark in die verhaal

Piggly Wiggly Country Village op die R103 is wyd en syd bekend. Een kant van die ingang staan ‘n ligpienk draadraamvark so groot soos ‘n kleinerige vragmotor wat aan dié plek sy naam verleen.

Piggly Wiggly is ‘n inkopieparadys. Sommige van die winkels blyk ook ‘n voorliefde vir otterjasies te hê.

'n Ou skedonk hurk soos 'n brulpadda in 'n tuindam by Piggly Wiggly

‘n Ou skedonk hurk soos ‘n brulpadda in ‘n tuindam by Piggly Wiggly

Op die toonbank en by die voordeur van The Greenery Juice Café staan tandvleispienk varkornamente. By die Piggly Wiggly Restaurant loop jy nie op ‘n rooi tapyt nie, maar op ‘n mat bedruk met ‘n vark met ‘n groot snoet. By Meander Fine Wines drink ‘n vlakvark met ‘n onderbaadjie bier en by Zulu-lulu kan jy ‘n keramiekvark verf waarna dit in die pottebakkersoond gedruk word.

Boekwurms móét by Huddy’s Books inloer; hulle verkoop al vir meer as 20 jaar tweedehandse boeke asook interessante en ongewone meubelitems. Stirlings Wrought Iron is ‘n winkel waaraan jy jou sal verkyk en waar jy ook nie maklik sonder ‘n kandelaar, kershouer of metaalgogga sal uitloop nie.

‘n Miniatuurstoomtreintjie kronkel oor naweke van soggens 9h00 tot smiddae 4h00 voor die winkels verby.

‘n Skatkis van weggooigoed

Dis tyd om weer remme aan te slaan. Hierdie keer is dit ‘n paar geel wawiele wat jou in jou spoor sal laat vassteek.

Sodra jy 'n geel wawiel bespeur, slaan remme aan om by Treasures and Trash in te draai

Sodra jy ‘n geel wawiel bespeur, slaan remme aan om by Treasures and Trash in te draai

By Treasures and Trash staan kruiwaens ingeryg, emmers pronk in rye en dit lyk of ‘n skare wiele op jou afgerol gaan kom.

Minimaliste sal die horrelpiep kry as hul verby tapisserieë en olieverfskilderye op esels in die tuin stap, maar grougatte sal hulself in hierdie tweedehandse winkel verlustig.

Die versameling boepenskoperbekers, horlosies en langspeelplate is sekerlik ongeëwenaar.

‘n Happie geskiedenis

Êrens sou jy al die kunswerk van Madiba se gesig by die Mandela Capture Site in ‘n tydskrif of koerant of aanlyn gesien het. Die visuele en emosionele impak is egter soveel groter as jy dit in lewende lywe aanskou.

By die Mandela Capture Site is 'n staalkonstruksie opgerig wat Madiba se gesig uitbeeld

By die Mandela Capture Site is ‘n staalkonstruksie opgerig wat Madiba se gesig uitbeeld

Die staalplaatkonstruksie is op die presiese plek opgerig waar Nelson Mandela op 5 Augustus 1962 in hegtenis geneem is. Met die inry lyk dit maar verbeeldingloos, maar soos wat jy vanaf die museumkompleks met ‘n geplaveide paadjie langs nader stap, ontvou Madiba se gesig voor jou. Dit laat jou met ‘n mate van verwondering en ‘n onvermydelike knop in jou keel.

                                      * * * Eet by The Windmills Kitchen * * *

The Windmills Kitchen, by die Windmills-vulstasie geleë, was tot onlangs as The Midlands Kitchen bekend.

Hulle is elke dag van die week van 6h00 tot 17h30 oop. Die ontbyttoonbank by The Breakfast Bar bly tot 13h30 oop. Wegneemetes maak saans 20h00 toe.

The Windmills Kitchen is langs Uitgang 132 vir Nottingham-weg op die N3. Dit neem sowat een en ‘n half uur vanaf Durban tot by The Windmills.

                                              * * * Bly oor by Brahman Hills * * *

Brahman Hills is ‘n viersterhotel met 30 hotelkamers en 12 luukse selfsorgkothuise.

Soos hul naam getuig, is die tema van Brahman Hills die aantreklike beesras genaam brahmaan

Soos hul naam getuig, is die tema van Brahman Hills die aantreklike beesras genaamd brahmaan

Die ondergrondse restaurant in die wynkelder, 89 on Copper, is elegant en knus

Die ondergrondse restaurant in die wynkelder, 89 on Copper, is elegant en knus

Die hotel spog met drie restaurante: die meer informele Brahman Café, die deftige 89 on Copper in ‘n atmosferiese ondergrondse wynkelder en The Stables by die Agility Hub, die konferensiesentrum wat ook vir privaatfunksies ingespan word. 89 on Copper se kos-en-wyn-pasmaatetes is absoluut voortreflik.

Daar is ook ‘n koffiekroeg, Cappuccino, en ‘n knus, stylvolle ondergrondse kroeg, Copper. Konferensie- en trougeriewe – insluitende twee argitektoniese glaskapelletjies – is uiters smaakvol ingerig.

Die spa by Brahman Hills se patryspoortvensters kyk oor die Bloukraan Wildreservaat uit

Die spa by Brahman Hills se patryspoortvensters kyk oor die Bloukraan Wildreservaat uit

As jy eers in die spa plaasgeneem het en die uitsig deur die patryspoortvensters aanskou het, wil jy nie hiervandaan weggaan nie

As jy eers in die spa plaasgeneem het en die uitsig deur die patryspoortvensters aanskou het, wil jy nie hiervandaan weggaan nie

Brahman Hills Spa se patryspoortvensters kyk oor die golwende heuwels van die Bloukraan Wildreservaat uit.

Die glaskapel, wat as The Chapel of Lake House bekend staan, asook ‘n nuwe kapelletjie, die Valley View Chapel, by Brahman Hills is baie gewild vir troues. Beide kapelle se vensters strek vanaf die vloer tot die plafon wat beteken jy voel amper asof jy buite sit; die uitsig oor die golwende heuwels is eenvoudig wonderlik.

Naby die ingang is ‘n skuursirkel (‘game rubbing ring’) waar die diere hul jeukerigheid kan kom verlig deur hul lywe teen laventelbossies te vryf.

Brahman Hills is in Ou Curry’s Post-weg, Mount West, KwaZulu-Natal.

Lees meer by: www.brahmanhills.co.za

Bespreek by: reservations@brahmanhills.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 25, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .