ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

MYWYN BEGIN MET EENDEDAM, GEDULD EN PASSIE

First published in die Burger, mid/late 2011

Onverdunde passie. Vir wyn (dit spreek vanself), vir haar tuin, vir uithou-marathonne (watwou, sy hardloop die Otterwandelpad in een dag), vir haar honde. Dis Jacoline Haasbroek.

En daar’s nog heelwat meer. Haar mooie gebruik van Afrikaans. Haar spontaneïteit. Haar gasvryheid. Ek verluister my aan tipies Jacoline-uitdrukkings soos babahondjies wat na Frieskoeitjies lyk, ‘n student wat sy as “baie rooi en baie stil” beskryf en “koei-kleipaadjies” wat al by Grootvadersbosch gedraf is.

Tussen die proe deur hoor ons die een storie na die ander – van studente wat ‘n ou Mini tot barstens toe met wyn vollaai, van proeërs wat op hul wittebrood daar kom proe en jare later met hul kinders terugkeer, van sjampanjeglase wat ‘n maand na ‘n groot party steeds in die tuin opgetel word, en van Yoko, die hond, wat molle aandra. Ons voel of ons mekaar al jare lank ken en ons het skaars begin proe.

Jacoline Haasbroek se etiket weerspieël haar individualisme. Wat begin het as ‘n vryhand-skets van die rugkant van ‘n effens androgene figuur het nou – deur net ‘n lyntjie hier en daar – verander na ‘n slanke vrouefiguur. Voorts het al die MyWyn bottels waskapsules – so ‘n kopknikkie na tradisie en romanse.

EN SO HET DIT BEGIN

 Jacoline begin met drie vaatjies Shiraz en – met haar voorliefde vir vonkelwyn –  ook een vaatjie Chardonnay vir ‘n Cap Classique.  Dit is nou nadat sy haar Wyndiploma I en II se teorie-eksamens in een jaar afgehandel het. Soos sy entoesiasties vertel was sy  “moeg van boeke-kennis inneem en  die ware Jakob – wynmaak – was ‘n nuwe uitdaging.”

Met nostalgie herroep sy haar eerste dosent in wynwaardering, die Hollandse Kitty Kuiper,  en haar uitspraak van “engeltsjie-piepie” vir ‘n goudgeel, verouderde edelkeur tydens ‘n praktiese proe-sessie.

Die wynmaak en –studies was ‘n hele paar jaar na sy ‘n BA in Kommunikasie verwerf het en na sy ook as joernalis gewerk het. Dit was aan die begin van 2001 en al wat sy tot haar beskikking gehad het, was ‘n eende-dammetjie, ‘n 150-jaar oue pars en goeie druiwe. En daardie passie natuurlik. Vandaar het dit van krag tot krag gegaan.

Die enigste elektries-aangedrewe toerusting is die ontstingelaar.  Die res “vrouekrag”, ‘n 40 kg mandjiepers, ‘n paar oop 500 liter houtvate vir maserasie, emmers vir aandra en geduld, baie geduld. Die rooi druiwe masereer (dis wanneer die sap op die doppe lê) vir amper drie weke  en die hele  kaboedel  moet agt keer per dag deurgedruk word terwyl dit gis.

Alles is met volslae entoesiasme aangepak. En met rooi gevlekte hande wat swart word as jy dit was.   Sy vertel met smaak hoe sy vir  ‘n marathon ingeskryf het en by registrasie gevra is of sy ‘n werktuigkundige  van beroep is na aanleiding van die vlekke op haar hande. En hoe die kassiere  by ‘n bekende supermark soms terugdeins as sy die kredietkaartstrokie tydens parstyd moet teken.

VAN EEN NA NEGE

Van die aanvanklike drie vaatjies shiraz en 300 bottels  MCC , is daar nou al nege MyWyne. Jacoline het die naam Sauviognier (‘n versnit van Sauvignon Blanc en Viognier) onlangs as haar eie handelsmerk geregistreer.

MyWyn Viognier het lieflike vanielje ondertone, en ‘n aromatiese, talmende nasmaak. Dit laat ‘n mens onwillekeurig aan ‘n ou heuningpot dink. Die Viognier word al van 2003 gemaak – die huidige 2010 so effe-droog.

Jacoline sê self haar Shiraz is in ‘n meer vroulike styl met druiwe van La Motte gemaak.  Die 2001 Shiraz was haar “baba” wat haar haar man, Johan – hy duik gereeld in ons gesprek op – “Dolly Parton” gedoop het.  Sy verduidelik vanwaar die Dolly-benaming: “Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om wyn te maak.  Rondgeskarrel vir vate en kon net tweede vul Amerikaanse eikevate kry.  Gebruik jou verbeelding – wulpse, ryp swart vrugtegeure van die Shiraz, 100% Amerikaanse eik, die oorvloedigheid van alles…”

MyWyn Merlot is ietwat van ‘n nuweling – dis die eerste keer in 2008 gemaak  en is sedertdien deel van die reeks. Net twee vaatjies op ‘n slag en ongefiltreer (so ook al  haar ander rooiwyne). Ons kry kersies en viooltjies op die neus. Haar merlot was eers bedees, gesels Jacoline met aansteeklike entoesiasme, maar nou “neem hy oor.”

MyWyn Merlot is wonderlik saam met “pork belly.” Die gesprek gaan draai weer by mooi en suiwer Afrikaans. “Pork belly” is nou eenmaal nie varkpens nie, besluit ons. In elk geval nie op ‘n spyskaart nie.

Jacoline raak opgewonde oor haar Cabernet Franc wat sy graag saam met  ryk, romerige pastas bedien. Sy glimlag breed oor die “groot plomp druif” wat “ontplof” as jy die korrel byt. Vantevore is net een vat gemaak en na Duitsland uitgevoer; vanaf 2009 is dit drie vate dus ongeveer 800 bottels. Deesdae is haar Cabernet Franc ook op Le Quartier Francais se wynlys.

Sy deel gou ‘n laaste ietsie met ons – een derde van My Wyn word na Duitsland uitgevoer, na ‘n wynhandelaar, wat – met toestemming van Jacoline – ook hul winkel My Wyn noem.

Die tyd vlieg verby. Dis lekker hier op MyWyn se plaas.

 

WYNE  MET PERSOONLIKHEDE
 
Petit Verdot is Jacoline se “wille kind” wat van druiwe van La Bri gemaak word. Petit Verdot het iets menterig, iets “aards”, aldus Jacoline. As sy in die kelder verbystap, hoor sy duidelik: “Ek is Petit Verdot, ek is Petit Verdot.” Ons luister of ons dit ook kan hoor.
 
Sy’t besluit om “iets anders” te doen omdat almal altyd Petit Verdot in versnitte gebruik.  Juis omdat sy lief vir Portugees kook is en dit so ‘n goeie pasmaat is. Ook vir springbok en ander wild, volstruis en stadig gekookte waterblommetjies.
 
Keer op keer gaan draai ons gesprek by kos. Jacoline deel so in die gesels ‘n resep vir ‘n Angolese Bokbredie. Gebruik springbok saam met knoffel, roosmaryn en “sulke goed” wat jy met twee bottels rooiwyn oornag in die oond laat prut.
 
As twee wynentoesiastiese (wat ook maar lief is vir kuier), dog ons ons is in vir ‘n vinnige proe van seker nie meer as 80 minute nie. Knap na drie uur loop ons daaruit met so ‘n verrykte gevoel in ons binneste.

HOE OM DAAR TE KOM

 Net mooi met die inry by Franschhoek draai jy links in Uitkykstraat op. Ry tot heelbo – verby Chamonix deur die hol spoedhobbels – tot waar jy links draai na Dieu Donnè.  As jy oor die bruggie oppad na Dieu Donnè is, draai jy dadelik regs met die tweespoorpaadjie op teen die berg. Langs ‘n groot klip is die MyWyn-naambord.

Die paadjie van sowat 700 meter is nogal steil, maar netjies geplavei. Dis nie ‘n pad vir groot toerbusse nie, en MyWyn is ook nie ‘n plek vir groot groepe mense nie. Dankie, tog.

DAAR’S OOK NOG:

 My Amber is ‘n 100% Viognier-port met die wonderlike aroma van rou heuning op die neus; dis uitstekend as aperitif of saam met kaas, dadels, vye, of – as jou gewete en beursie, dit toelaat – foie gras.

My Robyn is ‘n meer tradisionele port wat proe of dit gemaak is om saam met neuterige Fontina-kaas geniet te word.

My Wyn: Jacoline Haasbroek

www.mywynfranschhoek.co.za

E-pos: tastewine@telkomsa.net

Telefoon: (021) 876 2518

 

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 13, 2017 by in Afrikaans foodies and tagged , .