ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kloppitieklop by Kaapsche Hoop

First published in Beeld, June 2020

Bestuur versigtig – pasop vir kinders, perde en troeteldiere

Met die aanry vanaf Nelspruit na Kaapsche Hoop (of Kaapsehoop) spring ek amper uit my vel van opgewondenheid toe ons nader aan ons bestemming kom. Ek sien die wildeperde, waarvan ek maar onlangs eers gehoor het, langs die pad staan!

Weliswaar baie verder as ‘n klipgooi weg. Min het ek geweet wat wag.

Kaapsche Hoop is baie gewild onder besoekers

Met die intrapslag kondig ‘n naambord aan: Kaapsche Hoop verwelkom u. Met ‘n romantiese beskrywing daarby: “Ons plek in die wolke, waar kinders, wildeperde en vriende in die natuur kom speel.”

Ry stadig!

Maar ook: “Die voer van die perde lei tot slegte gewoontes asook tot die risiko van ernstige beserings vir die perde en mense. Wees asseblief verantwoordelik.” En nog ‘n hele kaboedel ander algemene reëls daarby.

Ag, en ek wou die perde so graag bederf en het juis gehoop agter die sitplek rol ‘n verdwaalde appel rond. Ek gee egter bes – hierdie reël is nie gemaak om gebreek te word nie. Al wil ek hoe graag.

Waar kom hierdie wildeperde vandaan? Daar is so 150–180 van hulle, word daar geskat, lees ek na ons besoek. Troppe wissel tussen agt en 12 elk en hulle beweeg vrylik oor ‘n area van 17 000 hektaar.

Die perde lyk glad nie wild nie en baie se gedrag dui ook daarop dat hulle gemaklik met mense omgaan

Kyk hoe staan hulle – allesbehalwe wild, so lyk dit – geduldig, gedienstig, gedwee in die skadu van ‘n klompie koeltebome, skuins oorkant ‘n handvol gastehuise.

Daar’s ‘n paar teorieë oor die afkoms van Kaapsche Hoop se perde. Die perde kan afstammelinge wees van die perde wat die Britse troepe na die Anglo-Boereoorlog losgelaat het; van polisieperde wat agtergebly het na die plaaslike polisiekantoor jare terug gesluit is; of laastens van die perde wat destyds deur transportryers tussen die Laeveld en die Witwatersrand gebruik is soos wat dit in mynjoernale van die laat 1800’s opgeteken is.

Kaapsche Hoop se perde kry soms perdesiekte. Elke somer sterf ‘n paar perde, hoofsaaklik teen hoogtes bo seespieël laer as wat Kaapsche Hoop geleë is.

Die perde loop, wanneer die lus hul pak, die dorp binne

Goud is so teen 1882 by Kaapsche Hoop ontdek toe die plekkie nog as Duiwelskantoor bekend was. Die regeringsgeboue is in 1885 opgerig. Nie lank daarna het die dorpie – net groter as ‘n gehuggie –as Kaapsche Hoop bekend geraak.Op ‘n stadium gedurende die goudstormloop was daar om en by 50 kroeë, word vertel.

Nader wil die troppie nie kom nie. Hier strek een, daar staan ‘n ander luiweg op, maar die lus vir kom kennis maak, ontbreek.

As die berg nie na Mohammed kom nie, gaan verken Mohammed, oftewel die Zietsmans, maar die dorpie met sy myntema en –argitektuur te voet.

By die Bohemia Groove Cafe sit die tuin stampvol; op die dak van Angels Mist Gastehuis pryk ‘n ysterengel; op die markie word uilwolmusse verkoop; by De-Liteful Glaswerke vang die son se strale die kleure van die glasbewertjies.

‘n Kuierstoep by Koek ‘n Pan

By Salvador Bistro kan jy net jou hond saambring as hy deur ‘n spesiale gaatjie pas. Dis nie net die dorp wat vaste reëls het nie; die Department van Honde wat hier die bewind voer, maak hul eie reëls vir hul eie gebied.

 ‘n Padteken maak ‘n ou grappie: Gaterige pad – Maak asseblief jou sitplekgordel vas en haal jou valstande uit. Ek stap vinnig aan voor ek dalk soiets moet aanskou.

Met die verbystap hoor ons die kerkgangers in Pronoia sing en dit val sag op die oor

In die Pronoia Kapel sing hulle gesange synde ‘n Sondagoggend. Die plaaslike kroeg heet jou vanaf die stoep ‘shalom’, maar die deure is bottoe.

‘Shalom’ wink van ‘n stoep af

Die sinkplaatmynhuise spog met netjiese stoepies; die busstop – met houtbankie en al – blyk nie meer in gebruik te wees nie. Om die hoek is Koek ‘n Pan Kothuis en langsaan Koek ‘n Pan Pannekoekhoek.

Net voor ons vertrek maak ons oplaas nader kennis met Kaapsche Hoop se perde.

Watwou, die “lei tot slegte gewoontes” soos ek met die inry gelees het.

Skaars is ons terug in ons voertuig in die middel van die dorp toe ‘n paar voorbarige perde nadertrippel. Ek dog ‘n neusvryf of maanhaarstreel is waarvoor hulle naderkom.

So ‘n stout karnallie van ‘n perd! Hy het sommer sy hele kop by die oop venster ingedruk!

Allesbehalwe! ‘n Bruinvosperd sien die oop venster as ‘n ongeuiterde uitnodiging. Voor ons nog besef wat aan’t gebeur is, is sy kop woertswarts tot teen die stuurwiel en ewe vinnig daaruit met ‘n wegneemkoffiebekertjie in sy bek.

Ons wil nog keer en gryp, maar hy’t ons gefnuik. Net om ‘n paar koue te gee voor die onaptytlike happie summier uitgespoeg word. Hul slegte gewoontes is al deeglik aangeleer. Dit sal meer as ‘n kennisgewingbord vat om hierdie klompie in die bek te ruk.

Meer van Kaaps(ch)e Hoop

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 10, 2021 by in Die res van Suid-Afrika.