ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Beleef in museum Kafka se gemoed

First published in Die Burger, October 2015

Kafka se Museum van uitmuntendheid, en wroeging

 

Plakkate en T-hemde van Kafka is orals in Praag te koop

Dis somber. Dis donker. Dis om van te wroeg. Dis die oorheersende atmosfeer in die Kafka Museum in Praag in die Tsjeggiese Republiek.

Soos wat Franz Kafka (3 Julie 1883 – 3 Junie 1924) se gemoedstoestand – en die tema van baie van sy skryfwerk – gereeld daar uitgesien het.

Kafka se twee broers het gesterf vóór hy sewe jaar oud was; hy was deurgaans eensaam as kind omdat hy grotendeels deur kinderoppassers grootgemaak is; hy het nie met sy outoritêre pa oor die weg gekom nie; Kafka het gekla dat sy Brotberuf (die werk waarmee hy sy daaglikse brood verdien het) te veel van sy tyd in beslag geneem het sodat hy te min kon skryf; hy wou nie regtig Joods wees nie; hy is in 1917 op 34-jarige ouderdom met tuberkulose gediagnoseer; en sy liefdesverhoudings het nooit na iets konkreets gelei nie.

Dit het vir Kafka gevoel asof hy saam met sy “dooie broers” en “emosioneel afgestompte susters” in ‘n huis saamleef. Kafka se “Letter to his Father” kan as outobiografiese werk gesien word en uit die brief kan ons agterkom dat Kafka homself nooit kon losmaak van sy persepsie dat sy pa hom nie as goed genoeg geag het nie.

Kafka Museum in die aand vanaf Karelsbrug gesien

Franz Kafka was drie keer verloof, twee keer aan Felice Bauer, en een keer aan Julie Wohryzek.  Tot trou het hy nooit gekom nie. Dit was ook redelik algemeen bekend dat hy gereeld bordele besoek het.

Hoewel hy nie aan Milena Jesenská – sy het sy skryfwerk uit Duits na Tsjeggies vertaal – verloof was nie, was hy dalk emosioneel nader aan haar as aan sy verloofdes.  Sy het hom ook geïnspireer om weer te begin skryf na hy ‘n ruk lank nie sover kon kom nie.

In een van sy vele briewe skryf Kafka aan Milena hoe siek hy is, hoe hy aan slaaploosheid ly en hoe sy selftwyfel sy lewe beïnvloed. Toe Milena hom in haar brief probeer oortuig om in homself te glo, het hy geantwoord dat daar “geen manier is waarop jy die teenoorgestelde aan my kan bewys nie.”

In ‘n ander skryf hy: “My hele lewe lank stry ek al teen die begeerte om my eie lewe te beëindig.”

Kafka blyk van kleins af ‘n geneigdheid tot die melodramatiese te gehad het. In ‘n beskrywing van sy kinderdae vertel hy hoe hy saam met die “venynige kok” met ‘n tong soos “bytsoda” soggens skool toe moes stap. Dit was ‘n hele ent en dit was vir hom ‘n absolute foltering.

Huisie nommer 22 in Goue Laan by Praag Kasteel wat Kafka van 1916 - 1917 gebruik het om ongehinderd te skryf

Kafka se huis in die Golden Lane

Met my nuuskierigheid geprikkel gaan stap ek vanaf Kafka se destydse ouerhuis in Nicholasstraat om die hoek van Staromestska, die hoofplein, na waar die skool moes gewees het. Dis toe maar ‘n paar  minute se stap na Masnastraat en dit kon glad nie so erg – selfs vir ‘n jong seuntjie – gewees het nie.

Dalk het dit veel langer gevoel omdat die kok se skeldwoord vir Kafka impulsief en buite beheer beteken het. Volgens Kafka het hy later by sy pa gehoor dat dieselfde woord ook na ‘n moordenaar kan verwys en dit het hom verder ontstel.

Om sy kinderlewe nog erger te maak, kon hy nie die klere wat hy as jongeling moes dra, hanteer nie. Hy het sy liggaamshouding doelbewus verander om by die klere te pas. Hy het totaal ineengedoke voorgekom;  hy het sy wange “laat hang” en sy skouers tot amper op sy bors laat sak.

Daar was oggende wat Kafka nie wou opstaan nie;  hy het gevoel of hy homself wou “opvou” en net daar bly lê.

Met skamele beligting wat deurgaans in die vertrekke en vertoonkaste in die Kafka Museum neffens die Karel-brug gebruik word, word daar gepoog om Kafka se gemoedstoestand uit te beeld.

Benewens lae lig is die mure donker en die vloerbedekking steenkoolgrys wat tot die somber gevoel bydra en besoekers noop om voetjie vir voetjie, amper onseker van hulself, van glaskas na panel na foto-uitstalling te beweeg.

Dis ‘n museum wat die besoeker noop om te léés ten einde Kafka, die mens, en Kafka, die skrywer, te verstaan.

K staan vir Kafka by die ingang van die Kafka Museum

Die vooraansig van die Kafka Museum verklap geensins wat binne wag nie. Daar is twee letters ‘K’ rug aan rug knap regs van die ingang. Ook twee lewensgrootte naakte, blouvitrioelkleurige mansbeelde wat besig is om in ‘n dammetjie voor hulle te urineer. Een se onderlyf roteer terwyl sy penis of en af beweeg. Dalk is die ander maar net stukkend. Of dit is sy afdag.

Glimlag voor jy by die Kafka Museum instap; binne is dit verrykend, maar somber

Die twee standbeelde ontlok ‘n glimlag, nie iets wat jy sommer gaan doen wanneer jy die museum betree nie.

Na afloop van my besoek aan die Kafka Museum stap ek na Cafe Louvre, ‘n eertydse uithangplek van Kafka, om te bepeins wat ek gesien, oftewel gelees, het, en om te kyk hoe lyk díé plek waarheen hy graag gegaan het.

 

Cafe Louvre bestaan reeds langer as ‘n eeu – sedert 1902. Met die Kommunistiese oorname in 1948 is al die meubels uit by die vensters tot in Narodnistraat gegooi. In 1992 het Cafe Louvre ‘n nuwe baadjie gekry.

Kafka en sy boesemvriend, Max Brod – aan wie hy sy manuskripte, dagboeke en briewe toevertrou het – het gereeld hier uitgehang. Kafka het aan Brod uitdruklike instruksies gegee om al sy werk na sy dood te verbrand. Ook Dora Diamant, sy laaste minnares, het later notas en briewe van Kafka – wat sy heimlik weggebêre het – bekend gemaak.

Maar nou ja, as hy dit regtig tot niet wou laat gaan, sou hy dit tog self verbrand het, mymer ek oor my kalkoenroelade met netel-en-amandelvulsel wat seer sekerlik nie in Kafka se tyd op die spyskaart was nie.

Brod het hom, genadiglik, nie aan Kafka se laaste wens gesteur nie.

Die uitsig op die Kafka Museum vanaf Karelsbrug

As jy één ding wat Kafka geskryf het, ter harte kan neem – veral as jy ‘n boekwurm is – is dit wat hy in 1904 aan die kunshistorikus  (en sy eertydse klasmaat) Oskar Pollak geskryf het: “Ek dink ons moet net boeke lees wat ons byt en steek. As die boek wat ons lees, ons nie wakker skud soos ‘n hou teen die kop nie, weet ek nie hoekom ons die moeite aangaan om dit te lees nie. Om ons gelukkig te maak, sê jy? ‘n Boek moet dien as die byl vir die vasgeyste see van ons binneste. Dit is wat ek glo.”

Dalk nie nét sulke boeke nie. En solank ons waak daarteen om nie emoisioneel ‘vasgeys’ in ons alledaagse lewe om te gaan nie.

Om te lees:

  • Onder Franz Kafka se bekendste boeke is Metamorphosis wat handel oor ‘n man wat in sy bed wakker skrik en vind dat hy in ‘n reuse monsteragtige insek verander het; in Letter to his Father reageer Kafka op sy pa se vraag aan hom – verbeeld of andersins – hoekom hy (Franz) bang vir hom (sy pa) is. Of Kafka dit ooit werklik vir sy pa wou gee of stuur, is nie bekend nie. The Trail en The Castle is gepubliseer, hoewel nooit deur Kafka voltooi nie. As jy geneig tot depressie of jou eie selftwyfel is, is Kafka se boeke – veral Metamorphosis  – dalk nie vir jou nie.
  • As jy meer oor Kafka wil uitvind, lees Excavating Kafka deur James Hawes en Kafka, Love and Courage – The Life of Milena Jesenska deur Mary Hockaday.
  • As jy lus raak vir ‘n meer lighartige Tsjeggiese skrywer se werk, verkneukel jou in I served the King of England van Bohumil Hrabal.

Kafka Museum

Hergetova Cihelna, Cihelna 2b, Mala Strana, Praag

Openingstye: 10h00 – 18h00 daagliks

www.kafkamuseum.cz

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 20, 2018 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .