ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Maak jou tuin Marokkaans

First published in Rapport, May 2020

Marokko in jou tuin

'n Buitegeboutjie in die kleure Majorelle-blou en kanariegeel geverf na die inspirasie van 'n besoek aan die Majorelle-tuin

‘n Buitegeboutjie in die kleure Majorelle-blou en kanariegeel geverf na die inspirasie van ‘n besoek aan die Majorelle-tuin

Wie sou nou kon dink dat potblou en kanariegeel as kleurskema in ‘n tuin pas?!

Jacques Majorelle (1886-1962), ‘n Franse kunstenaar, het met dié kleurskakering vir die beroemde Majorelle-tuin (of Jardin Majorelle) in Marrakesj, Marokko vorendag gekom.

Die Majorelle-tuin is oor ‘n tydperk van 40 jaar ontwikkel.

Dit het alles begin toe Jacques Majorelle in 1923 ‘n stuk grond in die Gueliz-buurt van Marrakesj aangeskaf het. Hier het hy vir homself ‘n ateljee en huis gebou en plante en bome wat goed in ‘n droë klimaat aard – soos kaktusse, aalwyne, palmbome, bamboes, olyf- en jukkabome – in die tuin aangeplant.

Majorelle, wat oorspronklik na Marokko gekom het om na ‘n siekbed te herstel, het gou verlief op die land geraak.

Kort voor lank het hy geleer dat daar ‘n bygeloof onder sommige Marokkane is dat die kleur blou jou teen bose geeste beskerm. Vir hom het dit egter nie oor spookstories gegaan nie; die verskillende skakerings blou wat gebruik is, was vir hom verskriklik mooi.

Een tint het egter vir hom uitgestaan – dit was die kobaltblou wat deesdae wêreldwyd, te danke aan hom, as Majorelle-blou bekend staan.

Saam met dié blou het hy kanariegeel geïnkorporeer. Veral dié blou, blouer as potblou, het vir Majorelle die groen skakerings van die natuur en die kleur van die blomme in die tuin laat uitstaan.

Na Majorelle se egskeiding in die 1950’s kon hy nie langer die tuin onderhou nie en moes hy dit noodgedwonge verkoop. Hierna is die eens pragtige tuin verwaarloos en net so laat lê.

In die tagtigerjare het die Paryse modeontwerper, Yves Saint-Laurent, en sy vennoot, Pierre Bergé, Jardin Majorelle ontdek, gekoop en gerestoureer. Dié botaniese tuin is toe in ‘n kunstenaarslandskaptuin omskep.

Die transaksie is net betyds beklink, want daar was planne om ‘n hotelkompleks op die erf te bou wat sou beteken het dat die Majorelle-tuin sou sneuwel.

Yves Saint Laurent het op ‘n keer gesê: “Vir baie jare het ek ‘n onuitputlike bron van inspirasie in die Majorelle-tuin gevind en ek droom gereeld van die tuin se kleure wat uniek is.”

Dit is ook hoe ek gevoel het toe ek die Majorelle-tuin jare gelede besoek het. Die einste inspirasie het daartoe gelei dat ek ‘n ruk na my terugkoms my eie tuin ook met Majorelle-blou en kanariegeel getakel het.

Al het jy nie groen vingers nie, is dit verspot maklik om jou tuin in ‘n Marokkaanse oase te omskep.

Skep jou eie Majorelle-tuin:

  • Laat meng Majorelle-blou verf by jou gunsteling verfhandelaar. Dis maklik om aanlyn ‘n aanduiding te kry presies hoe dié skakering blou moet lyk.
  • Verf ‘n fokusmuur, of meer as een, Majorelle-blou. As jy ‘n buitegeboutjie het, dam dit ook by.
  • Verf ‘n tuinbank, sytafeltjies en los stoele in kanariegeel.
  • Moenie alles geel verf nie; verf hier en daar ‘n stoel of iets anders soos ‘n los boomstomp Majorelle-blou.
  • Koop koperkruike en lanterns by tweedehandsewinkels en witolifanttafels, maar kyk eers of jy nie perdalks onder in ‘n kas of in die motorhuis soortgelyke items het wat jy kan gebruik nie. Hang die kruike en lanterns rond en bont. Sorg dat party in ‘n spreekwoordelike ‘bondel’ hang en ander verder van mekaar af. As jy lanterns met geel glas raakloop, gryp die kans dadelik aan om jou kleurskema só uit te brei.
Verf voelhokkies en hang ou lampe, geelektrifiseer of nie, orals in jou tuin

Verf draadhokkies en hang ou lampe, orals in jou tuin

  • Terwyl jy – na die aanvang van Vlak 3 in die inperking – in tweedehandsewinkels uithang, loer rond of jy ou voëlhokkies sien. Verf die voëlhokkies ook blou en/of geel en hang dit tussen die kruike en lanterns of in die bome in jou tuin.
  • Plant ‘n bougainvillae sodat dit teen jou blou muur kan afrank.
  • Leer jouself mosaïek en teël die oppervlak van ‘n sytafeltjie of ‘n plantpot. Orals in Marokko kom ‘n mens op mosaïekpatrone af. Kyk op Pinterest.
  • ‘n Tipies Marokkaanse tuin (of binnehof) het gewoonlik ook ‘n fontein en keramiekteëls met tradisionele Marokkaanse motiewe. By gebrek aan ‘n fontein kan jy ‘n erdekom vol water maak en roosblare daarin laat dryf. Dit verskaf sommer ook drinkplek vir tuinvoëltjies.
  • Onthou dat Jacques Majorelle geglo het dat kobaltblou die kleur van enige blomme uitbring. Dit maak dus nie saak watter blomme en struike jy in jou Marokkaanse tuin plant nie. Sou jy meer van die blou tema wou uitlig, kan jy met agapante, krismisrose en laventel eksperimenteer.
  • Tik Majorelle-blou op Pinterest in vir ‘n magdom ander idees.
  • As jy nie ‘n tuin van jou eie het nie, kan jy dieselfde kleurskema op jou balkon inspan. Verf plantpotte blou en geel; stoffeer ‘n stoel in dieselfde skakerings of trek ‘n strooikussing só oor.

 Sou jy in die toekoms Marrakesj, Marokko besoek:

So lyk tipies Marokkaanse dekor wat jy in jou tuin kan inkorporeer

So lyk tipies Marokkaanse dekor wat jy in jou tuin kan inkorporeer

  • By die Majorelle-tuin kan jy die tuine, die Berber-museum en die tuin van die Villa Oasis, die voormalige woning van Jacques Majorelle en daarna van Yves Saint Laurent en Pierre Bergé, besoek. In die Berber-museum is Berber-kuns asook ‘n versameling van Majorelle se skilderye te sien. By die Majorelle Café kan jy ontbyt, middagete of ‘n drankie geniet. Verder kan jy by die boetiekwinkel die sagste leerinsteekskoene en leerhandskoene in die gunsteling kleure van Yves Saint Laurent aanskaf.
  • Openingstye:

Donderdae tot Dinsdae

1 Mei – 30 September: 8h00-17h30

1 Oktober – 30 April: 8h00-18h00

Tydens die maand van Ramadaan: 9h00-16h30

  • Toegangskaartjies:

Majorelle-tuin: 70 Marokkaanse dirham (ongeveer R125)

Berber-museum: 30 dirham (sowat R55)

Dis aanbevole om jou kaartjies vooraf aanlyn te koop.

  • Lees en kyk: jardinmajorelle.com
Onder 'n prieel behang met lanterns en kruike teen die agtergrond van Majorelle-blou mure is daar al heerlik gekuier

Onder lanterns en kruike teen die agtergrond van Majorelle-blou mure is daar al heerlik gekuier

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 19, 2020 by in 'n Titseltjie dekor / A touch of decor and tagged .