ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

VERWYL TYD IN ‘VELLERIF’

First published in Die Burger, December 2012

Stap al met die vis langs

Velddrif  het – by wyse van spreke – die wa deur die drif getrek en ‘n mooimaaksessie ondergaan. Op straat hoor jy nog hoe die dorpenaars na hul woonplek as ‘Vellerif’ verwys – dit ontlok dalk ‘n glimlag by dagbesoekers en vakansiegangers, maar Velleriwwers is salig onbewus daarvan.

Jy ry Velddrif binne oor ‘n brug so plat soos ‘n pannekoek. Aan die een kant lê vuilwit soutpanne wat soms in die son blink. Aan die ander kant kronkel die Bergrivier. Net ietwat meer as ‘n hanetree weg lê Laaiplek.

Suig pepermente na bokkoms

Velddrif kon Bokkombaai (of Bokkembaai soos dit ook alternatiewelik gespel word) geheet het, want Velddrif is en was nog altyd bekend vir sy gedroogde, welriekende vissies. Óf jy knaag te heerlik daaraan óf jy vind dit ietwat grillerig, indien nie afstootlik nie. Met bokkoms is daar nie ‘n middeweg nie. As jy onder die groep val wat glo jy weet nie wat jy mis as jy nie bokkoms eet nie, sny jy dit fyn-fyn en knibbel daaraan. As tjokkertjie het ek aan my pa se voete gesit terwyl hy vir my stukkies kerf. Ware entoesiaste suig selfs die grate af. Dan is daar diegene wat bokkomskyfies saam met ‘n appelkoosjêmpie op ‘n sny growwebrood nuttig. Dalk moet daar soutwater in jou are vloei voor jy hiervoor jou kleinbordjie uithou.

Hier word lyn nat gemaak

Wegneemvis

Tamaai vissersbote lê aan die kaai met geroeste knoetskettings of rafelrige toue wat keer dat die bote nie sommer wegdryf nie. Vertoef hier vir ‘n wyle sodat jy na die blou, rooi en geel bote kan kyk terwyl jy jou na die kleurvolle taal – soms gepeper met ‘n swetsery – verluister.

In 1871 het ene Johan Carel Stephan in Laaiplek begin handel dryf. Hy’s die Koring-Koning genoem en het heelwat Portugese en Italiaanse vissermanne in diens geneem. Afstammelinge van dieselfde Italiaanse families woon nog steeds in Velddrif en Laaiplek.

Al met die oewer langs

Maak nou eers ‘n U-draai sodat jy tyd in Bokkomlaan – Velddrif se Waterfront langs die Bergrivier – kan verwyl. Verlustig jou in die name van die bokkomfabriekies: Mappie Brand is blykbaar die bekendste vir bokkomrepies en skoongemaakte bokkoms; dan is daar Bo-Rivier Visserye wat geskilde bokkoms adverteer wat 24 uur beskikbaar is; en Ek en Djy Vissery.

By Ek en Djy Vissery is daar veel meer as bokkoms. Hier koop jy van ou visnette tot kerriemossels; van seesout tot glasboeie; ja, selfs van haaibiltong tot skeepslanterns. Rivierbootvaarte is beskikbaar as dit vooraf gereël word. Voor op die stoepdek sit ‘n winkelpop in onderklere en met ‘n string pienk plastiekkrale om die nek; haar hoed verkondig dat sy ‘n kreefsmokkelaar is, maar die bord langs haar kondig aan dat sy die eienaar se eks-skoonma is. ‘n Tweede, ietwat onsmaaklike, mannekyn beeld die moderne kind uit.

Hier is hulle nie net onverdraagsaam teenoor (eks) skoonma’s nie; as jou hond vol modder of pleinweg stout is, sal hy geskiet word, waarsku ‘n handgeskrewe bord. Moet dit ook nie waag om by die tafeltjies by die rivier te gaan sit as jy nie ‘n klant van Ek en Djy is nie. Ek vermoed die eienaar is meer bek as binnegoed, maar hou maar my opinie vir myself.

Voëls van eenderse vere

Drie sakbekke

Vra dus maar mooi vir Desmond van Ek en Djy – hy noem homself The Pelican Whisperer –  om die pelikane van duskant die rivier te lok. Jy betaal vir die pakkie aas; hy waai sy arms en flap ‘n vissie. Dit lyk ietwat na ‘n gekonkel tussen die pelikane en die man op hierdie kant se oewer, maar kort voor lank kom drie pelikane vir hul happie. Foeitog, een afvlerk-pelikaan bly alleen agter.

Flaminke word ook gereeld hier gesien hoewel ons nie so gelukkig was om dat hierdie pienk gevogeltes in die rondte was nie.

Eet koffie-en-koek, outydse groenboontjiebredie of vetkoek met maalvleis by die Vishuis. Die pikkewyn op hul uithangbord nooi jou om hier te ‘pik’ en te ‘wyn’. Die ruskamers spog onderskeidelik met ‘n ‘Bokhom’-vis met oupa-brilletjie en ‘n Bokhaar’-vis met bloedrooi, getuite lippe.

Kyk na Marina Clunie se skilderye wat die omgewing uitbeeld – haar rivierateljee is direk langs Ek en Djy. Sy weet net hoe om die atmosfeer van hierdie deel van die Weskus vas te vang.

Snoek is koningskos

Hier's Koek-en-Koffie vir slegs R20

Die Vis Vlekhuis of Dirk se Viswinkel is bekend vir gerookte snoek. Sommige reken jy gaan nie sommer beter kry nie. Jy kan hier sommer op die sypaadjie by ‘n sementtafeltjie sit en eet tussen ‘n bootjie en gevlekte snoek wat soos wasgoed vasgepen is. Oranje toue kronkel om die stutpale en jy kan die see ruik as die wind uit die regte rigting waai.

Vars witstompneus, kabeljou, engelvis en harders is te koop in seisoentyd. Flessies mossels is gegeur met rissie, mosterd, kerrie of knoffel. Hier’s ook snoekpatee, soetsuur vis en konfyte.

En dan, natuurlik, bokkoms, regte egte Weskus-bokkoms.

Terwyl jy nou gaan:
·        Lees meer oor tipiese Weskus-karakters by http://tourismcapetown.co.za/leisure-travel/article/velddrif-characters
·        Kyk na Marina Clunie se kuns (veral haar vissersbootjies) by http://www.riverstudio.co.za
·        Alles wat jy nog oor die Weskus en oor bokkoms wou weet, is by http://www.bokkom.co.za/
·        Kyk na ‘n kortfilm van Ek en Djy by http://www.fishermansrest.co.za/vissery.html
·        ‘n Vriendelike waarskuwing: moet net nie bokkoms saam met jou terugry huis toe nie, want jou motor ruik vir maande daarna nog die ene soutvis!

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 29, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .