ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Elim was – en is – ‘n vrugbare oase

First published in Die Burger, October 2017

(Since this article has been published some details might have changed)

Kom vir ‘n Strandveldse teug

Almal saam nou na links

Almal saam nou na links op die pad na Baardskeerdersbos

Die dorpie Elim in die Strandveld in die Overberg is as sendingpos gestig na die Morawiese Sendinggenootskap in 1824 die plaas Vogelstruyskraal – deels oor die vrugbare grond – gekoop het. Die rede hiervoor was dat die sendingstasie by Genadendal – net meer as 100 kilometer van Elim – te groot geraak het.

Daar is besluit om die nuwe sendingstasie Elim te noem, want dit is waarheen die Here die Israeliete uit die Surwoestyn gelei het. In Eksodus 15:27 staan daar: “Daarna het hullle by Elim aangekom met sy twaalf fonteine en sewentig palmbome en daar by die water kamp opgeslaan.”

So lyk dit rondom Elim in die Overberg

So lyk dit rondom Elim in die Overberg

By die Overbergse Elim was destyds baie vars water uit die Nuwejaarsrivier beskikbaar. In die dorpie Elim is nog steeds ‘n paar palmbome wat deur die Duitse sendelinge geplant is.

Slawe is in 1834 in Suid-Afrika vrygestel. Baie van hulle – asook baie slawe wat weggeloop het – het hulle na Elim begewe. Die sendelinge het die Elimmers as rietdekkers, messelaars en skrynwerkers opgelei.

As jy nou se dae Elim besoek, het baie van die huisies nog rietdakke hoewel sommige al vervang is omdat dit te duur geword het om rietdakke te onderhou.

Elim is ‘n lieflike dorpie met bontgeverfde pophuisies – meestal met ‘n voordeur en 2 vensters weerskant.

Die watermeul in Elim wat voor die kerk staan, is ‘n nasionale monument en die kerkklok is uniek.

In die afgelope twee dekades het Elim egter om ‘n heeltemal ander rede bekend geraak.

Met die afskaffing van die wingerdkwotastelsel in 1994 het wynmakers en beleggers begin rondsnuffel na nuwe distrikte waar wingerd vir wynmaak verbou kon word.

In 1996 het ‘n paar graan- en veeboere van die Elim- of Strandveld-distrik die eerste stappe geneem om hul hand aan wingerdbou te slaan.

Die wynmakers van Elim is almal baie trots op hul omgewing en ondersteun mekaar in alles wat hul doen

Die wynmakers van Elim is almal baie trots op hul omgewing en ondersteun mekaar in alles wat hul doen

Die Elim-wynwyk – saam met die Agulhas Wyn van Oorsprong-area – is in 1999 geproklameer en is by verre een van die koelste wynstreke in die land. Dan spog hulle natuurlik ook met die tipe terroir wat ekstra kompleksiteit aan wyne, veral Sauvignon Blanc en Shiraz, gee.

Verlede jaar was dus die Elim-wynwyk se mondigwording. Saam met die nuwe wynwyk het die hele Strandveld begin ontpop.

As jy die Strandveld vanaf Gansbaai se kant benader, is Lomond (www.lomond.co.za) die eerste wynlandgoed wat jy teëkom. Die plaas is 800 hektaar groot waarvan meer as die helfte deel van die Walker Bay Fynbosbewaringsgebied uitmaak. By Lomond kan jy in ‘n natuurlike woud wynproe. Wayne Gabb van Lomond sê dat hy voorheen met “appels en pere – enigiets wat kan bloos” geboer het, maar nou gaan jy hom nie uit die Strandveld-distrik wegkry nie.

Oppad na die volgende wynlandgoed ry jy deur Baardskeerdersbos. Baardskeerdersbos is ‘n landelike nedersetting wat onder kunstenaars en ‘n paar stadsjafels gewild geraak het. Dis deesdae makliker bereikbaar na die pad tussen Gansbaai en Bredasdorp geteer is.

B-bos, soos dit in die volksmond bekend staan, mag klein wees, maar daar’s amper ‘n handvol kroegies, elk met sy eie karakter.  Elke laaste Saterdag van die maand word daar plaasmark gehou.

Elke Maart is dit basaartyd. Hier word sommer ‘n perd, ‘n vark, ‘n gehekelde kombers of boerpampoene opgeveil. Die witblits staan in rye op die basaartafels om verkoop te word, maar nie vir lank nie, want dit word vinnig uitverkoop.

Baardskeerdersbos het ook sy eie kunsroete waar kunstenaars twee keer per jaar  hul deure vir die publiek oopmaak.

Die kunstenares Liz van den Berg beoefen gyotaku, ‘n tradisionele vorm van Japanese kuns wat ink-afdrukke van visse behels. Niël Jonker is die skepper van deurdagte bronsbeelde waarvan sommige in sy tuin uitgestal word. Hy is ook ‘n skilder. Philip John doen beeldhouwerk… van beesmis. Vrugtebakke, ikone, vlieënde vlak ducks, ‘n skubberige vislyf met vroue-borste en veel meer – als uit mis.

Beplan jou uitstappie so dat jy by Black Oystercatcher (www.blackoystercatcher.co.za) vir middagete aandoen.

Black Oystercatcher bedien geurige kos met absolute flair. Dirk en Sandra Human, die eienaars, glo aan seisoenale geregte .Sommer met die inloopslag stap jy verby die malse groente- en kruietuin.

Hoe klink ‘n swartpan met biefstukrepe in ‘n swartpeperroomsous en met parmesaan besprinkel? Of boontjiesop met swier gemaak. Wat van bouillabaise –die see is mos nie te ver van hier nie.

Sorg dat jy bespreek; mense stroom van heinde en verre hiernatoe.

Black Oystercatcher-wyne is beskikbaar vir proe of om saam met lang, uitgerekte middagetes te geniet.

Dis ook hier waar jy Fraser’s Folly vlytbier (www.frasersfolly.co.za) , die  mees suidelike gebroude bier op die kontinent, kan geniet.

Die restaurant kyk uit oor die vleiland wat deel van die Nuwejaars Vleiland Bewaringsgebied (www.nuwejaars.com) – met buffels, seekoeie, ander wild en ‘n ryke voëllewe – op die Agulhas Vlakte uitmaak.

As jy in een van die kothuise op Black Oystercatcher-wynlandgoed oorbly, kan jy – afhangende van die tyd van die jaar – ‘n Wetlands & Wildlife-toer bespreek. Alternatiewelik kan jy direk by Nuwejaars ‘n toer bespreek.

Strandveld Vineyards (www.strandveld.co.za) lê net ‘n entjie verder. Hier kén Conrad Vlok van wynmaak.

Die Strandveld Syrah 2013 is – weereens – een van die top shiraz’s in die Shiraz SA Challenge en die Strandveld Adamastor en Strandveld The Navigator, onderskeidelik ‘n wit en rooi versnit, palm ook gereeld toekennings in.

Belê in die Strandveld Skaamgesiggie Pinot Noir Brut om jou volgende spesiale geleentheid te vier. Dié speelse naam verwys na ‘n raar spesies protea, Protea pudens .

Die wynproekamer is in die ou plaasstal of op die gesellige stoep wat oor die uitgestrekte tuin uitkyk.

Verblyf is in twee ruim kothuise – elk met ‘n vuurherd – beskikbaar. Drentel deur die tuin en kyk hoe Suzán Vlok die terroir van die plaas tussen poele en skadu-bome uitgebeeld het.

Pak stapskoene in om tussen die wingerde – moenie skrik as jy skielik op ‘n steenbokkie of grysbokkie afkom nie – te gaan rondloop.

Jy kan ook op die gemerkte roetes gaan draf of bergfietsry. Bring jou eie piekniekmandjie om na die tyd langs die dam knap by die kothuise uit te rus.

By Zoetendal (www.zoetendalwinefarm.co.za) is benewens hul wyne ook vlytbier genaamd Becker’s en die Trading Post waar tuisgemaakte produkte en handewerk te koop is en waar jy ook koffie en ligte maaltye kan geniet. Verder kan jy hier op die oewer van die Nuwejaarsrivier piekniek hou.

The Drift (www.thedrift.co.za) val nie onder die Elim-wynwyk nie, maar is ook in die Overberg geleë. As jy oppad terug Kaap toe is, lê The Drift op die R316, die pad tussen Caledon en Napier. The Drift se wyne spog met die kunstigste etikette wat jy nog gesien het en digterlike wynname soos Moveable Feast (‘n rooi versnit) en There Are Still Mysteries (Single Vineyard Rosé). Die Year of the Rooster Rosé is die tipe rosé wat James Bond sal drink, knipoog Bruce Jack, eienaar en wynmaker van The Drift.

Behalwe wyn is daar ook The Drift Farm olyfolie, -heuning en -verjuice sowel as siderdrankies – Cluver & Jack Cider en Orpens Irish Craft Cider – op die plaas beskikbaar.

As jy nie haastig terug huis toe is nie, kan jy by The Drift se luukse gastehuisverblyf oorbly. Kies tussen Die Westelike Vleuel, Die Oostelike Vleuel en Die Skuur.

Of jy nou oorbly of nie, loop al met die labirint aan die onderpunt van die tuin langs. Jy kan selfs met ‘n glasie in die hand loop en mediteer.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 9, 2019 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .