ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KIEKIES VAN KANALE

Published in Die Burger, July 2010

tipiese-amsterdamse-argitektuur

Amsterdam smeek jou om afgeneem te word. Swart-en-wit foto’s of outydse sepia. Af en toe ‘n spatsel kleur veral as jy verby ‘n blommeverkoper stap.

En glo dit of nie, in Amsterdam geld ouwêreldse waardes nog. Natuurlik nie orals nie. Maar Amsterdam is baie meer as die berugte rooiligdistrik en die koffiewinkels wat nie ‘n bestaan uit koffie maak nie.

holland-is-sokkermal

Amsterdamse argitektuur is fotogenies. Fietse leun teen kanaalrelings. Dakke spits. Vensterbanke blom. Trems stop nie vir jou nie. Strate is nou. Modes is uitdagend.

Amsterdam doen sy beeld gestand. ‘n Groot driehoekbord adverteer die seksmuseum in Damrakstraat 18 net bokant Centraal Station. Die sekswinkels se vensteruitstallings slaan nie net Suid-Afrikaners se asem weg nie; dit laat ons sommer bewe en dis nie van lekkerkry nie.

Poskaarte op sypaadjies wys nie net tulpe en Delft-teëls nie. Vuil jongmense strompel rond en vra geld met glasige oë. Jy sien eerstehands hoe ‘n middeljarige omie met handgebare ‘n prys beding en dan by die hokkie met die pers lig inglip; die gordyne word toegetrek.

daar-is-net-een-amsterdam

As jy die sigbare onderwêreld gesien het, kan en moet jy jou aandag spits op dit wat Amsterdam nog bied, en daar is ‘n smorgasbord daarvan.

innoverende-advertensies-is-orals-te-sien

‘n Kamera is nie opsioneel nie; nie vir straatstap in so ‘n fotogeniese stad nie. Gebruik ‘n voldag om in lang sigsaglyne van Herengracht na Keizersgracht na Prinsengracht te stap. Of andersom natuurlik. Baie kanale om te kiek, Amsterdamse argitektuur om af te neem, fyner detail (soos malvas, kraampies, sypaadjie-tafels en winkelvensters) om op te fokus.

Dis hier waar ‘n kaaskop-omie jou galant groet. Dis hier waar ‘n middeljarige egpaar spontaan naderstaan om jou te help kaart ontsyfer. Dis ook hier waar kopdoek-tannies met voorskote hul blombakke natlei.

soeweniers-te-kus-en-te-keur

By die Anne Frank-huis by Prinsengracht 267 sal jy tien teen een op enige dag van die jaar in ‘n lang ry moet staan. Dis egter ‘n moet-sien. Die boekrak wat die ingang na die Franks se skuilplek versteek het, stuur ‘n rilling teen jou rug af. Anne se vergeelde foto’s en knipsels teen haar muur gee jou ‘n knop in die keel. Hul beperkte uitsig op die agtertuin los jou met ‘n gevoel van onverdiende seëninge.

Stop by Gary’s Muffins vir ‘n reuse soutkolwyntjie (of eerder ‘n kolwyn!) en stomende koffie.

Hervat jou tog te voet tot by die Kattenkabinet (Herengracht 497), ‘n museum wat katliefhebbers sal laat spin. Dis geleë in ‘n ou kanaalhuis en behalwe vir die kat-tema, beeld dit ook die lewenstyl van die ontslape eienares Leonor Fini (1908 – 1996) uit. Die museumwinkeltjie verkoop onder andere plakkate wat vra om geraam te word en kaartjies wat jy nie oor jou hart sal kan kry om te stuur nie.

veral-katliefhebbers-sal-die-kattenkabinet-geniet

By die Frozen Fountain (Prinsengracht 629) sal jy kwyl van begeerte, darem nie vir die vleeslike nie. Inspirerende ontwerpe vir die huis sal jou na jou beursie laat gryp.

Klaar gegrag – mik vir Centraal Station. Stap met Damrak langs. Oorkant Hotel de l’Europe op die hoek van Muntplein is Club Inez, eintlik ‘n  restaurant. Afhangende van die pas waarteen jy jou straatstap aangepak het (en van waar jy begin het), kan jy hier vir middag- of aandete vertoef. Die interior is ‘n uiters geslaagde vermenging van oud (houtvloere en ruim vensters) en modern (regop pers kroegstoele en gewaagde kleurgebruik). Die mure is fuchsia-pienk en bottergeel en die kos ‘n eklektiese vermenging van kookstyle.

‘n Hanetree van Centraal Station is natuurlik die seksmuseum. Behalwe ‘n paar grillerige gewoontes wat uitgebeeld word (gaan kyk maar self), is daar ook bewyse van pornografie uit toeka se tyd.

In Amsterdam is alles eintlik naby mekaar. In hul omswerwinge sal Suid-Afrikaners ongetwyfeld die naambord van die Poezenboot opmerk. Dis ‘n veilige hawe vir straatkatte (die soort wat miaau).

vir-straatkatte-wat-kan-miaau

Kapenaars sal ook d’ Vijff Vlieghen raaksien. Dalk die aangetroude suster van ons eie Five Flies restaurant?

Kalverstraat is die inkopiemekka vir toeriste.

selfs-die-standbeelde-is-patrioties

De Bijenkorf herinner aan ‘n Garlicks van vanmelewe of ‘n meer onlangse Stuttafords. Verkyk jou aan die nuutste voorraad uit Europa. Dis soos Stuttafords, of die Harrods van Nederland.

Behalwe kiekies van kanale, is wit stewels of ‘n rooi leerbaadjie uit Kalverstraat, of dalk ‘n Alessi-kurktrekker van De Bijenkorf opsies om jou keer op keer te laat terugdink aan pret in Prinsengracht, heerlike oomblikke in Herengracht of ‘n kuier in Keisersgracht.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 4, 2017 by in Europa.