ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Vaar in weelde op Franse riviere

First published in Rapport, 17 September 2017

UNIWORLD: ‘N WÊRELD IN DIE KLEINE

Die River Royale van Uniworld vaar op drie riviere in Bordeaux - die Garonne, Gironde en Dordogne

Onherroeplik bekeer. Dís hoe ek voel na ek ‘n paar dae gelede van ‘n riviervaart – met Uniworld – deur Bordeaux, Frankryk teruggekeer het.

UW_RR_FR_Exterior_9643-1

Op Bordeaux-lughawe aangekom begelei ‘n sjarmante Fransman – oe, daai aksent – ons na ‘n luukse bus wat ons na Quai des Chartrons neem. So ‘n soetklinkende adres en so ‘n ontvangs laat ons verwagtinge van ons bootreis die hoogte in skiet.

Die hoop beskaam nie – die personeel van die River Royale groet ons asof hulle ons al jare lank ken en die eerste van baie glasies Franse sjampanje word aan ons oorhandig.

Op Uniworld se skepe is net mooi álles ingesluit – die ekskursies (eksklusief en in ‘n klas van hul eie, maar meer daaroor later), die sjampanje, ‘n hele rits Franse wyne, alle etes, ja, selfs die fooitjies sodat jy nie nog hoef te wonder hoeveel en vir wie nie.

Smiddae kan die gaste nie wag om die nageregbuffet op die River Royale te sien - en proe - nie

Ons skip, River Royale, was so luuks dat jy jouself eintlik nie wil wegskeur en aan land gaan nie. Wie sou dan nou wil met ‘n sondek waarnatoe hulle vir jou drankies aandra, ‘n weelderige eetkamer waar jy by die groot vensters die rivier – op die Bordeaux, Vineyards en Chateaux Cruise vaar die River Royale op die Garonne, Dordogne en Gironde-riviere – kan sien verbyvloei of ‘n sitkamerkroeg waar jy net hoef te wink vir jou volgende tulpglas sjampanje – of Lavender Collins,  ‘n verfrissende laventeljenewerdrankie of waarvoor jy ookal lus is – om bedien te word sonder dat jy jou beursie hoef uit te haal?

As jy op die dek van die River Royale sit, kan jy saans - met 'n konjak in die hand - oor die liggies op die oewer uitkyk

Die verskeidenheid van ekskursies wat as deel van Uniworld se Connoisseur Collection-pakket aangebied word, is egter so eksklusief dat dit geen wonder is dat net sowat 5% van Uniworld se gaste nie meestal ál die ekskursies meemaak nie, soos Martin Fueyo, vaartbestuurder van die River Royale, my trots meedeel.

Die ekskursie waarmee jy wegspring, is na ‘n chateau – die eerste in ‘n rits chateaus wat almal elke keer in vervoering het – in Cadillac (sê ‘Ka-die-jak) om Sauternes, die soet Franse dessertwyn wat gereeld as vloeibare goud beskryf word, te proe.

DSC_0083

Een van die talle plusse van Uniworld is dat die gaste in klein groepies opgedeel word wanneer daar op ‘n ekskursie gegaan word. Dit verseker dat die ervaring intiem bly; jy wag nêrens onnodig nie en daar is genoeg kans om vrae aan die toergids te stel.

DSC_0068

My groepie was by Chateau de Myrat wat uit die 1700’s dateer. Voor ons Sauternes-proe is ons eers op ‘n keldertoer en ‘n wandeling deur die tuin –  met ‘n allemintige kalkoen wat lyk asof hy van ‘n Vrystaatse plaas ontsnap het – geneem.

Nog is het einde niet. Vanaf Chateau de Myrat is ons na Chateau de Cazeneuve waar ons ‘n driegangmaaltyd met Sauternes as pasmaat tydens elke gang geniet het. Oor glase Chateau de Commarque Reserve Classique Sauternes, Chateau Filhot Classified Growth of Sauternes en Chateau La Bouade Reserve Old Vine Sauternes is daar ‘n gemoedelike stryery oor watter groepie se chateau-besoek as wenner van die dag beskou kan word – dis nogal insiggewend as elkeen dink hulle ervaring moet met die eerste prys bekroon word.

Terug by die River Royale was daar net-net genoeg tyd om – weereens – met ‘n glasie Franse sjampanje te ontspan voor almal gaan opdollie het om die Kaptein se Verwelkoming en Gala-aandete by te woon.

'n Oggend wat met oesters op die River Royale afskop

Dit was omtrent ‘n gala-ete! My keuse het uiteindelik geval op foie gras ravioli met wildesampioensous saam met Chateau La Perriere Bordeaux Blanc (‘n wit versnit van sauvignon blanc, semillon en muskadel), kalfsvleis met sjalotte, seisoenale groente en tipies Franse Lorette-aartappels saam met Chateau Pont de Pierre Lussac Saint-Emilion (‘n rooi versnit van merlot, cabernet sauvignon en cabernet franc) en sjokolade-mousseaux.

Om die tafel het ons gou nuwe vriende gemaak en agtergekom dat eens ‘n Uniworld-aanhanger, altyd ‘n Uniworld-aanhanger. Verskeie mense het vertel dat hulle al op ‘n paar Uniworld-vaarte was en heelwat van ons tafelgenote sou na hierdie bootreis direk op die volgende een – veral deur Parys en Normandië – vertrek.

Dit het ons nie lank geneem om te besluit dat ons voortaan elke aand met ‘n glasie konjak, of twee, in die sitkamerkroeg sou afsluit nie. So gesê, so gedaan – vir daardie aand en die daaropvolgende vyf aande. Hoe dan nou anders met ‘n tokkelende klavier, gedeelde stories van reiservarings en die liggies wat op die oorkantste oewer vir ons wink?

Die luukse River Royale by Pauillac vasgemeer

Nog ‘n dag, nog ‘n chateau – hierdie keer in die omgewing van Pauillac in die Medoc-distrik. Chateau du Tertre slaan jou asem weg as jy met die paadjie inry en die imposante gebou voor jou sien verrys en ook as jy hoor dat hierdie landgoed al eenduisend jaar oud is. Om sulke eksklusiewe landgoedere in Frankryk te besoek, val nie sommer enigiemand te beurt nie.

Chateau du Tertre

Sou jou voete jeuk, kan jy ook die Medoc-distrik per fiets verken waartydens daar ook by ‘n chateau aangedoen word.

Op dag vier vaar ons deur die Gironde-riviermonding en tydens die oggend se inligtingsessie – elke keer besonder leersaam – hoor ons van die getybrander wat hier ontstaan; later in die week sien ons meer as een keer die brander wat teen die rivier afspoel.

Voor ons per luukse bus al langs die Route de la Corniche Fleurie ry, stap ons eers deur die dorpie Blaye met sy kenmerkende fortvesting en die oggendmark. Op ons rit sien ons die een klipdorpie na die ander – elk met sy eie katedraal, kronkelende straatjies en kliphuisies met blombakke waaruit die malvas tuimel. Sjoe, maar die Franse platteland is móói.

Kronkelpaadjies deur die platteland van Bordeaux vanuit die bus geneem

Boonop lê ons besoek af by Chez Remy Martin Cognac waar ons meer as een kelder sien en konjak saam met pasmaathappies aan ons bedien word.

Op dag 5 is die River Royale in Libourne in die Saint-Emilion-distrik vasgemeer.

Die River Royale vanaf die brug by Libourne gesien

Die dorpie Saint-Emilion is prentjiemooi.

Ons besoek ‘n monolitiese kerk (uit een rots gekap) waarvan net die toring bokant die grond is. Daar’s genoeg tyd om deur Saint-Emilion te drentel waar ons later ophou tel hoeveel wynwinkels ons in die geplaveide straatjies teëkom.

Alles wat in Frans geskryf is, lyk romanties

Net toe ons dink die chateaus kan nie mooier word nie, besoek ons Chateau Soutard waar ons onsself aan die kristalkandelare in die kelder verkyk.

Die uitgestrekte binnehof van Chateau Soutard

Vrugte op Libourne se boeremark

‘n Hoogtepunt is die Libourne-kosmark. Ek raak so verlei deur die stalletjies wat grotendeels deur boere van die distrik beman word dat ek selfs die volgende chateau-besoek prysgee om meer tyd hier te spandeer.

Die lekker hou eenvoudig net nie op nie. Terug in Bordeaux gaan ons op ‘n nagrit deur die stad, ‘n oggendwandeling waar ons kaviaar, canneles (‘n Franse deegkoekie gegeur met rum en vanielje), roompoffertjies en sjokolade proe en die Cite du Vin, Bordeaux se ongelooflike wynmuseum, besoek. Al wat jy self hoef te doen, is om jou toegangskaartjie by die ontvangstoonbank van die River Royale op te tel.

Die imposante Cite du Vin wat die wynmuseum in Bordeaux huisves

Dié bekering tot riviervaarte was ek nie te wagte nie. Vir iemand wat gou die ritteltit kry as sy heeltyd op een plek moet wees en nie geneë tot groepswoepse –by wyse van spreke – is nie, was dit ‘n onverwagse, maar gróót, lekkerte.

Bekeer tot riviervaarte… en Uniworld Boutique River Cruises? Inderdaad!

Ilse Zietsman was ‘n gas van Uniworld Boutique River Cruise Collection aan boord van die River Royale op die Bordeaux, Vineyards & Chateau Cruise.

Die Bordeaux, Vineyards & Chateau Cruise op die River Royale sluit alles in en pryse begin vanaf R40 400 per persoon (Kategorie 5) plus hawebelasting van R2100 per persoon vir 2018. Vroeë besprekings kwalifiseer vir 10% korting as volle betaling teen 30 September 2017 ontvang word. Die Connoisseur Collection is slegs op sekere datums beskikbaar.

Kontak Uniworld by 011 280 8450 om te bespreek.

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 18, 2017 by in Bordeaux, ek hou van jou and tagged .