ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Padstalle – so bekend soos soetpampoen en braaivleis

First published in Die Burger, December 2012 

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership) 

Padstalle wat luukse hotelle sal laat les opsê

Of dit nou ‘n flentergeboutjie by ‘n plaashek is of ‘n swierige opstal met ‘n rylaan, jy word genooi om stil te hou. Plaas-  of padstalle het deel van die Suid-Afrikaanse geografie geword. Ek laat my nie twee keer nooi nie!

‘n Blink ster wat wink

dsc_0274.jpg

Op die R44 tussen Klapmuts en Wellington wink ‘n rooi ster jou nader. Die naambord verkondig trots: “The  Bohemian Take On Rocking it Plaas Style.” Jare der jare gelede was hier ‘n trekker-museum. As ek ‘n ongebruikte trekker gehad het, het ek hom hier kom parkeer.

Met die instap omvou die geur van sjokolade jou. Hier word sjokmodderkoekies gebak wat in jou mond smelt. Van heinde en verre word hiervoor hiernatoe gery.

Kerplaks in die middel van die vertrek staan ‘n kaggel wat sommer as ‘n swartbord dien. Die res van die Red Star – van die plaasstoep tot die badkamers – is plesierig eklekties.

Dis ‘n stil weeksmiddag en op die oomblik is ek die enigste besoeker. Selfs die pad is stil. Hoekom verbeel ek my dan dat iemand agter my staan? Of vir my uit die oorkantse hoek loer?

‘n Dassie (en donkies) op ‘n bult

As jy Sir Lowryspas ken, ken jy Dassiesfontein. As jy Dassiesfontein ken, weet jy van hulle outydse moerkoffie en dik plaasbrood met jêm en kaas. Selfs toeriste-busse doen nou al hier aan om aan hierdie eg Suid-Afrikaanse padkos te smul.

Die donkies – op die oomblik is daar balhorige peuters – is net so lief vir die brood. Hulle kom holderstebolder nader met die roepslag en stamp mekaar speels uit die pad uit.

Dassiesfontein is propvol, tot boordens toe vol gepak met snuisterye. Die dak hang vol kandelare en selfs op die stoep wat oor die canola-velde uitkyk, lê ou ysters, hekgeraamtes, grafies uit die Tweede Wêreldoorlog en wawiele. Met die instap skuur jy teen ‘n familie bokkems.

By Dassies eet jy boerekos; daar’s koue bier; hulle het al ‘n reputasie opgebou met hul Queen Anne – en Dover-koolstowe wat te koop is; op Saterdae is stomende afval op die spyskaart; by die plaasstal-afdeling is van beskuit tot droëvrugte sowel as enamelskottels met deksels.   ‘n Handvol winkeltjies met van vilt tot tuintoebehore maak ook nog deel uit van Dassiesfontein.

  • Op die uitgebreide webtuiste dassies.co.za kan jy jou vooraf verlustig in alles en nog wat – alles beskikbaar by Dassiesfontein.

‘n Dubbele dosis in Paternoster

As jy so deur die Oep ve Koep-winkel drentel, val jou oog onwillekeurig om items wat herinneringe wakkermaak. Jy wonder kortstondig of jy nie een van die kolwyntjies as voorgereg moet nuttig nie. Dalk maar eerder ‘n jêmpie saamvat huis toe.

Hoewel almal wat al Paternoster was, dit as die Oep ve Koep-winkel ken, is sy regte naam eintlik Die Winkel op Paternoster wat bo die deur in blou letters pryk. Dis egter die rooi Oep ve Koep-bord net duskant die vissersbootjie wat eerste die aandag trek.

Hier’s seesout, rooi enamelbekertjies, konfyt en konserf, etse van die omgewing en enigiets wat jare terug op ou kombuisrakkies sou gepryk het.

Bokkombrood is as 'n laaste gedagte bygevoeg

Skuins oorkant die pad is Paternoster se Padstal, behang met ou nette en verweerde boeie. Hier hou ‘n kwaadkat klaarblyklik wag wat enige hond sal laat les opsê, spog die baas van die stal. Ook hier rus ‘n bootjie, Windekind, op sy sy.

Tussen vishoeke en visnette koop jy roll mops, kerrievis, ingelegde mossels asook gemmerbier, koeksisters en, weereens, konfyt.

Kom dans weer met die Rooi Rok

Jy ry nie sommer hier verby nie – jy moet weet waar dit is. As jy eers weet, word jy ‘n getroue volgeling.  Suikersoet aarbeie asook allerhande aarbei-produkte sukkel om hul gelyke op ‘n ander plek (in die Paarl ofte nie)  te vind.

Vandag sit ek op die kruiwa; more klim ek op die stellasie

Eintlik kan jy hiernatoe ry net omdat jy lus is om te glimlag; dalk het jy iets nodig om jou dag op te kikker. ‘n Pienk vark is al verbleik deur die son, maar aan energie ontbreek dit nie – die vark klim op ‘n kruiwa, staan met een poot in die lug of klouter op ‘n strooibaal. As jy nie weet wie (rugby) speel hierdie komende Saterdag nie, is daar ‘n tong-in-die-kies leidraad wat summier kant kies.

Agter die Rooi Rok is allerhande verwikkelinge aan die gebeur – ‘n kwekery  wat beplan om sewe dae per week oop te wees, het reeds geopen en groei met rasse skrede.

 

 

2 comments on “Padstalle – so bekend soos soetpampoen en braaivleis

  1. Hessie Bosman
    January 24, 2018

    Pragtig. Dit lees so lekker. Altyd!!

    Get Outlook for Android

    ________________________________

  2. ilsez
    June 25, 2021

    Dankie so baie, Hessie Bosman!

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 24, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .