First published in Rapport, April 2019
Selfde sjarme, net besig
Dit was die jaar 2000. Twee van ons – ‘n blondine en ‘n brunet – het besluit om die Oos-Blok te gaan verken vóór dié deel van Europa deur toeriste oorstroom word. Ons toerplan lyk toe só: begin in Helsinki, Finland en gebruik oorwegend treinvervoer tot in Turkye. Veral die lokstem van Kroasië, ‘n land waaroor toe nog min bekend was, en die dorpie Dubrovnik, het sterk geroep.
Toe Dubrovnik nog stil en leeg was
Vanaf die hoofstad, Zagreb, ry ek en Phoebe met ‘n bus – dit voel soos ‘n groot tjor – na Dubrovnik. Met die afklim loop Silvana ons tegemoet en vra of ons ‘n kamer by haar en haar pa wil huur. Ja, ons wil baie graag!
Oor ‘n Karlovacko-bier hang ons aan Silvana se lippe toe sy vertel hoe sy gedurende die Kroasiese Onafhanklikheidsoorlog in die vroeë negentigerjare by haar pa agtergebly het en hoe moeilik dit by tye was om te oorleef.
Ons wil so graag nog verder luister, maar is net so nuuskierig om die sitadel (klipvesting) van Dubrovnik te gaan besigtig. Skaars oor die drumpel van die sitadel is daar ‘n klipfontein met yskoue water. Hoe lank sou dit al hier wees? Wie het al almal hul dors by dié fontein kom les? Ons kan maar net wonder.
Soos wat jy in die Stradun, ‘n breë, gladde, natuurlik gepoetste marmerloopgang afstap, is die meeste geboue netjies genoeg hoewel daar koeëlgate in sommige te sien is. Net enkeles is bouvallig.
Aan die einde van die Stradun is twee kerke en ‘n handvol restaurantjies. Weerskante van die Stradun loop die nouste stegies af waar piepklein restauranttafeltjies staangemaak is.
Ons besoek verwonderd die Franciskaanse klooster waar ons monnike hoor sing. Dit moet wees soos hul eeue gelede ook gesing het. Binne die klooster is Europa se derde oudste apteek wat nog in gebruik is. Die apteek dateer uit 1317.
Behalwe die Franciskaanse klooster, loer ons ook in by ‘n Dominikaanse klooster.
Beide kloosters het pragtige, swaar, silwer wierookhouers en kandelare. Die wierookhouers word deur die priesters rondgeswaai soos wat hulle deur die kerk loop.
Verder is daar min detail in die kerke, maar dit wat daar is, staan uit teen die wit klipmure: loodglasvensters, ‘n Madonna-skildery, donker, vergulde ikone en dan natuurlik die altare.
Ons eet seekatrisotto met seekatink by Marco Polo Restaurant wat, soos heelwat van die ander restaurante, deur Italianers bestuur word. Die Italiaanse invloed strek van kos tot Italiaanse woorde en gewoontes.
Die volgende dag eet ons by ‘n dakterras met ‘n lieflike uitsig. Dit herinner ons daaraan dat ons nog nie bo-op die stadsmure reg rondom Dubrovnik geloop het nie. Ons betaal 9 kuna en voeg die daad by die woord.
Só kom ons af op ‘n miniskule kroegie buite die stadsmure. Vandaar kan jy in die water duik as jy die meer avontuurlustige party in die tweemangeselskap is. Of jy kan kies om aan ‘n koue Karlovacko te teug.
Toe ons Dubrovnik groet om terug na Zagreb te keer, neem ons plegtig ‘n eed om terug te keer. Hoe lank dit ook al mag vat.
Bykans twee dekades later is ek en Phoebe op afsonderlike reise terug om weer ons spore na te loop.
Amper 20 jaar later
Hoewel ek ‘n reisgeheue het wat my min in die steek laat, is Dubrovnik my een voor. Ek sukkel reg van die begin af om agter te kom hoe die strate loop. Dis net só ontwikkeld in vergelyking met wat was.
Ek vind nooit waar die vis- en varsproduktemark met my eerste besoek was nie of naastenby waar Silvana en haar pa se huis was nie.
Met ons aankoms by die sitadel se ingang gaan staan ek eers weer buite die stadsmure en wys vir Pieter (my man is hierdie keer my reisgenoot) hoe ‘n mens selfs van hierbo elke klippie op die seebodem kan sien. Destyds was dit die eerste ding wat ek met my tuiskoms aan hom oorvertel het; synde ‘n visskieter het ek geweet hy sou dit interessant vind.
Het jy my toe geglo? Kon jy dit vir jouself voorstel?, brabbel ek van voor af opgewonde.
Die gróót verskil is egter dat ek en Phoebe in 2000 die enigste twee mense was wat hier na die seebodem getuur het. Nóú is ons omring van toeriste.
Voor ons vaar ‘n goudgeel kamma duikboot verby waarop jy jou kroos op ‘n vaart kan neem. Op die klippiestrand lê ‘n ry kano’s wat flink uitverhuur word.
Tussen die hordes toeriste poseer Game of Thrones-karakters in kettingharnasse. Vir die oningeligtes (soos ek), Game of Thrones is ‘n fantasiedrama wat in die Middeleeue afspeel en ‘n deel van die reeks is in Dubrovnik geskiet.
Skaars binne die sitadel sien ons dat in elke liewe onderste verdieping nou ‘n winkeltjie, restaurant of kroeg gehuisves word.
By Captain Candy staan lekkergoed hoog op wynvate gestapel, by Razonoda-wynkroeg het die skemerkelkies verbeeldingryke name, Pizzeria Mea Culpa se kelners wink almal wat verbystap, oorwyerig nader en om die draai verkoop kunsgalerye nuutgeverfde ikone.
Op kerktrappe sit mense bankvas, ‘n bruid en bruidegom verskyn asof uit die niet en orals drom toeriste saam.
‘n Deel van Dubrovnik se sjarme mag verlore gegaan het, maar die res daarvan sal altyd behoue bly. ‘n Mens verwonder jou selfs aan die marmerstrate waarop jy tree vir tree gee. Wie sou oor die eeue almal hier geloop het? Hoe het hulle gelyk? Wat het hulle aangehad?
Ons skep asem by Soul Caffe & Rakija Bar in ‘n agterstraatjie. Liewers nie rakija (vrugtebrandewyn) nie, keer ons. Julle kan bly wees dis nog stil in Dubrovnik; die seisoen begin eers oor ‘n paar weke in volle swang, sug die kelnerin. Ons sukkel om dit te glo, maar is heimlik baie bly.
Ek vind weer die miniskule kroegie. Dis nie meer so klein nie; om die rotse is nou plek-plek met sement opgevul sodat hul nog sitplekke kon inrig. Daar is nou Coke op die spyskaart, nie meer net Pepsi nie. Darem ook skemerkelkies, wyn en bier.
Ek is ingenome toe ek die een kerkie na die ander ontdek. Baie van dié kerkies was destyds toegespyker en meestal nie eers herkenbaar as plekkies van aanbidding nie. Dit lyk ook of daar meer ikone en skilderye in die kerke teenwoordig is; dalk is dit tydens die oorlog in veilige bewaring geplaas, bespiegel ek.
‘n Foto-uitstalling getiteld Ne Zaboravi! (Sodat ons nie vergeet nie!) dokumenteer die Serbiese en Montenegriese aanvalle in die 1990’s teen Dubrovnik. ‘n Kunstenaar wat met ‘n kombers oor sy skouers voor sy uitgebrande galery staan, gryp ‘n mens aan die hart. Ek lees: Dié kunstenaar, Ivo Grbic, het alles wat hy besit het insluitende sy privaatbiblioteek en sy antiekversameling én al die werk wat hy geskep het in die sinnelose aanval verloor.
Volgens die uitstalling het die bombarderings op 6 Desember 1991 begin en tot in 1993 voortgeduur. Die Kroate praat nie graag oor hierdie tydperk in hul onlangse geskiedenis nie. Hulle volstaan daarmee dat almal nou in vrede leef, maar dat dit nie vergeet sal word nie.
Die Kroate het oor die algemeen hul nuwe toekoms met albei hande aangegryp. Dis nie net Dubrovnik wat in ‘n toeristemekka omskep is nie. Die bewoonde eilande in die Adriatiese See raak jaar na jaar gewilder.
Party Kroate gaan onverstoord met hul daaglikse lewe aan, ander grom oor die toeriste wat by hul deure inkyk en deur hul vensters loer en nog ander gryp die geleentheid aan om ekstra kuna, die plaaslike geldeenheid, deur die toerismebedryf te verdien.
Die stringe en stringe wasgoed wat bokant jou kop in die systraatjies van Dubrovnik gehang het, is deesdae maar yl. Die meeste plekke is omskep in besighede wat inkomste kan genereer. Dubrovnik spog selfs met ‘n restaurant, Proto Visrestaurant, wat deur die Michelin-restaurantgids aanbeveel word.
Die veranderinge wat ek met my eie oë gadeslaan, getuig van die ommeswaai. Kroasië en sy mense verdien ‘n nuwe begin.
Koste toe (2000) en nou
Toe: Verblyf per persoon per nag in ‘n privaatkamer R68
Nou: Verblyf in ‘n Airbnb binne stapafstand vanaf die sitadel R320
Risotto met drie glase wyn
Toe: Minder as R100 pp
Nou: R350 per persoon
Wandeling op die stadsmure
Toe: R9
Nou: R300
Recent Comments