First published in Die Burger, September 2015
‘n (Inter)nasionale dag vir SA se vyfsent-voël
As September – en die lente (by ons) – aanbreek, is dit net mooi die tyd wat bloukraanvoëls begin paar. Kort daarna is dit eierlêtyd.
Dis dan ook heel gepas dat die dag waarop daar wêreldwyd bewustheid van kraanvoëls gekweek word, hierdie jaar op 26 September val. Dit staan bekend as CICAD – Citizens International Crane Awareness Day.
Aan kraanvoëls word in verskillende dele van die wêreld simboliese waarde toegedig: in China simboliseer hulle langslewendheid, in Japan geluk en onder die Noord-Amerikaanse Indiane beskerming aangesien Oupa Kraanvoël sy bene gebruik om as brug te dien vir mense wat ‘n rivier wil oorkruis en na hulle veilig is, gooi die oupa-voël almal wat hul agternagesit het, in die water.
Bloukraanvoëls is in Boesmantekeninge verewig en slegs lede van die Zoeloe-koningshuis kon destyds hul stertvere in hul hooftooisels gedra het.
By Gabriëlskloof – langs die N2 by Botrivier – en naburige plase weet baie Kapenaars noual om na die bloukraanvoëls te kom kyk en foto’s te neem. Veral van Julie tot September as die ‘kraanvoëlkongres’ plaasvind, soos wat Catherine Anderson van Gabriëlskloof dit so mooi beskryf.
Catherine is aktief betrokke by kraanvoëlbewaring en vertel dat hul besonder intelligente voëls is. Haar belangstelling is al van kleintyd aangewakker aangesien haar pa voortdurend roofvoëls gered het en ‘n afvlerk-ooievaar saam met haar in die huis grootgeword het.
Sy het tot onlangs haar eie bloukraanvoël, Blue Bird, grootgemaak na hy homself beseer het. En ‘n tweede keer beseer het sodat hy wéér beenspalke moes kry. ‘n Regte ongeluksvoël – een waarvoor Catherine baie lief geraak het.
Blue Bird het selfs saam met hulle rondgery toe hy nog heeltyd opgepas moes word en hy het selfs saam met hulle Arniston se strand verken.
Hierdie jaar is die kraanvoëlkongres reg langs die N2 waar dit verlede jaar ietwat verder van die pad langs ‘n dam was. Die aanhoudende geraas en beweging van die verkeer blyk hul glad nie te pla nie; ook nie die toenemende aantal kraanvoël-groupies wat van die pad aftrek en vingerwysend kommentaar lewer en kameras uitpluk nie.
Dalk is dit deels omdat Andrew Beukes van die plaas Vrede – op wie se grond hulle vanjaar nes geskrop het – sulke hoë-kwaliteitgars vir sy skape voer én sorg dat daar genoeg vir die vyfsent-voëls ook is. Skaapweiveld word bo lusernlande verkies omdat hul lang bene dit moeilik maak om deur laasgenoemde te loop.
Bloukraanvoëls is opportunistiese vreters en, smaak my, hierdie klompie wat die kongres bywoon, is gars-connoisseurs daarby.
Op die triestige dag wat ek die kraanvoëlkongres ongenooid probeer bywoon, is daar sowat 30-40 kongresbywoners. Drie dae tevore was daar 150, hoor ek.
Ek’s net-net betyds vir die kongres, maar te laat vir die dans. Soos jy deur die Overberg ry, is jy soms gelukkig – dalk eerder geseënd – om die grasieuse en elegante hofmaakdans van ‘n kraanvoëlpaartjie te sien. Dis liggies opwip, dis vlerke uitsprei en dis lang vere wat op die grond flankeer.
As jy ook nog daarby hul kenmerkende harde, amper stotterende, nasale roep (dit klink so: “krrraaaarrr(n)k krrraaaaarrrk”,) hoor – wat glad nie klink soos ‘n geluid klink wat enige ander voël (wil) uiter nie – voel dit of jou beker oorloop van geluk.
Nog feite oor bloukraanvoëls
Besoek ook:
As jy meer wil lees:
Recent Comments