ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Eers Theresienstadt, toe Terezín

First published in Rapport, February 2020

‘n Dodelike dorpie

Buite Praag, die hoofstad van die Tsjeggiese Republiek, lê Terezín, ‘n dorpie, wat naby genoeg is dat dit met ‘n dagekspedisie besoek kan word.

Terezín was eers as Theresienstadt bekend toe dit in 1780 in opdrag van Keiser Josef II as ‘n militêre vesting gebou is. Dié vesting is na Keiserin Maria Theresia, die ma van Keiser Josef, vernoem.

Voor jy by die hekke van Terezin instap, is dit wat jy sien

Voor jy by die hekke van Terezin instap, is dit wat jy sien

Terezín het egter tydens en na die Tweede Wêreldoorlog berugtheid verwerf as ‘n tronk en konsentrasiekamp waar ongeveer 150 000 mense, meestal Jode, tydelik of permanent aangehou is.

Volgens Lonely Planet het 35 000 mense van honger, siektes of selfmoord in Terezín gesterf .

Terezín, oftewel Theresienstadt soos dit weer deur die Nazi’s genoem is, is voorgehou as ‘n Joodse toevlug en as ‘n sogenaamde spadorp of “model-ghetto” waar Jode behandeling kon ontvang en waar hulle veilig sou wees.

Die Nazi’s het selfs so ver gegaan om die Internasionale Rooikruis in 1944 en 1945 te nooi om Terezín te besoek om inspeksies af te lê.

Voor die besoek van die Rooikruis plaasgevind het, het hulle die baraknommers waar die Jode aangehou is, met straatname vervang en van die geboue is opgeknap. Hulle het voorgegee dat daar ‘n bank, ‘n kleuterskool en ‘n paar winkels binne die “spadorp” bestaan. Hulle het ook beweer dat ‘n outonome Joodse ‘regering’ by Terezín funksioneer.

Om oor die kinders in Terezin te lees, laat die siel trane stort

Om oor die kinders in Terezin te lees, laat die siel trane stort

Die kinders van Terezín-konsentrasiekamp het ‘n opera genaamd Brundibár vir die Rooikruis opgevoer. Een van die komponiste van Brundibár, Hans Krása, is in Augustus 1942 na Terezín gedeporteer en saam met ‘n paar ander volwassenes het hulle dié musiekblyspel gebruik om die kinders in die konsentrasiekamp se gemoedere hoog te probeer hou. Daar was ook geheime kunsklasse vir die kinders wat deur ‘n Oostenrykse kunstenaar en opvoeder, Friedl Dicker-Brandeis, behartig is.

Ela Stein was ‘n 11-jarige dogtertjie toe sy na Terezín gestuur is. Sy het een van die hoofrolle, die Kat, in Brundibár, vertolk en was altesaam in 55 opvoerings (sommige bronne gee die aantal opvoerings aan as 59) van Brundibár. Na die heel laaste opvoering van Brundibár is die meeste van die rolverdeling na Auschwitz gestuur. Ela was een van die enkeles wat die Joodse Volksmoord (Holocaust) oorleef het.

Tydens die besoek van die Rooikruis is verteenwoordigers toegelaat om aan sekere Jode wat in Terezín gewoon het, vrae te vra. Hierdie mense is egter vooraf aangesê presies hoe hulle op die vrae moes antwoord en so is die Rooikruis en almal aan wie hulle verslag gedoen het, ‘n rat voor die oë gedraai.

By die Terezín-gedenksentrum kan die volgende besoek word: Ghetto-museum, Klein Vesting (tronk), Magdeburg-barakke, Krematorium en die Gebedskamer.  Kaartjiepryse begin by R120 per persoon afhangende van wat jy alles wil sien.

  • Hoe om van Praag na Terezín te reis: Die maklikste is om per trein te gaan. Die treinrit duur tussen een en een en ‘n half uur. Die enkeltreinkaartjie kos minder as R200. Verskeie maatskappye reël ook dagekspedisies vanaf Praag; doen navraag by een van die toerismekantore.
  • Lees meer en bespreek aanlyn by: pamatnik-terezin.cz
  • Om te lees: The Cat with the Yellow Star: Coming of Age in Terezín deur Ela Weissberger (née Stein) in samewerking met Susan Goldman Rubin, oor hoe die Brundibár-opera in Terezín opgevoer is en deur die Nazi’s as deel van hul propaganda gebruik is. I Never Saw Another Butterfly: Children’s Drawings and Poems from Terezín Concentration Camp, 1942-1944 deur Hana Volavková. Die titel van die boek is ontleen aan die titel van ‘n gedig deur Pavel Friedman, ‘n jong man wat in 1921 gebore is, op 21-jarige leeftyd na Terezín gedeporteer  is en in 1944 in Auschwitz gesterf het. Sy gedig is op ‘n stukkie papier in Terezín gevind na Tsjeggo-Slowakye bevry is.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 13, 2020 by in Europa and tagged .