ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KEN JY VAN HALFAAMPIESKRAAL? –

First published in Die Burger, November 2011

Aweregse plesier op die plaas

Verskriklik eklekties. ‘n Overbergse plaas met ‘n verskil. Hier’s emmersvol finesse. Melkemmers soos waarmee Blommetjie destyds gemelk is. Hier is die einste emmers dalk vol wulpse kunsblomme of pouvere.

Halfaampieskraal se boekbekendstelling was in hul eie Club Havana

Daar’s nie verrassings om elke draai nie; daar’s ‘n verrassing op elke tafel. Jan-Georg Solms, die eienaar van Halfaampieskraal, hou van groepeer. Veral dít wat nie in ander mense se boeke (of huise) bymekaar pas nie. Ek brand om te vra wat kom uit sy ma se huis en wat hy en Cobus Geldenhuys self op hul reise bymekaargemaak het, maar ek doen dit nie.

DSC_0436

Iets van alles regdeur die huis

Dwaal jy deur die huis, kom jy agter Jan-Georg (streng op Afrikaans uitgespreek) hou van aardbolle en landkaarte, taksidermiese voëls, sy plaashonde, fênsielose horings, ou boeke, koraal en ‘n tikkie marmer. Ek sien ook tafels waarop ‘n oormaat glas gerangskik is; verskeie voetstukke met verskillende style; en wit porselein in gelid op ‘n donkerhout dresser van ouds. Mure is versier met ou borde wat voel of dit jou na iets lei en met skilderye wat baie mense al lankal sou weggegooi het.

Kaarte is nie besonder netjies geraam nie – een is op ‘n skemerkelktrollie se bedienoppervlak geplak. ‘n Opgestopte pou, ‘n tarentaal en ‘n uil loer na gaste. ‘n Ronde spieël spog met ‘n stekelrige horingraam. Twee plaashonde lyk na besems, ‘n derde maak dorings in sy pels bymekaar, maar is déél van die huis. Een hond se naam is Adamastor, vernoem na die wind wat by L’Agulhas waai, en klaarblyklik ook na Strandveld Vineyards se internasionaal bekroonde Sauvignon Blanc.

DSC_0422

In die hoofhuis is ‘n oormaat verbeelding ingespan. Jy kry die idee die dekor verander gereeld – geregverdig aldan nie. As jy deur Halfaampieskraal Vier Fees blaai, sien jy hier en daar dat Jan-Georg ten minste soms deur sy huis dwaal en hier iets skuif, daar iets ‘n nuwe lewe gee.

Aandag aan detail is eenvoudig verstommend. Aan ‘n mini-driehoekkassie hang ‘n Britse houtvlaggie. Op ‘n ornamentele leeutjie se kop is ‘n piepklein goud-en-rooi kroontjie. In die een kombuis (daar is twee) is wynglase sommerso in ‘n bondel onderaan ‘n kitsch kandelaar vasgebind.

Ry met die plaaspad langs

As jy nie vir Jan-Georg ken nie, kan jy nog steeds op Halfaampieskraal gaan kuier. Die pad soontoe is stowwerig soos almal wat die Overberg – veral in die somer – ken, sal weet. In die winter is die heuwels malsgroen, maar die pad steeds stowwerig. As jy eers daar is, vervaag die lewe daarbuite. Halfaampieskraal is net duskant Rûens College.

In die bome hang glasboeie, horings en ander verrassende detail

Speel jy’s Kubaans

Club Havana – in ‘n ou trekkerskuur, weliswaar nie vir tabak nie – is vir funksies te huur. Van troues tot dekadente partytjies is al hier gehou. ‘n Rooi tapyt word sommer maklik buite uitgerol. Op die lang binnenshuise tafel is potsierlike lampkappies lomp op gekraakte sementpaaltjies gemonteer en daarna bedraad. Maar gedoriewaar, dit werk.

Bokant die feestafel hang eklektiese kandelare. Een is ‘n tros pers sjampanjeglase; by ‘n tweede skyn die lig deur geriffelde vonkelwynbottels; ‘n derde het plastiekdruiwetrosse en kunsblomme tussen kitsch lampkappies gedrapeer. ‘n Paar meter weg hang ‘n kobaltblou en smaraggroen volstruis- en pouveergedoente.

Club Havana se Kubaanse tema word geaksentueer deur ou sigaarbokse en kelnerinne – wat almal op die plaas woon – se rooi lintbolletjie-armbande sowel as hul pers en rooi blomme agter die oor.

‘n Overbergse resepteboek

Met die bekendstelling van Halfaampieskraal se kookboek, Halfaampieskraal Vier Fees, is die gaste op rojale mini-porsies getrakteer.

DSC_0469

Sigeunerkasserol is in wit boepenspotjies uit ‘n reuse pan geskep; Morokkaanse kofta op stokkies was besonder geurig; en alles is voorafgegaan deur plomp ciabatta met van gekarameliseerde uie tot strepies murgpampoentjies. Komkommer is eers in ment gedoop en daarna met mentblare, koljander en koemyn bestrooi en toe op sosatiestokkies geryg. Die grand finale was baklava oordadiglik gegeur met naeltjies.

Net voor almal oppak, bring ‘n gas ‘n lap met blaarmotiewe tevoorskyn. Met die losbind en ooprol, verhelder Jan-Georg se gesig. Hy sê dit nie, maar op sy gesig staan geskryf: “Een kleed kan mij in vervoering brengen” soos die Nederlanders dit so mooi uitdruk. Hierdie lap gaan Plantasiekamer toe!

 

WAT JY NODIG HET OM TE WEET OOR HALFAAMPIESKRAAL:
 
·        Halfaampieskraal Vier FeesKos en Geselligheid op ‘n plaas in Suid-Afrika: ‘n Fees vir die Oog: deur Maia du Plessis en Simon Scarboro word deur Human en Rousseau uitgegee. Ook in Engels beskikbaar as Halfaampieskraal celebrates. Prys: sowat R265. ISBN 9780798152419
·        Plaasakkommodasie in die Overberg: Drie kamers het slaapplek vir agt mense; een dubbelbedkamer terwyl die res enkelbeddens het; aldrie kamers het hul eie ruim badkamers. Die Griekse kamer is op drie vlakke gebou en spog met ‘n kaggel. Ontbyt en aandete is ingesluit.

E-pos: rooms@kraal.biz of skakel Jan-Georg by 028 452 1744.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 5, 2017 by in 'n Titseltjie dekor / A touch of decor and tagged .