ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Droomverlore in Droombos

First published in Rapport, July 2021

‘n Tuin vir terapie

Die woordeboekdefinisie van ‘n tuin is “’n stuk grond, gewoonlik omhein en om of naby ‘n woning, waarop blomme, kruie, groente, vrugte, sierplante, struike en bome gekweek word”.

Dit geld definitief nie alle tuine nie! Alle tuine is gelyk, maar… sommige is meer gelyk as ander”.

Met ‘n besoek aan Droombos in Die Boord, Stellenbosch was dié tuin ongetwyfeld baie hoër op die rangleer as die meeste tuine wat ek al gesien het.

Droombos is ‘n ware feetjietuin met weggesteekte hoekies en kronkelende tuinpaadjies, ‘n lushof van skouerhoogte varings, ou-man-se-baard (nooienshaarvaring of Spaanse mos) wat atmosfeer skep, broodbome, skaduplante, boomvarings, waaierpalms en hordes ander plante wat diegene met groen vingers sal eien.

Eendag was daar…

Lucelle van Wyk, eienaar en ywerige tuinier van Droombos, het in 2011na Stellenbosch verhuis na haar eerste man in 2006 oorlede is. Sy het op dié dorp grootgeword, maar na haar studentejare het sy na Gauteng verhuis.

Tuinontwerp en –maak het oorspronklik as terapie vir Lucelle begin. 

Na sy in ‘n “woesteny” begin skoffel en aanplant  het, het sy tot haar groot vreugde ontdek dat haar erf (soos haar bure s’n) tot in die helfte van die riviertjie aan die onderkant strek. Niemand anders het egter die grond benut nie; sommige het selfs hul tuinvullis oor hul heinings gegooi en dit netso laat lê.

Die munisipaliteit wou nie samewerking verleen om die “boskaas” skoon te maak nie, selfs al het dit “baie wegkruipplek” aan ongure karakters gebied.

Na Lucelle toestemming van die aangrensende plaas gekry het, het sy met onverbloemde ywer weggespring. Tóé het haar tuinmaak ‘n “storie” gekry.

‘n Tweede huwelik, waarin sy baie gelukkig was, het hartseer geëindig. Om ‘n lang storie kort te maak, het haar tweede man se kinders ingemeng; dit het daartoe gelei dat Lucelle en “die liefde van haar lewe” in verskillende provinsies hul lewe geslyt het, tot hy ‘n paar jaar gelede oorlede is.

Om haar emosionele verlies te verwerk het Lucelle verskillende stadiums van haar lewensreis en haar heling in haar tuin uitgebeeld.

Na lag kom huil

Heel eerste het sy die “verskriklik vrolike” Geluksbos – met ‘n warboel van kleure – geskep. In die Geluksbos “is almal gelukkig”; dis waarom dit wemel van feetjies, kabouters, langbeenflaminke en paddas.

Na Geluksbos volg Hartseerbos.

In Hartseerbos staan ‘n mannekyn in ‘n bruidsrok alleen. Om haar blom asaleas, sneeuvlokkies, aronskelke en die Kaapse Meidoring in wit, want dis “so ‘n suiwer kleur”. 

Langs die bruid is ‘n wensput “om munte in te gooi sodat sy kan wens dat haar geliefde terugkeer”. In ‘n telefoonhokkie is ‘n klein goue telefoontjie wat nooit meer lui nie. Die posbus bly ook leeg.

‘n Ou spreekwoord lui, “As dit sou help om te huil, hoeveel sou daar dan nie gehuil word in die ou wêreld nie. Noudat dit nie help nie, word alreeds so baie gehuil.”

Trane kan ‘n mens nie afskakel nie.

Na Hartseerbos loop jy deur Traanbos. Ligpers – in die vorm van katsterte en langsteel-agapantusse – impliseer die rouproses.

In Traanbos lê die mannekynbruid in ‘n fetusposisie – haar bruidsrok is uitgetrek, want sy is kaalgestroop.

Lucelle vertel: “Ek’t die idees maar net uitgedink.”

Haar twee tuiniers, Gift Mzilankatha en Difference Nenge, voer baie van haar idees uit. As sy begin verduidelik wat sy volgende wil hê, boender hulle haar onseremonieel binnetoe. Hulle weet hóé sy dink, wéét sy hou van eweredige spasies.

Met purper geklee

Na Huilbos met sy donkerpers jakarandas en plectranthus (ook bekend as die blomblom) volg Vergifnisbos waar goudgeel sonneblomme en duranta, ‘n soort verbena, hoogty vier. Geel is die kleur van die lewe!

Toe Lucelle die Vergifnisbos as projek begin aanpak, het die besef tot haar deurgedring dat sy moet vergewe; sy was emosioneel gereed daarvoor. Dus hang daar duiwe as ‘n simbool van vrede oral in Vergifnisbos.

Die duiwe vlieg in die rigting van Trolbos waar geraamtes hang. Die “aaklige” geraamtes versinnebeeld die mense wat Lucelle van haar geluk ontneem het. ‘n Engel wat oor die geraamtes waak dui op die vredesproses.

Die meeste van die sementbeelde in die Droombos-tuin is deur Xolile Williams gemaak; hy het by die Montebello-ontwerpsentrum in Nuweland, Kaapstad gewerk tot ‘n paar jaar gelede toe hy tragies in ‘n motorongeluk oorlede is.

Wandelende Jood-dekplante kielie jou enkels in Trolbos waar “alles pers, pers, pers” is, want dis “die kleur van rou en die kleur van die dood”.

Selfs mét ‘n vredesengel het almal beskerming nodig. In Skoertbos dien olifante en drakekopspuiers (gargoyles) as beskermheiliges.

‘n Lushof, ‘n paradys

“‘n Mens dink jy’s oor iets wat met jou gebeur het, maar dit vat tyd”, mymer Lucelle.

Dis waarom sy vetplante in die Woestynbos geplant het. Vetplante neem lank om te groei. Om te heel, om emosioneel gesond te raak, neem ook tyd.

Maar, na ‘n woestynleegte blom die Paradysbos met sy wonderlike olifantsore, boomvarings en Japanese esdorings.

Op jou lewenspad moet jy soms kies of jy in ‘n “woestynbos” of “paradysbos” wil vertoef. As jy eers die paradys gekies het, kan jy weer begin droom.  

In Droombos tuur ‘n vrouebeeld, met haar ken op haar hande gestut, en sy droom

In Lucelle se Droombos tuur ‘n vrouebeeld, met haar ken op haar hande gestut, tussen pienk hibiskusse, pienk salvia, ‘n soort salie, en pienk rose. Sy dróóm.

In die Liefdesbos is dit die ene rooi rose. Bloedrooi. Rooi is nie verniet die kleur van liefde nie. Op ‘n bankie omhels twee figure mekaar terwyl olyf- en koraalbome oor hul buig.

Die laaste bos is Koesterbos. Hier is daar ‘n terugkeer na die opregtheid en reinheid van wit – veral Iceberg-rose en wisteria – soos in die Hartseerbos.

In Koesterbos staan ‘n klein kapelletjie, bedek met wit blare. In die kapelletjie staan ‘n bruid. Sy is alleen, maar sy besef dat om op jou eie te wees, nie noodwendig ‘n slegte ding is nie. As jy jouself liefhet en leer om jouself te koester, bring dit geluk.

Aan die eindpunt van Koesterbos is ‘n klipstapeltjie. Hier kan besoekers ‘n klip kom neersit vir elke persoon wat hul al vergewe het.

Sit hand by

Na afloop van my besoek aan Droombos lees ek ‘n inskrywing op sosiale media waaroor almal tans gaande is.

‘n Kleindogter vra aan haar ouma hoe sy die pyn in haar lewe hanteer het. Die ouma antwoord: “Met my hande, my skat. As jy dit in jou kop probeer doen, is die pyn net erger.”

Toe die kleindogter nie verstaan wat haar ouma bedoel nie, verduidelik sy verder:”Ons hande is die antennas van ons siel. As jy jou hande bewéég – deur naaldwerk te doen, te kook, skilder of deur dit in die grond te steek – word omgeeboodskappe na jou diepste binneste gestuur en jou siel word kalm.”

Dís wat ek by Droombos beleef het. Hánde wat ‘n meesterstuk geskep, verbeelding laat seëvier, ‘n lewenstorie vertel én heling teweeggebring het.

  • Die Droombos-tuin kan vanaf 1 September 2021 per afspraak besoek word. Toegang is gratis. Kontak Lucelle van Wyk by 083 474 7876 en kyk op www.facebook.com/droombos

One comment on “Droomverlore in Droombos

  1. Tannie Frannie
    May 20, 2022

    Fassinerend – ‘n wonderlike artikel en foto’s. Ek hou veral van die katte – dié van sement én die lewendiges 😻😻

Leave a comment