ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dag 1: Aangename kennis, River Royale

Sondag 

DSC_0096

Knyp jouself, dink ek toe ek in Bordeaux aankom. Nog ‘n keer. Dis regtig waar – ek’s oppad na die River Royale, Uniworld Boutique River Cruise Collection se luukse skip waarmee ons op drie riviere, die Garonne-, Gironde- en Dordogne-rivier, gaan vaar.

DSC_0006

Deurgaans het dit nog soos ‘n droom gevoel. Ek was amper bang dat hulle by die lughawe gaan sê: “Nee, gaan terug huis toe. Vlieg gaan jy nie vlieg nie.”

Voor ek nog op die Bordeaux-lughawe kon wonder waarheen nou, sien ek ‘n lang, aantreklike Fransman in ‘n swart pak – oe la la – met ‘n plakkaat waarop ‘Ilse Zietsman’ staan. Sy Franse aksent laat my by myselwers dink: “I love it when you speak foreign.”

DSC_0281

Dis egter net ‘n vlugtige ontmoeting. ‘n Luukse Uniworld-bus met ‘n foto van ‘n kajuit op die sypaneel gee ‘n aanduiding van wat my op die River Royale gaan inwag. Ek’t juis in die voorafgaande weke aspris nie gaan kyk wat alles op my wag nie sodat die verrassing soveel groter kon wees. Tog oortref dit op die ou end nog steeds my wildste verwagtinge.

Dis sowat 45 minute se ry van Bordeaux-lughawe na Quai des Chartrons waar die River Royale vasgemeer is om op haar gaste te wag. My tong knoop as ek dit reg probeer uitspreek, maar uit die Franse se monde val dit reg op die oor en klink sommer romanties.

Die River Royale is by die promenade van Bordeaux vasgemeer. Die personeel – 41 vir 130 gaste – groet al die passasiers soos wat hulle aankom asof ons mekaar al vantevore ontmoet het. Uitermate goeie opleiding en ongetwyfeld ‘n passie vir hul werk, mymer ek, soos wat nog telkemale op hierdie bootvaart sou gebeur.

DSC_0406

Met ‘n latere geleentheid deel die hotelbestuurder van die River Royale, Sebastien, my mee dat hul personeel vir net sowat ‘n week lank opgelei word. As jy by Uniworld Boutique River Cruise Collection in diens geneem word, is jy reeds ervare, uiters goed opgelei en het jy die nodige finesse en afronding, lei ek af.

Die River Royale is eintlik ‘n drywende boetiekhotel, tref dit my toe ek my eerste tree op die boot gee sowel as toe ek ‘n rukkie later my kajuit binnetree. Die skeepsportaal waar ons ontvang word, kon in ‘n stylvolle hotel in die hartjie van Parys gewees het.

‘n Glas Franse sjampanje heet my en Pieter, my man, wat weens besigheidsverpligtinge op ‘n ander vlug was, maar minute na my opgedaag het, welkom. Merci beaucoup, koor ons in ons beste Frans.

Om in te boek, neem net ‘n paar minute. Ons kon vooraf op Uniworld Boutique River Cruise Collection se webwerf registreer, maar selfs al sou dit nie daarvoor wees nie, word daar nie nog tyd verwyl met tydrowende fieterjasies nie.

In ons kajuit – Stateroom 316 – wag ‘n vrugtebak en ‘n bottel Bouchard Finlayson Hannibal (www.bouchardfinlayson.co.za) op ons. Ons voel dadelik trots Suid-Afrikaans. Later besef ons eers Uniworld Boutique River Cruise Collection se diens strek sover dat hulle ons (meer) tuis wou laat voel deur ‘n bottel wyn van ons tuisland in ons kajuit te plaas nadat hulle ons nasionaliteit met registrasie nagespeur het. ‘n Bottel Franse sjampanje – allesbehalwe te versmaai – wag gewoonlik gaste in hul kajuit in.

Op die La Gironde-dek (daar is ook ‘n Bordeaux-dek en ‘n La Durance-dek) waar ons bly, is die ‘staterooms’ se dekor in skakerings van blou met afdrukke van oumeesterskilderye. Die badprodukte is deurgaans L’Occitane (www.loccitane.com)

Na ‘n glas Bouchard Finlayson Hannibal kan ons nie wag om die res van die River Royale te verken nie.

Helaas, ons kom nie verder as die luukse sitkamerkroeg wat ons terstond verlei nie. Dis so groot soos ‘n hele paar sitkamers met rusbanke, gemakstoele en ronde koffietafels wat in hoekies en groepies gerangskik is sodat ‘n paar gaste saam kan sit en reisverhale kan deel.

Om met Uniworld Boutique River Cruise Collection te reis, het verskeie voordele wat moeilik oortref word. Een daarvan is dat letterlik álles ingesluit word. Dit sluit alle etes, alle drankies wat op die uitgebreide wynlys en in die kroeg voorkom én alle ekskursies – tydens die vaart vind ons uit presies hóé eksklusief dit is – in. Dit sluit selfs die fooitjies in – jy hoef dus nie nog te wonder vir wie almal jy ‘n footjie in die hand moet stop en hoeveel dit moet wees om die regte ding te doen nie.

In die elegante sitkamerkroeg word soggens interessante lesings met gepaardgaande skuifievertonings aangebied. Ek het gesorg dat ek nie één misloop nie.

Saans is daar ‘n singende pianis wat ‘n feestelike atmosfeer skep. Jy het skaars gaan sit voor ‘n glas Franse sjampanje – of ‘n keuse van verskeie Bordeaux-wyne – tesame met kroeghappies voor jou verskyn.

Of wat van ‘n laventeljenewer bekend as ‘n Lavender Collins? Of Chartreuse, ‘n Franse likeur wat sedert 1737 deur monnike gemaak word. Die oorspronklike resep vir Chartreuse, ‘n lemmetjiekleur likeur, dateer uit 1605 en volgens hierdie resep word 130 kruie, plante en blomme gebruik.

Op glas- en houttafels lê glansboeke oor Parys of Frankryk of resepteboeke oor Franse kookkuns waarin jy kan blaai. Eintlik is daar nie eers regtig tyd daarvoor nie. Soos wat ons mede-gaste op die River Royale van die Uniworld Boutique River Cruise Collection ontmoet, kom ons gou agter dat daar so baie interessante reisstories is wat oor en weer vertel word dat jy nie eintlik ‘n oomblik wil mis nie.

Ook lei ons – op ons eerste vaart – gou af dat eens ‘n Uniworld-aanhanger, altyd – of baie gereeld – ‘n Uniworld-aanhanger. Heelwat van ons mede-gaste – ‘n lekkerte is dat hier passasiers van heinde en verre kom; dus ontmoet jy mense van allerhande nasionaliteite – is óf op hul hoeveelste Uniworld-vaart (ek hoor van een reisiger wat al 27 Uniworld-vaarte meegemaak het) óf na die Bordeaux-vaart klim hulle op hul volgende vaart in Parys-Normandië (www.uniworld.com/za/river-cruise/europe/france/paris-and-normandy/2018-paris-to-paris/) en sommige op nóg een daarna.

Wat vir hulle uitstaan, is die intieme atmosfeer, uitmuntende diens en bowenal die 5-stergehalte van elke maaltyd en die Franse wyn as pasmaats saam met elke middag- en aandete. Daar’s ook Franse sjampanje saam met ontbyt. Wat meer wil jy hê!?

*As jou bagasie soos myne nie saam met jou opdaag nie, wil jy ook hê ‘n maatskappy soos Uniworld Boutique River Cruise Collection moet dit namens jou opvolg (nog te meer omdat jy Frans magtig moet wees om te verseker dat álles moontlik gedoen word) en sorg dat dit by jou boetiekskip afgelewer word.

3 comments on “Dag 1: Aangename kennis, River Royale

  1. Vanessa
    November 22, 2017

    Ok so i am quite sick with jealousy!!! This all sounds like a dream!

  2. Nicolene
    February 25, 2018

    Ah dankie Ilse
    Asemrowend mooi…maak my nou lus om daai vakansie te boek!

  3. ilsez
    January 18, 2023

    It is a few years later and it still feels like a dream, Vanessa!

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 20, 2017 by in Bordeaux, ek hou van jou and tagged , .