ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Roer jou litte na Redelinghuys

First published in Die Burger, May 2018

Die muurskilderye is lewensgetrou aan die leefstyl wat 'n klein dorpie bied

Die muurskilderye is lewensgetrou aan die leefstyl wat ‘n klein dorpie bied

 

As dit jou eerste besoek aan Redelinghuys is, hang jou mond oop as jy in die handvol strate afry en die een beskilderde huis na die ander sien.

Selfs die bootjies het name gekry hier teen 'n muur op Redelinghuys

Selfs die bootjies het name gekry hier teen ‘n muur op Redelinghuys

Teen die sykant van een huis is ‘n hele tafereel: twee bootjies op ‘n dam, skuins agter die dam is ‘n kothuisie met ‘n stoel langs die deur, in die dam swem ‘n eend, hoenders pik-pik om die huisie en ‘n entjie agtertoe wei drie koeie. Die bootjies het selfs name – Lientjie en Tillie – opgeverf. Dis so lewensgetrou dat dit jou vir ‘n oomblik noop om ‘n tweede keer te kyk of jou oë nie bedrieg nie.

Nie te ver daarvandaan nie spog ‘n huis met sewe verskillende klein muurskilderytjies. By ‘n oop solderdeur loer twee kinders uit; sonneblomme rank teen die muur op; een uil sit op ‘n vensterbank en ‘n ander loer by ‘n gat in die muur uit; uit ‘n blombak langs ‘n blouraamvenster peul rooi blomme; en op die oop onderdeur se rand sit ‘n grootoog wit kat.

Die Vaaltyn van die dorp staan in Minnaarstraat in sy eie geboutjie

Die Vaaltyn van die dorp staan in Minnaarstraat in sy eie geboutjie

In Minnaarstraat staan ‘n donkie op stal in ‘n losstaande geboutjie. By ‘n huis genaamd Arendsnes moet jy mooi kyk om agter te kom wat is regte blombakke en vensters en watter is geskilder.

Die meeste van die huise in Redelinghuys het muurskilderye - van groot taferele tot klein muurprentjies wat 'n venster of blombak uitbeeld

Die meeste van die huise in Redelinghuys het muurskilderye – van groot taferele tot klein muurprentjies wat ‘n venster of blombak uitbeeld

Die volgende groot tafereel is van ‘n wasgoedlyn en ‘n waskom vol wasgoed onder ‘n bloekomboom (waarvan daar baie in die dorp voorkom), ‘n geroeste motorwrak ‘n klipgooi verder, boerbokke wat wei, ‘n hoenderhaan wat lyk of hy wil kraai, ‘n hond met sy kop in ‘n emmer, ‘n sinkbad teen ‘n muur en ‘n reeks grysblou berge in die agtergrond.

dsc_0138

Koekeloerkoekie

Ek en my reisgenoot Anna Blom kruie nog so lekker met een straat op en die volgende een af toe dit skielik voel of iemand vir ons loer. Dis toe wraggies ‘n fronsende ou tannie wat ‘n gordyntjie wegtrek om by die venster uit te kyk. Maar sy is óók geskilder!

Die inwoners van Redelinghuys is trots op hul dorp; dis nie net die mure wat versier is nie, maar ook sommige van die tuine

Die inwoners van Redelinghuys is trots op hul dorp; dis nie net die mure wat versier is nie, maar ook sommige van die tuine

In ‘n tweede venster teen die kant van dieselfde huis sit ‘n gemmerkat; op die (geverfde) nok van die dak lê ‘n driemanskap pampoene en ‘n beker koffie wag op ‘n bankie daarneffens. Dit kos mooi kyk om agter te kom of ‘n mens met die leertjie tot by die skoorsteen kan klim. Nee, óók oëverblindery deur ‘n slim verfkwas.

Oom Hannes se kwas

Eers na ‘n tweede besoek aan Redelinghuys lees ek na ek terug by die huis is wie die vaardige kunstenaar agter die muurskilderye is.

Dié kunstenaar is oom Hannes Carstens wat op sy dag eers ‘n stoker en toe‘n treinmasjinis was. Dit was ‘n “verskriklike uitdaging en avontúúr” om trein te ry, lees ek, en hy was baie trots op sy werk.

Die syaansig van 'n huis op Redelinghuys

Die syaansig van ‘n huis op Redelinghuys

Hy het eers op die ouderdom van 53 jaar begin skilder, maar hy het nooit in sy lewe ‘n kunsles gehad nie. Hy onthou wel dat sy ma kon skilder hoewel sy nooit tyd daarvoor gehad het nie. Na sy aftrede is sy verfkwaste “sy spênners”, volgens oom Hannes. Hy “steel goed met sy oë” waarna hy “sy eie insig toepas” om te interpreteer wat hy gesien het.

Oom Hannes het begin skilder na die Here met hom gepraat het en hy die boodskap ontvang het dat hy nie sy talente onder die maatemmer moet verberg nie.

Wat daar nog is om te sien

Die dorp Redelinghuys het in 1906 uit die gemeente van die NG-kerk ontstaan na die NG-gemeente in Piketberg uit sy nate begin bars het. Saam met Redelinghuys het Aurora ook in dieselfde jaar afgestig.

Die kerk is uiters imposant, nog soveel te meer as ‘n mens die grootte van die dorpie in ag neem. Al is daar natuurlik nie enige muurskildery op die kerk geverf nie, is dié gebou die kyk werd.

Teen die kerk se muur lees ‘n mens: “Den Heere gewijd door D.J. de Villiers. Plaatselijke predikant 5 Oktober 1918.” En langsaan: “Met dankbare erkentlikheid teenoor die Koning van alle eeue vir die eerste 100 jaar van genade 1906 – 2006” gedateer 26 April 2006.

Só het die dorp ontstaan

Waar Redelinghuys vandag is, was die plaas Wittedrift destyds. Die tweede eienaar van die plaas, meneer J.N.L. Redelinghuys, het ‘n deel van sy grond aan die kerk geskenk en dit is natuurlik waaraan die dorp sy naam te danke het.

Behalwe vir sy muurskilderye is Redelinghuys ook bekend onder voëlkykers wat reken dat hier tot ‘n paar honderd spesies voorkom. As besoekers aan die distrik gelukkig is, kry hul die skaars Sandveld-lelie in die veld te sien.

  • Luister hoe oom Hannes self van sy muurkuns vertel: Kliek op hierdie lienk youtube.com/watch?v=2F5FKptYHbo of tik Hannes Carstens Redelinghuys op Youtube in.

Meer oor Redelinghuys

Met die N7 en R366 langs is Redelinghuys knap onder 200 kilometer vanaf Kaapstad in ‘n distrik wat as die Sandveld bekend staan. Dit behoort jou so 2 uur 45 minute te neem om daar te kom.

Vanaf Redelinghuys kan jy Verlorenvlei sowel as Piketberg en Elandsbaai besoek. Verlorenvlei, ‘n 30-km-lange varswatervlei, se oorsprong is by Redelinghuys en dié vlei strek tot by Elandsbaai.

Tydens die blommeseisoen ry mense van heinde en verre om die veldblomme in die distrik te kom besigtig.

By Sandveld Dorpshuys (www.sandvelddorpshuys.co.za) is daar behalwe selfsorgverblyf ook kampering beskikbaar en daar is ‘n koffiewinkel sowel as die Tinie Rust Museum.

By Sandveld Oase Algemene Handelaar kan jy basiese benodigdhede aanskaf.

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 9, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .