ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

In die naam van liefde

First published in Die Burger, February 2017

(Since this article has been published many details have changed at some of the establishments, from chefs to menus, service and more. Make use of websites and Tripadvisor to ascertain what to expect.) 

‘n Mens kan nie van liefde en koue water alleen lewe nie. Neem dus jou geliefde – om liefdeswil – na ‘n romantiese eetplek in die maand van Februarie.

Sit aan by Stanford Manor

Met die instap deur die voorportaal van ouds val die sonlig deur die oop vensters en skuifdeure wat op die Akkedisberg uitkyk. Die mure is behang met kuns en ‘n boekrak strek tot teen die plafon.

By die Manor House Restaurant op Stanford Vallei Plaas gebruik sjef Madré Malan sover moontlik plaaslike produkte soos kaas van Klein River, seekos van ‘n kleinhandelaar in Gansbaai en groente uit hul eie tuin.

Die spyskaart is uit die aard van die saak seisoenaal.

Madré toor met ‘n artisjok, en haar babaganoesj neem my terstond terug na my verblyf in die Midde-Ooste. As daar varklies op die spyskaart is en jy bestel dit níé, is jy perdalks so verlief dat dit jou verkeerde besluite laat neem.

Waar: Op die R326 tussen die N2 en Stanford, in die Overberg

www.stanfordvalley.co.za/restaurant/

Maak ogies by Ormonde

DSC_0374

So soet soos … sjokolade

As jy jou geliefde van vooraf wil soetlandsit (die hof maak), sal Ormonde se verpersoonlikte sjokolade-en-wynproe beide se hart verower.

Tydens die proe word die storie van Ormonde se wyn en die wynmaakproses ook oorgedra.

Jy leer van die terroir, van die mis wat oor die wingerde hang wat deels verantwoordelik vir die gepaardgaande koel klimaattoestande is, hoe die hele familie by die plaasbedrywighede betrokke is en les bes, hoe die verskillende wyne soms die kêrels met wie jy in verskillende stadiums van jou lewe uitgaan, verteenwoordig.

Só klink dit: Merlot is jou beste vriend, die ou met wie jy alles deel en by wie jy veilig voel; Shiraz is die een met die motorfiets en ‘n tatoe of twee, die een wat jou buite die huis kom optel omdat jy dit nie waag om hom binne te nooi nie; en Cabernet  Sauvignon is die ou wat jy aan jou pa gaan voorstel, juis omdat jy dink dat dit jou trouman gaan wees.

Voorafbespreking word sterk aanbeveel. Ormonde roem hul daarop dat hul die sjokolade-en-wynproe volgens persoonlike voorkeur saamstel.

Die brandewyn-en-vy-nougatsjokolade saam met die Ondine Semillon was my gunsteling tot ek die spesery-botterkaramelsjokolade saam met die Ormonde Chardonnay geproe het.

Terwyl jy nou hier is, is dit die ideale tyd om die Ormonde Noble in sy lieflike verpakking in die vorm van ‘n goudstaaf aan te skaf.

Waar: Mount Pleasantstraat, Darling

www.ormonde.co.za

Diemersdal se disse

Dis nie net die Boland wat met Kaap-Hollandse gewels en wit kraalmure kan spog nie. Die grond waar Diemersdal net buite Durbanville lê, is oorspronklik in 1698 deur Simon van der Stel aan ‘n vryburger uitgereik.

By Diemersdal kan jy op mooiweersdae buite in die uitgestrekte tuin en op wintersdae knus binne sit

By Diemersdal kan jy op mooiweersdae buite in die uitgestrekte tuin en op wintersdae knus binne sit

By Diemersdal se restaurant kan jy op mooiweersdae in die uitgestrekte tuin of op wintersdae knus binne-in die gerestoureerde stalgebou – met kelims op die vloer en ‘n kandelaar teen die dak – aansit.

Met ‘n onlangse besoek wou ons tafel van nege almal mekaar se disse proe, maar niemand wou regtig deel nie. Gelukkig kon ons saam aan die tapas-bord – wat kleiner porsies van die voorgeregte insluit – peusel.

Ek’t reeds twee idees by die huis kom namaak: heelmielies wat warm van die vuur af met chermoula, ‘n speseryagtige sous uit Argentinië, voorgesit word asook gerookte broccoli wat saam met varklies opgeskep word.

Ek sal moet teruggaan vir óf die lendeskyf met gerookte beenmurg óf die eend met swartbessies. Of beide.

Trynos, a very good waiter

Trynos is ‘n uitmuntende kelner; dis egter jammer dat, na vele besoeke, Diemersdal se kwaliteit kos met my laaste besoek erg afgeneem het

Waar: Op die M58  (Koebergweg) buite Durbanville

www.diemersdal.co.za/eatery/

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 22, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .