ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Jol in Jaipoer – Agra en Delhi

First published in Beeld, November 2017

‘n Dol gejol

‘n Besoek aan Indië laat nie almal met sterre in hul oë nie. Ja, dis fassinerend, dis anders, dis uniek.

Dis ook bésig, dis raserig en dis ongetwyfeld… vuil.

Cow&filth in India

My sus, Esna, se foto wat absoluut vasvang hoe dit in hierdie land kan lyk

Op ‘n televisiereisprogram het ek ‘n besoeker aan Indië – toe reeds ‘n paar weke in die land – aan die onderhoudvoerder hoor sê: “Jy vra wat ek van Indië dink? Om die waarheid te sê, sal ek daaroor moet dink. Ek vermoed dit sal my so vier jaar neem voor ek alles verwerk het.” Ek voel of ek dit wil beaam.

Sou jy nét op ‘n eksklusiewe toer – of na ‘n ashram (meditasieklooster) – gaan, mis jy die essensie van Indië. Dít wat jou soms laat wegdeins, net om ‘n paar oomblikke later met bekoring en verwondering te vervul.

Delhi is dol

In Delhi – ook bekend as Nieu-Delhi – gaan dit – in een woord gesê – dol.

Kantspieëltjies pas nie aan motors of enjingedrewe groen riksjas nie, want almal ry te na – en te vinnig – aan mekaar. Flikkerligte blyk ‘n opsionele ekstra te wees. Olifante stap in die straat rond; heilige koeie slaap in die middel van die pad.

Riksja-drywers ry aspris na ‘n familielid se winkel – met die latere verskoning dat dit oppad na jou bestemming is of met ‘n ‘toevallige raakloop’ van ‘n neef of broerskind wat eers gegroet moet word en na wie se ware jy gou moet kom kyk.

As jy egter voorbereid is op wat op jou wag, kán jy ‘n jol in Jaipoer, Agra en Delhi hê. En jare later steeds verwonderd daaroor wees.

Delhi het meer as 1300 monumente; baie daarvan is egter net van belang vir dié wat geskiedkundig of op persoonlike vlak daarin belangstel.

As die geroesemoes nie te veel vir jou raak nie, kan die besienswaardighede en monumente jou vir ‘n lang tyd besig hou.

Die Rooi Fort in Ou Delhi is in die mid-1600’s klaar gebou. ‘n Oudiogids help om die geskiedenis uit te lê en beskryf hoe dit daar uitgesien het toe die keiser na die voltooiing van die fort op sy olifant – met sy gevolg agterna – die strate in gery het. Daar is ondergrondse kamers wat destyds vir koelte gebruik is en in die Naubat Khana-vertrek is die keiser se troon.

Al wat jy moet doen om Chandhi Chowk-mark te bereik, is om die straat oorkant die Lahore-hekingang van die Rooi Fort veilig oor te steek. Dis makliker gesê as gedaan.

Loer vinnig na die slapende riksjadrywers wat op klandisie wag wat hulle moet wakker skud.

Voor jy ‘n tree verder versit, is ‘n besoek aan die Digambara Jain Tempel op die hoek van die eerste straatblok ‘n móét. By die tempel is ook ‘n voëlhospitaal wat veral duiwe versorg word. Op die grondvloer is meditasiekamers; op die eerste vloer sit mense wat deur priesters – amper almal in oranje geklee – bedien word. Die priesters skep rys met bakhande op en plaas dit voor die mense neer. Een priester dra ‘n tiara soos wat skoonheidskoninginne gewoonlik ophet.

Net langs die Digambara Jain Tempel is die 800-jaar oue Gauri Shankar Tempel. By die ingang sit mans kruisbeen in verhewe stalletjies waar hulle stringe blomme – krisante en madeliefies – verkoop.

In die binnehof is ‘n marmerstoel waarop Bhagwat Swaroup Brachma Chari, ‘n Hindoe-heilige, blykbaar vyftig jaar deurgebring het. ‘n Foto van hom sowel as sy sandale is nou op die stoel uitgestal.

In altaarhoekies sit heiliges tussen prente en afbeeldings van gode. Sommige lui klokke terwyl hulle gebede prewel. Elke heilige het ‘n lang dun vlegseltjie wat teen sy rug afhang. Hulle glo dat hulle aan die vlegseltjies hemel toe opgetrek gaan word.

Voor jy links draai om die stegies te verken, verkyk jy jouself aan parmantige apies wat aan elektriese drade hang en hul mede-apies – en die voetgangers – terroriseer.

In Dariba Kalanstraat (Straat van die Onvergelykbare Pêrel) is verskeie goudwinkels wat goue juweliersware per gewig verkoop. ‘n Entjie verder aan is ‘n beroemde lekkergoedwinkel, Jalebi Wala. ‘n Jalebi is ‘n tipe Indiese koeksister.

By die nabygeleë Kinari Basaar kom voornemende bruide bymekaar om tafelversierings, geskenkies vir die huweliksgaste en papiermâché-maskers uit te kies.

Sweer jou riksja-drywer die dood – net nie deur olifantpoot, ‘n metode wat die keisers van ouds gebruik het nie – voor oë en gaan bekyk die Baha’i Aanbiddingshuis (House of Worship).

Die Bahia-tempel in Delhi

Die Bahia-tempel in Delhi

Dié Lotustempel is in die vorm van ‘n lotusblom – ‘n simbool wat kenmerkend van Hindoeïsme, Boeddhisme, Jaïnisme en Islam is. Die blomblare is 35 meter hoog en in ‘n spesiale beton gegiet wat –toe dit in die 1980’s gebou is – somernagte afgekoel moes word; dus is die beton met ys gemeng.

Eet: By Chor Bizarre Restaurant – veral vegetaries – in Hotel Broadway, Asaf Alistraat en by Karims – veral skaapvleisgeregte – in Matya Mahal Basaar; beide in Ou Delhi-Noord.

Drankies: By Chandhi Chowk drink jy tee in kleikommetjies wat jy op die grond stukkend gooi as jou tee op is.

Inkopies: Pouveerwaaiers en skryfbehoeftes by Kinari Basaar, Chandhi Chowk en pragtige mans- en vroueklere by enige van die drie take van Fabindia. (www.fabindia.com)

Vermy: Riksjas wat jy van die straat af naderwink as jy nie lus vir stry, baklei en rigting hou nie. Boek dan eerder geakkrediteerde riksjas.

 Pak af in Agra

Vra jy vir iemand of hul weet waar Agra is, gaan jy heel moontlik met ‘n frons begroet word. Uiter jy egter die magiese ‘Taj Mahal’ weet ieder en elk dadelik waarvan jy praat, of hul daar was, aldan nie.

Agra is die tuiste van die manjifieke Taj Mahal wat nie kán teleurstel nie.

Keiser Shah Jahan het die Taj Mahal vir sy vrou, Mumtaz Mahal, na haar afsterwe gebou. Sy is met die geboorte van hul veertiende kind oorlede.

Hoewel Agra met ‘n dagekspedisie – ry met die vroegoggend-toeristetrein Shatabdi Express – vanaf Delhi besoek kan word, is dit aanbevole om meer as een besoek by die liefdesmonument af te lê om die Taj en die omringende tuine op verskillende tye van die dag te sien.

Om die draai van die Taj Mahal is die Agra Fort. Vandaar kan jy deur die stegies en winkeltjies van die Ou Dorp dwaal.

Eet: Bederf jouself met ‘n ete by Mughal Room in die Clarks Shiraz Hotel, Sadar Bazaar-distrik, Agra.

Drankies: Vrugte-lassi (melkskommel) by Joney’s Place, Miyan Nazirstraat, Ou Agra.

Inkopies:  Kwaliteitware by die inkopie-arkade in die Four Points by Sheraton Agra Hotel, Fatehabadstraat, Agra.

Vermy: As jy haastig is of te min tyd in Agra, het, vermy almal – maar bly vriendelik – wat voorgee dat hul slegs met jou wil gesels om hul Engels te verbeter. As jy nie van skares hou nie, vermy die Taj Mahotsav-fees wat in Februarie gehou word.

 ‘n Jol in Jaipoer

Orals in Indië is dit ‘n fees van kleure en geure, ontwerpe en argitektuur, maar in Jaipoer nog soveel te meer. Jaipoer staan bekend as die “Pienk Stad”.

Behalwe vir die Jantar Mantar is die Paleis van Winde ook 'n moet-sien in Jaipoer

Behalwe vir die Jantar Mantar is die Paleis van Winde ook ‘n moet-sien in Jaipoer

Die bruinpienk Hawa Mahal oftewel Paleis van die Winde is in 1799 gebou. Alhoewel dit vyf verdiepings hoog is, is dit weinig meer as ‘n fasade.

Dié paleis is oorspronklik só ontwerp sodat die vroue van die koninklike familie op die toegeboude balkonnetjies kon sit en deur die fyn heuningkoekvensters kon kyk wat buite aangaan sonder dat hulle self gesien kon word.

Die Amber Paleis is net buite Jaipoer – op die plek waar die antieke hoofstad van Jaipoer-staat gesetel was. Daar is in 1592 begin bou aan die Amber Paleis wat op ‘n heuwel gesetel is en oor ‘n meer uitkyk.

Loop elke saal na sodat jy nie enige trap, reeks pilare, blink spieëltjieplafon, houtinlegwerkpaneel of mosaïekmuur misloop nie. Die hoogtepunt is Jai Mandir (Saal van Oorwinning).

Jantar Mantar is ‘n sterrewag sonder teleskope wat in die 1720’s deur Jai Singh opgerig is. Jai Singh was ‘n soldaat met ‘n groot belangstelling in sterrekunde.  Jantar Mantar is fassinerend, nie net oor ‘n mens verstom staan dat hierdie klipstrukture as instrumente gebruik is nie, maar ook oor die grasieuse lyne wat dit na beeldhouwerke laat lyk.

By die Johari Bazaar lê bont rolle materiaal tot teen die plafonne. In ‘n uur of drie stik hulle vir jou ‘n salwar kameez (wye broek met jurkbloes) aanmekaar.

 Eet: Baingan Bharta (eiervrugkerrie) by Taj Jai Mahal Palace Hotel (Jacobstraat, Jaipoer) of ligte middagetes by die Rajput Room of Verandah Café by Rambagh Palace Hotel (Bhawani Singhstraat, Jaipoer), ‘n ou paleis wat in ‘n luukse hotel omskep is.

Drankies: By die Polo-kroeg by Rambagh Palace Hotel kyk jy vanaf die terras oor die uitgestrekte tuine uit. Jy’s dalk ook so gelukkig dat ‘n statige dog eksotiese troue-optog met kamele en olifante verbykom.

Inkopies: Somerrokke, -kamerjasse, tafeldoeke en dekens by Anokhi Boetiek (C-11 Prithvirajstraat, Jaipoer), insteekleerskoene met omkrulpunte, kraletjies en borduurwerk by Charmica (oorkant Natraj Restaurant, MI-straat, Jaipoer) en kleurvolle marionette met tulbande orals op straat.

Vermy: Olifantritte – kyk net na hul mooi blommetjiesboude. Wees versigtig om edelgesteentes te koop – baie mense word ingeloop deur te veel te betaal of koop hulself ‘n kat in die sak (oftewel glassteentjies in juweelkleure).

2 comments on “‘n Jol in Jaipoer – Agra en Delhi

  1. Auriel Jordaan
    August 11, 2019

    Love reading of your travels!

    • ilsez
      December 24, 2019

      Thanks so, SO much, Auriel. It is my passion, above all other things.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 10, 2019 by in Asië and tagged .