ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Totempale troon uit in Ketchikan

First published in Rapport, October 2020

‘n Hele kultuur in hout

Ketchikan is bekend vir totempale en salm

Daar’s iets aan ‘n totempaal wat vir my heeltemal onwerklik voel. So asof dit iets is wat ‘n mens in ‘n kinderboek sien, of dalk in ‘n ou geskiedenisboek.

My amper vergeelde woordeboek gee die definisie van ‘n totem aan as: Totem is ‘n dier of plant of afbeelding daarvan (meestal op ‘n paal aangebring), wat by bepaalde volke as ‘n beskermgees en mitiese verteenwoordiger, embleem van ‘n famlie of clan beskou en vereer word.

Alaska – The Last Frontier

Met ‘n besoek aan Washington-staat en, veral, Alaska in Noord-Amerika, ‘n rukkie vóór die internasionale reisinperkings tydens die wêreldwye pandemie, was ek dus verbaas om talle totempale op stadspleine en sypaadjies raak te loop.

Bere is een van die motiewe wat gereeld op totempale te sien is

Dit is natuurlik nie oorspronklike en waardevolle totempale nie, maar dis steeds ‘n belewenis om te aanskou.

Waardevolle, geskiedkundige totempale word in glaskaste waarvan die temperatuur beheer word, in geskiedenismuseums bewaar.

Die geskiedenis van totempale

Reeds in die 1800’s het ontdekkingsreisigers in hul reisdagboeke aangeteken dat hulle in Alaska en Kanada totempale teëgekom het. Hierdie totempale was óf binnenshuis óf buite.

Totempale het nie aan die einde van die 1700’s of die vroeë 1800’s voorgekom nie omdat die inheemse volke van Alaska en Kanada toe nog nie oor die gereedskap beskik het om gedetailleerde, dekoratiewe kerfwerk te doen nie. Ook was daar nie genoeg tyd om aan soiets te bestee nie; hulle dae was volgepak met aktiwiteite wat hul oorlewing moes verseker!

In die laat 1800’s het ‘n belangstelling in totempale onder akademici, versamelaars en toeriste opgevlam. As gevolg hiervan is totempale bymekaargemaak en gedokumenteer.

‘n Foto in die Totem Heritage Centre wat illustreer hoe totempale destyds uitgekerf is

Vóór yster en staal in hierdie streke voorgekom het, is skerp klippe, skulpe of bewertande gebruik om die totempale uit te kerf, word daar geglo. Weens dié primitiewe gereedskap was die kerfwerk moeilik en dit het ook ‘n lang tyd geneem.

Totempale is meestal uit Thuja plicata-bome, ‘n tipe sederboom, gekerf. Hierdie bome is tot ‘n groot mate vrotbestand, maar mettertyd vergaan dit tog, grotendeels as gevolg van die klam klimaat van hierdie deel van die wêreld.

‘n Deel van die uitstalling by die Totem Heritage Centre

Aan die begin van die 1900’s is daar omtrent geen nuwe totempale uitgekerf nie. Dit was gedeeltelik omdat party Christen-sendelinge die maak van totempale ontmoedig het. In sommige gevalle het sendelinge ook bestaande totempale vernietig.

Toe die 1930’s aanbreek was daar ‘n hernude belangstelling in totempale op kulturele, artistieke, tradisionele en taalkundige vlak. Só het hierdie inheemse tradisie weer herleef.

In 1938 het die Amerikaanse Wouddiens begin om van die ou totempale te red. Sowat 200 totempale kon gered word. Daar word bereken dat dit sowat ‘n derde van die pale is wat teen die einde van die 1800’s nog gestaan het. Waar nodig, is rekonstruksiewerk uitgevoer.

Die simboliek van totempale

Volgens Wikipedia is die woord totem afkomstig van die woord dodaem in die inheemse Noord-Amerikaanse taal Ojibwe. Dié woord beteken (beskermings)gees, heilige voorwerp of simbool; dit dien as embleem vir ‘n groep mense soos ‘n familie, clan, lyn of stam.

Totempale is kultuurskatte én storievertellers in eie reg.

Totempale is egter nié aanbid nie, was nie godsdienstige simbole nie en is nie gebruik om bose geeste die skrik op die lyf te jaag nie.

Nie almal stem ooreen oor presies wat op hierdie toringhoë heraldiese pale uitgebeeld is nie en waarom dit juis voorgekom het nie.

Teorieë wissel van voorvaders wat herdenk of gesimboliseer word, rykdom en sosiale aansien wat vertoon word, legendes wat geïllustreer is om kultuur oor te dra, belangrike gebeurtenisse insluitende begrafnisse wat só uitgebeeld word, en selfs om met iemand in die openbaar die spot te dryf of hom as skandemaker uit te kryt.

As jy nie jou skuld vereffen het nie of nie ‘n belofte nagekom het nie, sou jy as ‘n skandemaker beskou word.

Totempale is ook as argitektoniese versierings ingespan en is gewoonlik voor belangrike mense, of mense met ‘n hoë aansien in die samelewing, se huise opgerig. Om dié rede kom familiewapens op baie totempale voor. Soms was ‘n totempaal net daar om besoekers welkom te heet.

Kyk uit vir die volgende as jy ‘n prentjie van ‘n totempaal te siene kry: ‘n arend, beer, uil, wolf, padda en raaf. Verskeie bonatuurlike wesens kom ook voor.

‘n Arend bo-aan ‘n totempaal

Die arend is hoog aangeskrewe omdat hulle hoër as enige ander voël kan vlieg. Op hierdie manier kan hulle gevaar voor enigiemand anders bespeur.

Daar is geglo dat bere hulp verleen om bessies te soek en wildesalm te jag en ook dat ‘n beer jou te hulp sal snel as jy in die moeilikheid is.

Uile verteenwoordig wysheid en kennis. Soos ‘n uil wat alles raaksien en observeer, beskik die mens ook oor insig en intuïsie. As jy die intuïsie van ‘n uil het, beteken dit jy sal raaksien wanneer iemand ‘n (figuurlike) masker dra.

Wolwe word as besonder sterk beskou en hulle beeld ook diegene uit wat siekes en swakkes versorg.

Volgens oorlewering bring paddas geluk en welvaart.

Die raaf kom in meer as 90 kultuurstories voor en word bewonder vir sy geslepenheid.

Die Totem-erfenissentrum in Ketchikan, Alaska

Die Totem Heritage Centre is een van die hoofbesienswaardighede in Ketchikan

Volgens smithsonianmag.com huisves die Totem-erfenissentrum in Ketchikan, Alaska 33 oorspronklike totempale sowel as fragmente van totempale. Dit is die grootste versameling oorspronklike totempale in die Verenigde State van Amerika.

Die inwoners van die dorpies waarvandaan dié totempale afkomstig is, het aan die begin van die 20ste eeu na Ketchikan en ander dorpe verhuis omdat hulle nader aan skole en kerke en instansies wat werk verskaf, soos die myne, saagmeule en inmaakfabrieke, wou wees. Die Smithsonian-instituut het tegniese advies tydens die verskuiwing van die totempale verleen.

Ketchika is met reg trots op die Totem Heritage Centre

By die Totem-erfenissentrum kan jy meer oor totemisme leer, totemistiese afbeeldings van naderby bekyk en ook na die tradisionele gereedskap loer wat destyds gebruik is.

Alaska het ‘n fassinerende geskiedenis – van totempale tot delwery

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 27, 2021 by in Noord-Amerika.