ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

LAAT WAAI DEUR MOSAMBIEK: VAN KOMATIPOORT TOT INHAMBANE

First published in Die Burger, October 2012

In die Kaapse wintervakansie herleef die Groot Trek in die kleine jaarliks. Dis ‘n groot uittog uit die Kaap, uit die vlaktes van die Vrystaat, uit Gauteng en Mpumalanga. Mosambiek toe.

Begin by die grenspos

Sommige redeneer dat om voor sonop by Komatipoort se grenspos aan te kom, die aangewese ding is. Lyk my dit hang maar af van wie aan diens is, of wie die inkomende verkeer reguleer (of nie reguleer nie). Feit bly staan, dis ‘n lang pad van hier na Inhambane.

Tot by Maputo is daar nie so baie om te sien nie. Ag, dis ook ‘n relatiewe konsep, want ek glo nie regtig self wat ek nou kwytgeraak het nie.

As dit jou eerste kennismaking met Mosambiek is, val die sakke steenkool langs die pad jou dadelik op. Eers weet jy nie wat dit is nie; jy sien net die droë grassies wat losweg bo-op gestapel is. Na jy die kloutjie by die oor gebring het, verstaan jy nou ook waarom jy plek-plek die rokies sien draal.

Sowat vyftien jaar gelede – as my geheue my nie in die steek laat nie – kon jy nog rooi-en-wit skedelwaarskuwingsbordjies in die veld sien om almal bedag daarop te maak dat daar ‘n gevaar is dat jy op ‘n landmyn kan trap. Dit – en amper alle ander oorblyfsels van die oorlog – is nou iets van die verlede.

Laat waai, Meraai

As julle vroegdag begin het – en voor donker by Inhambane wil kamp opslaan – moet jy laat waai. Die meeste voertuie karring maar regdeur Maputo met al die gepaardgaande verkeer van bokke en begrafnisse. Die vroue dra bont kapoelana’s; daar’s rooi, blou en groen plastiekware langs die pad opgestapel; kinders peul by skoolhekke uit; en orals is ‘n miernes van bedrywighede. Dit voel asof jy ‘n verhoogspel dophou.

As jy liewer voet in die hoek wil sit – sorg net dat jy ten alle tye by die spoedbeperking hou, want die boetes is vrekhoog en die verkeerskonstabels superparaat – kan jy hier aan die begin van Maputo regs draai en al langs die baai af ry tot jy eventueel weer by die hoofpad kan aansluit.

‘n Derde opsie is om ‘n paar kilometer na die grenspos links by Moamba te draai. By die eerste T-aansluiting draai jy weer links waarna jy die kronkelpad volg tot by ‘n dorpie met ‘n groot rooi-en-wit selfoontoring. Knap voor die torings by ‘n pienk en rooi gebou neffens ‘n speelpark waar sokker gespeel word, moet jy regs draai. Hierna volg jy maar net jou neus tot by Xai-Xai (uitgespreek sjai-sjai).

Die Moamba-pad is uitsonderlik boomryk. Dit alleen sorg dat jy jou verkyk aan die natuurskoon langs die pad. Kasuarina’s, koorsbome en ou wildevye. Suikerrietplantasies en mielievelde.

Swiep deur Xai-Xai

In Xai-Xai kan jy Mosambiekse meticais trek, koue koeldranke of plaaslike bier – Florentina en 2M (dosh-em word dit uitgespreek) – koop en kitscherige eetkamerstoele by die meubelmakery bestel.

Vanaf Xai-Xai is dit weer hoofpad – die nuwe hoofpad waaraan eers Suid-Afrikaners en daarna Chinese gewerk het. Kleinerige afleweringslorries met Chinese skrif ry nog in die dorpies rond. Dit lyk of party van die Chinese padwerkers agtergebly het om negosiewinkeltjies – met goedkoop komberse, kinderfietsies en wynglase – in die kleiner dorpies te bedryf.

Wooden radio

Van hier kos dit oë oophou. Jare gelede was dit om gate in die pad mis te ry – soms het dit beteken dat jy letterlik aan die kant van die pad moes ry. Deesdae is dit om betyds te stop vir alles wat jy langs die pad kan aanskaf. Orals moet jy bereid wees om te kibbel.

As jy eers verby is, beteken dit nie noodwendig jy gaan dit weer raakloop nie. Daar’s net so vier of vyf padstalletjies wat reuse blonde(en donker)-houtvisse verkoop en hulle is sommer digby mekaar. So ook met die sowat drie stilhouplekkies waar hoenderhutjies verkoop word – ideaal vir Wagter wat moet huis oppas.

Waar plastieksakke aan bome wapper, word kasjoeneute verkoop. Proe eers – almal s’n is nie ewe lekker gerooster nie.

So rooi soos ‘n rissie

Rissiesous wat jou oge laat traan, word op tuisgemaakte plankrakkies opgestapel. Mango-atjar word by dieselfde stalletjies verkoop. ‘n Fles vol hou sommer ‘n paar jaar lank in die yskas. Vergeet van ingepakte en saamgeryde Tabasco by garnale (maak net seker dis vars) wat jy sommer op die strand koop. Roer die plaaslike peri-peri – met ‘n ligte hand – by.

Bottels en flesse heuning blyk nog nie so gewild onder vakansiegangers te wees as wat die rissiesouse is nie. Stop dadelik as jy dit langs die pad gewaar. In Mosambiek eet ‘n mens vars pao (Portugese broodrolle) met hierdie natuurlike heuning en kaas (van die huis af saamgery) vir ontbyt terwyl die heuning by jou vingers afloop en jy moet lek-lek voor dit op jou skoot drup.

Oranje, blanje, blou

Lemoenstalletjies is volop. Op seile uitgegooi, in helder mini-piramidetjies gepak of in bont plastiekemmers uitgestal. ‘n Skeutjie lemoensap by jou jenewer-en-tonikum waaraan jy op die strand teug, is erg verfrissend.

Knyp maar jou oë toe as jy sien daar word voëltjies in handgemaakte koutjies langs die pad verkoop. Eintlik wil jy vuisslaan en elkeen loslaat.  Gelukkig sien ‘n mens dit al minder.

Almal wil mos maar ‘n ietsie huis toe neem wat jou aan jou vakansie herinner as jy weer vroeg moet uit die vere om die oggendverkeer aan te durf. Kies tussen grasmatte, rietmandjies, klapperhaarbesempies, Afrika-lap vir ‘n kombuistafeldoek of ‘n hippie-rige romp, erdepotte teen ‘n breukdeel van die prys wat dit by die huis kos, houtbakke of ‘n uitgekerfde Land Rover-replika kompleet met boot aangehak. Dan’s daar ook nog plastiekbottels whiskey met rooi lippe op die etiket of tipo tinto rum (kyk na hoe dit jou laat voel by www.tipo-tinto-rhum.co.za) wat jou na jou asem laat snak.

Obrigado, Mosambiek – ons kom volgende jaar weer.

 

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 15, 2017 by in Afrika and tagged .