ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kuier by Keukenhof se tulpe

First published in Die Burger, March 2020

Koop 'n tulpaandenking by die Keukenhof-geskenkwinkel

Keukenhof is ‘n moetsien!

Hoewel daar oorwegend tulpe in Keukenhof aangeplant is, kom ander blomme soos affodille ook voor

Hoewel daar oorwegend tulpe in Keukenhof aangeplant is, kom ander blomme soos affodille ook voor

In 2019 was daar hartvormige beddings naby die ingang van Keukenhof; die beddings en natuuruitstallings verander elke jaar

In 2019 was daar hartvormige beddings naby die ingang van Keukenhof; die beddings en natuuruitstallings verander elke jaar

Op 5 Februarie 1637 het tulpmanie in Nederland ‘n fenomenale hoogtepunt bereik.

Tulpmanie, of tulpenwoede soos die Hollanders dit noem, het ontstaan toe die aanvraag na tulpbolle die aanbod oorskry het en tot gevolg gehad het dat pryse die hoogte ingeskiet het.

In die 1630’s was tulpe die duurste kommoditeit in Amsterdam; per gewig was dit meer as eenhonderd keer duurder as goud.

Die beroemde – of dalk berugte – veiling op 5 Februarie 1637 is in Alkmaar, minder as 50 kilometer vanaf Amsterdam, gehou.

Die waarde van tulpe

Reeds twee maande vóór die veiling, in Desember 1936, kon ‘n tulpbol wat 3 000 guldens werd was vir die volgende lys goedere geruil word: 8 vet varke, 4 vet osse, 12 vet skape, 24 ton graan, 48 ton rog, 2 groot vate wyn, 4 vate bier, 2 ton botter, 1000 pond kaas, ‘n silwer wynbeker, ‘n stapel klere, ‘n bed met ‘n matras én beddegoed en ‘n skip. Ja, jy het reg gelees! Vir één tulpbol kon jy dit alles in ruil kry.

Die volgende plaas dit in perspektief: ‘n Bedrag van 10 000 guldens was in daardie tyd genoeg om ‘n Hollandse gesin vir die helfte van hul lewensjare te onderhou.

Van waar, Gehasi

Glo dit of nie, tulpe kom nie oorspronklik van Nederland nie. Tulpe is afkomstig van Sentraal-Asië.

Hoe en wanneer daar met die kweek van wilde tulpe begin is, is niemand seker nie. Wat ons wel weet is dat daar teen 1050 reeds tulpe in die tuine van Persië voorgekom het.  In die sestiende eeu was tulpe reeds gewild in die Ottomaanse Ryk.

Niemand weet ook presies wanneer die eerste tulpe in Europa aangekom het nie.

Wat wel gedokumenteer is, is hoe ‘n pakkie tulpbolle op ‘n skip vanaf Istanbul in Antwerp, België aangekom het. Dié waardevolle pakkie was tussen bale materiaal wat deur ‘n handelaar bestel is, ingedruk. Die niksvermoedende handelaar het die meeste tulpbolle gaargemaak en vir aandete verorber. Die paar wat oor was, het hy in sy groentetuin geplant. In die lente van 1563 het die handelaar tot sy verbasing helder tulpblomme in sy groentebedding bespeur.

Daar word bespiegel dat dit moontlik is hoe tulpe die eerste keer in Nederland, vanaf België, beland het.

'n Borsbeeld van Carolus Clusius, een van die mees gerespekteerde botanici wat die wereld nog opgelewer het

‘n Borsbeeld van Carolus Clusius, een van die mees gerespekteerde botanici ooit

Carolus Clusius, een van die mees gerespekteerde botanici wat die wêreld nog opgelewer het, was – ook in die 1500’s – verantwoordelik vir klassifikasie van verskillende tulpsoorte.

Teen die 1630’s is 13 verskillende soort tulpe reeds geïdentifiseer met name soos Couleren, Marquetrinen, Rosen, Violetten en Bizarden. Snaaks genoeg was wit of geel tulpe die gewildste.

Die rooi van Rosen-tulpe en die pers van Violetten-tulpe het soos vlammetjies op elke blomblaar vertoon; die tulpe is volgens hierdie blomblaarpatrone gegradeer. Min het enigiemand toe geweet dat die tulpe ‘n siekte onder lede gehad het wat juis hierdie kleurveranderinge veroorsaak het.

Die begin van die einde

Die tulpversameling wat op 5 Februarie 1637 onder die hamer gekom het, het aan Wouter Bertelmiesz Winkel, ‘n tulpkweker, behoort. Of, om meer akkuraat te wees, die tulpbolle het aan sy kinders behoort, na hy vroeg afgesterf het. Die Alkmaar-weeshuis waar die kinders ‘n heenkome gevind het, was betrokke by die reëlings van die veiling.

In die maande na Wouter Winkel oorlede is, het tulpmanie met rasse skrede toegeneem. Pryse het verdubbel en weer verdubbel.

Die pryse wat Winkel se tulpe op die veiling behaal het, was van die hoogste wat nog ooit behaal is.

Máár: dit was die begin van die einde. Sulke pryse was geensins volhoubaar nie. Veral nie in ‘n mark soos die tulpmark waar kwekers en kopers voortdurend na iets nuuts of unieks op soek was nie.

Met die volgende veiling enkele dae later het niemand gebie nie. ‘n Mens kan jou voorstel daar daar ‘n doodse stilte moes geheers het toe die aanwesiges eers besef het dat iets nie pluis was nie. Amper oornag het die bodem van die tulpmark ineengestort.

Skielik wou almal naarstigtelik al die tulpbolle in hul besit verkoop. Daar was egter nie kopers nie.

Teen Mei 1937 – slegs 3 maande later – is ‘n bedding tulpe wat in Januarie 1637 vir sowat 800 guldens sou verhandel het, vir ‘n skamele 6 guldens verkoop.

Die kat – of die tulpe – kom weer

Nederland is nog steeds bekend vir hul tulpbedryf. ‘n Besoek aan Keukenhof, sowat 40 kilometer vanaf Amsterdam, is ‘n uitsonderlike reisbelewenis. Keukenhof is die grootste en beroemdste blompark in die wêreld. Hul knaloranje brosjure verklaar onomwonde dat Keukenhof “een unieke en overgetelijke belevenis” is.

Keukenhof se tulptuine maak net een keer per jaar vir ‘n paar weke oop. In 2019 het dié natuurbestemming met 7 miljoen blombolle in 800 tulpbedding-“installasies” gespog. Hierdie natuurkunsinstallasies sluit in “schitterende bloemenshows, verrassende inspiratietuinen, unieke kunstwerken, geweldige evenementen en de indrukwekkende tentoonstelling ‘Tulpomania’”.

Om alles te kroon het Keukenhof in 2019 hul 70ste verjaarsdag gevier. Hoe het die viering daar uitgesien? “Met fellen kleuren, hippies, peace en music. Flower power dus!” Aldus Keukenhof.

Keukenhof is ongetwyfeld ‘n móét-sien op jou reiskalender. Die verskillende tuine het name van die Nederlandse koningshuis: Wilhelmina, Juliana/Tulpomania, Beatrix, Irene, Willem-Alexander en Oranje Nassau.

Jy sal ophou tel hoeveel keer jy na jou asem snak soos wat jy van bedding na bedding, van tuin na tuin, loop. Behalwe tulpe is daar ook baie affodille te sien. As jy moeg geloop is, kan jy by die restaurant of by die kosstalletjies iets nuttig voor jy jou wandeling hervat.

  • Bron (aanbevole om meer oor die tulpbedryf te lees): Tulipomania – The story of the world’s mos coveted flower and the extraordianary passions it aroused deur Mike Dash; ISBN 0-575-06723-3

                                                    * * * ‘n Besoek aan Keukenhof * * *

Waar:  Stationsweg 166a, 2161 AM Lisse

Wanneer:  21 Maart – 10 Mei 2020

Hoe om daar te kom: Daar is gereelde busse wat vanaf verskillende plekke net na Keukenhof ry. Die maklikste is Bus 858 vanaf Schiphol-lughawe, maar daar is ook busse vanaf die stadskern van Amsterdam en vanaf ‘n paar ander dorpe.

Kaartjies vir Keukenhof: Bespreek vooraf aanlyn. Net ‘n sekere aantal besoekers per dag word toegelaat. In 2020 kos ‘n toegangskaartjie vir Keukenhof 39 euro.

Beplan vooraf:  Nederland, veral Amsterdam, is tjok en blok in tulpbloeityd. Bespreek verblyf lánk vooraf. Dis heelwat goedkoper om in ‘n kleiner dorpie eerder as in Amsterdam self te bly. Dis maklik om vanaf enige dorp op die trein na Schiphol te spring en vandaar op die bus te klim.

Vind meer uit: https://keukenhof.nl/en/

Keukenhof is die beroemdste blompark ter wereld

Keukenhof is die beroemdste blompark op die planeet

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 11, 2020 by in Europa and tagged .