ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dit ruk-en-rol in Rotterdam

First published in Beeld, March 2020

Rotterdam is 'n hawestad met 'n intieme stadsgewoelkern

Rotterdam is ‘n hawestad met ‘n intieme stadsgewoelkern

As ‘n mens deesdae Rotterdam besoek, sal jy nooit raai nie, dat die einste stad in 1940 – tydens die Tweede Wêreldoorlog – erg gebombardeer is. Die Laurenskerk, die stadsaal en die poskantoor is van die enigste geboue wat relatief ongeskonde daarvan afgekom het.

Nieteenstaande dat die hele historiese stadskern bykans vernietig is, is Rotterdam steeds ‘n pragtige stad met kanale, tipiese regop huisies wat met Nederland geassosieer word en blombakke net waar jy kyk.  Uit die aard van omstandighede is daar ook baie moderne geboue in Rotterdam, die een meer indrukwekkend as die ander.

Die moderne argitektuur in Rotterdam is indrukwekkend; die eerste gebou wat jy heel moontlik sal teekom, is die Centraal Station

Die moderne argitektuur in Rotterdam is indrukwekkend; die eerste gebou wat jy heel moontlik sal teekom, is die Centraal Station

Die Centraal Station lyk van binne soos ‘n lughawe. Met die uitstap het ek na ‘n rukkie omgedraai en teruggekyk. En na my asem gesnak toe ek die imposante strak lyne van die stasiegebou vanaf ‘n paar treë weg sien.

Orals in Nederland word fietsvervoer algemeen gebruik

Orals in Nederland word fietsvervoer algemeen gebruik

Ek het net mooi langs ‘n padpredikant gestaan waarop verskeie besigtigingsroetes en stadsbestemmings aangedui is. Ek kon ‘n keuse maak tussen die Kruisplein, Mauritskwartier, Kunsthal Rotterdam, Beeldenroute Westersingel, Groot Handelsgebouw, Miniworld Rotterdam en ‘n paar ander.

Ek het egter besluit om sommer net ‘n rigting in te slaan en al drentelend rond te kyk. Regoor die uitgang van die stasiegebou loop ‘n kanaal waarlangs skadubome en tulpe groei. Die Rotterdamse rooi toeristebus en ‘n paar kanariegeel trems het by my verbygedreun, maar dit was lekkerder om te loop en verken.

Ek het my in die Nederlandse taal op geboue, pilare en uithangborde verlustig: “Laat iedereen z’n eigen overtuiging eren zonder die van een ander te beledigen”, “Kruiskade Echt Rotterdam”, “De belangrikste voorwarde voor geluk is dat je wilt zijn wat je bent”, “Stoer of lief, exclusief of simpel, vakwerk is ons kenmerk, liefde onze inspiratie, JIJ onze motivatie”, ‘n brouery genaamd “De Vrÿe Brouwer” waar “Gulpener”-bier geskink word en ‘n “proeflokaal” met die naam “De Ridder” waar “Consumptie Verplicht” word.

Die naam van die De Unie-gebou het my aan ons eie geskiedenis laat dink; op ‘n sypaadjietafel  het ‘n geel tulp in ‘n bierbotteltjie met ‘n etiket waarop ‘n tuindwerg pronk, my laat glimlag en teepotte wat in trosse vanuit die plafon in die venster van ‘n bruidswinkel hang, het my hande laat jeuk om sodra ek tuis is, nuwe dekoridees te beproef.

Oe, en net mooi orals is tulpe. Rooi, geel, purper. Oranjes met vlamstrepe, pienkes met fyn krulblomblaartjies, wittes met knobbelrige meeldrade.

Interessante geboue en besienswaardighede waarvoor jy op die uitkyk moet wees terwyl jy deur die stad loop, is die Pauluskerk wat so ‘n bietjie na ‘n hoekige heuningkoek lyk, die Kubus-wonings wat soos huise en ‘n paar kantore lyk wat op hul sykante op pilare balanseer en die Erasmus-monument sowel as -standbeeld. Dié standbeeld van Desiderius Erasmus, ‘n Renaissance-humanis en teoloog wat in 1468 in Rotterdam gebore is, is die oudste standbeeld in Nederland.

Op die Grotekerkplein kry jy nie net die Laurenskerk, die eerste klipgebou wat in Rotterdam opgerig is, te sien nie. Op dié plein is ook ‘n mini-biblioteek wat ‘n “mini-bieb” genoem word. Op die staalboksies met boeke staan: “De boeken in deze minibieb mag je gratis lenen of ruilen” en “Je kunt natuurlijk ook een boek voor iemand anders achterlaten”.

Die Laurenskerk op die Grotekerkplein

Die Laurenskerk op die Grotekerkplein

Lus vir inkopies? Die besigste inkopiestrate is tussen Lijnbaan en Hoogstraat. Coolsingelstraat is reeds sedert die Tweede Wêreldoorlog gewild onder inkopieliefhebbers. De Bijenkorf (Coolsingel 105) is ‘n afdelingswinkel waar ook kosdemonstrasies gehou word en jy by hul espressokroeg, Metro Café, ‘n blaaskans kan neem.

Die vooraansig van die Markthal verklap nie watter lekkernye by hierdie kosmark binne op jou wag nie

Die vooraansig van die Markthal verklap nie watter lekkernye by hierdie kosmark binne op jou wag nie

Eet vars haring by Markthal in Rotterdam

Eet vars haring by Markthal in Rotterdam

Die kosstalletjies by die Markthal (Ds. Jan Scharpstraat 298) is een van die hoogtepunte van ‘n besoek aan Rotterdam. Die Markthal is die mees besoekte gebou in Rotterdam. Dis ‘n onderdak-kosmark vir smulpape en dis ‘n bonus dat dié mark sewe dae per week oop is.

Moenie terugkeer huis toe voor jy nie Hollandse poffertjes geproe het nie

Moenie terugkeer huis toe voor jy nie Hollandse poffertjes geproe het nie

Moenie terugkeer huis toe voor jy nie Hollandse poffertjes geproe het nie

Moenie terugkeer huis toe voor jy nie Hollandse poffertjes geproe het nie

Op straat word ook aarbeie, Hollandse poffertjies en braaimielies by koskraampies verkoop.

Rotterdam hóú van musiekfees hou. Jy kan jou verkneukel in die name van musiekgroepe, plaaslik en andersins, wat al hier opgetree het en die liedjies wat hul sing. Hoe klink Innagadadavida (probeer dit vinnig sê!), Goddelijke Stuiterbal, Reefteef en Isadora Paradijsvogel?

Wie sou nou nie 'n drankie by 'n plek met die naam Huismeester wou drink nie...

Wie sou nou nie ‘n drankie by ‘n plek met die naam Huismeester wou drink nie…

'n Bruidmannekyn is omring deur 'n tros teepotte wat uit die plafon hang

‘n Bruidmannekyn is omring deur ‘n tros teepotte wat uit die plafon hang

Van feeste gepraat, een keer per jaar hou die Rotterdammers Ijsvrij-fees (www.ijsvrij.nl). Moenie dat die feesnaam jou mislei nie – hierdie fees vind in die winter plaas.  Tydens die Ijsvrij-fees kan jy ysskaats, warmsjokolade drink, worsrolletjies by die kosstalletjies eet en na lewendige musiek luister; kom beleef “een winterse Nieuwejaarsborrel”, nooi die Hollanders van hierdie stad.

Met my wandeling deur Rotterdam het ek die volgende raakgelees wat ‘n besoek aan Rotterdam opsom: “Ontdek, ervaar en laat je steeds weer verrassen”. Ook: “De wereld ligt hier aan je voeten”. Echt waar, volgens my.

Sou jy wou gaan:

Hoe kom ek daar? Vlugpryse van Johannesburg na Amsterdam wissel afhangende van seisoen en of dit ‘n direkte vlug is of nie. Pryse begin by sowat R8000 vir ‘n retoervlug vir een persoon. Pryse vir vlugte vanaf Suid-Afrika direk na Rotterdam begin by R10 000.  Dis moontlik om vanaf die meeste dorpe in Nederland na ‘n volgende dorp op ‘n dagekspedisie te gaan; die treindienste is uitmuntend. Vanaf Amsterdam na Rotterdam per trein neem die rit sowat 40 minute en pryse begin by R180 per persoon. Die tyd wat dit neem om daar te kom en die prys van die treinkaartjie wissel afhangende van die tyd van die dag. Kaartjieverkopers by treinstasies is deur die bank uiters hulpvaardig.

Wat moet ek eet en drink? Proe bitterballen (diepgebraaide kalfsvleisballetjies), krokette, haring en stroopwafels. Drink bier, bier en nog Hollandse bier. Probeer ook die Belgiese bier, La Chouffe, is die bier wat met ‘n tuinkabouter op hul etikette pryk.

Feeste in Rotterdam: Beplan jou reis na Rotterdam rondom die tyd van die verskeie feeste wat gehou word: www.rotterdamfestivals.nl

Toerismekantoor in Rotterdam: Coolsingel 114.

2 comments on “Dit ruk-en-rol in Rotterdam

  1. Tannie Frannie
    April 5, 2020

    Daardie bruidswinkelvenster is bekoorlik ❤

  2. ilsez
    April 6, 2020

    Ek was maldolgek daaroor, Tannie Frannie. Ek het binnetoe geloop net om te kyk hoe die res van hul bruidsrokuitstallings lyk.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 5, 2020 by in Europa and tagged .