ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Voel tuis in Tulbagh

First published in Rapport, November 2016

Tulbagh se water loop blou

Tulbagh het twee pragtige kapelletjies buitekant die dorp

Tulbagh het twee pragtige kapelletjies buitekant die dorp

Dink jy aan Tulbagh, dink jy dalk aan die aardbewing van 1969; al het jy dalk nog net daarvan gehoor. Of jy dink aan die Kersfees-in-die- Winter-fees wat al sinoniem met Tulbagh is.

Daar’s Tulbagh se bekroonde wyne. En Tulbagh se musiekmakers soos Albert Frost, en die bebaarde Rob Nagel wat vir The Blues Broers speel. Ook die nie-meer-so-nuwe opkomelinge, die Van Der Mentals.

Sou jy egter tyd in Tulbagh spandeer, kom jy gou agter daar’s nog báie om te verken.

Die hoofgebou van die Tulbagh Boutique Heritage Hotel dateer uit 1859. Die Tulbagh Boutique Heritage Hotel raak net al hoe gewilder waar dit troues, wegbreeknaweke of spesiale verjaarpartytjies aangaan. Dié wat weet, sê ‘n mens moet by Olive Terrace, die hotelrestaurant, gaan eet.

Gepraat van bekroonde wyne, by Rijk’s spesialiseer die wynlandgoed in chenin blanc, pinotage, shiraz en MCC, die Rijk’s Brut. Daar’s ‘n voëltjie wat fluit dat party juis hier kom wynproe om die wynmaker van nader te beskou. Hulle moet dan maar genoeë daarmee neem om net deur die wyne verlei te word. So word daar in die vallei geknipoog.

Die dorp én hierdie wynlandgoed is na dieselfde persoon vernoem. Rijk Tulbagh was van 1751 – 1771 die goewerneur van die Kaap waartydens Tulbagh sy verkose wegbreekplek was.

Montpellier was in 2014 300 jaar oud. In 1714 het twee Hugenote hulself hier gevestig. Hulle was van Montpellier, wat Spyseniersberg beteken, in Frankryk. Behalwe om natuurlik te gaan wynproe, besigtig ook die holbolgewel van die herehuis, gaan kyk na die kapelletjie op die heuwel en wandel in die tuin tot jy die ‘glaskas’ – met Oosterse matte op die vloer en ‘n regte ambagtafel waarop soms drankies bedien word – opspoor.

By Raptor Rise wil jy nie eintlik soggens uit jou kothuisie se bed opstaan nie. Dis soveel lekkerder om jou in die uitsig oor die berge – Tulbagh-vallei word omring deur die Winterhoek, Witzenberg en Saronsberg – te verlustig.

Raptor Rise is net ses kilometer van die dorp af, net reg vir ‘n vinnige heen-en-weertjie voor die luiheid van ‘n wegbreeknaweek weer op jou toesak.

Kerkstraat – sou daar ‘n kompetisie vir die mooiste straat in Suid-Afrika gehou word, sou Kerkstraat ingeskryf móés word – het die meeste Kaap-Hollandse, Edwardiaanse en Victoriaanse nasionale gedenkwaardighede in één straat in die land. Tulbagh is die vierde oudste dorp in Suid-Afrika – naas Kaapstad, Stellenbosch en Swellendam. Na die berugte aardbewing is die hele straat gerestoureer.

Met ‘n naam soos De Kreeft Stamkafee wil jy mos nie ‘n vertoning by hierdie venue by die Saronsberg Teater in die hoofstraat van Tulbagh misloop nie. Hier kan jy elke naweek heerlik eet en rock saam met die lewendige musiekvertonings. Hul program is op hul Facebook-blad te sien.

By Saronsberg is dit moeilik om te kies tussen die wit en die rooi

Terwyl jy die buitepaaie van Tulbagh verken – niks is ver van mekaar nie – doen ‘n keldertoer by Twee Jonge Gezellen, die Huis van Krone, en gaan kyk na die kontemporêre kunsversameling by Saronsberg.

By hierdie ateljee is kristalle en boheemse klere, kuns en vetplante

By hierdie ateljee is kristalle en boheemse klere, kuns en vetplante

Terug in die dorp kan jy kyk waar Susan Smuts tans haar kuns uitstal of ‘n teepot by These Foolish Things (by Things I Love, Van der Stelstraat 61) aanskaf.

Wat jy nog moet weet:

* Bly oor by: www.raptorrise.co.za en www.tulbaghhotel.co.za

* Proe wyn by: www.rijkswine.com en www.montpellier.co.za

* Kyk waar die Van Der Mentals volgende optree by: https://web.facebook.com/The-Van-der-Mentals-285268001955491/

* Besoek: www.tweejongegezellen.co.za en www.saronsberg.com

* Kyk na Susan Smuts se kuns: https://web.facebook.com/Susan.Smuts.Artist/?_rdr

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 6, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .