ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

PETRA SE PRAG EN PRAAL – Eeue lank vergete, nou onvergeetlik

First published in die Burger, late 2010

Praat van Petra in geselskap en jy kry óf ‘n veraf kyk van onbegrip óf ‘n verwysing na Indiana Jones se The Last Crusade.

‘n Besoek aan Petra in suidelike Jordanië vergeet jy nooit nie. Een dag se deurloop is totaal onbevredigend. Ruim tyd in vir ‘n 2- of 3-dagpas, want jy gaan in elk geval heel moontlik nooit weet in hierdie deel van die Midde-Ooste kom nie. Hou net in gedagte dat ‘n multi-dagpas nie toelating maak vir oop dae tussenin nie.

Jordanië is ‘n gematigde land met ‘n gerespekteerde koning. Die inwoners besluit self – iets redelik ongewoons vir hierdie deel van die wêreld – hoe konserwatief godsdienstig aldan nie, hul wil wees. Dus sien jy swartgeklede vrouens, dowwe lang jurke of gewone Westerse kleredrag insluitende denims en spaghetti-toppies. Die atmosfeer is ontspanne, die mense uiters vriendelik en al wat kan pla, is dat alkohol aan die duur kant is en nie orals beskikbaar is nie.

asemskep-voor-die-volgende-ruiter

Soos Lonely Planet tereg opmerk – as jy net een plek in Jordanië gaan besoek, moet dit Petra wees. Hul gebruik selfs die geykte “majesteuese” om dit te beskryf. En dit ís. Dit is ook in 1985 as Wêreld-Erfenis verklaar.

As jy vanaf Amman se kant inry, vra die bestuurder om vir jou te wys waar die plek is waar Moses veronderstel was om die rots met sy staf te geslaan het wat veroorsaak het dat water uitgeborrel het.

Leer bietjie van die geskiedenis

Petra was die hoofstad (om ‘n moderne term te gebruik) van die Nabateane. Hulle was Arabiere wat in die tyd voor die die Romeinse Ryk hierdie area beheer het. Vir sowat 1000 jaar hierna was die stad vergete. Die stad self sowel as die ligging daarvan het so te sê uit mense-heugenis verdwyn; in 1929 was daar weer roeringe; en in 1958 was daar uiteindelik weer ‘n bewustheid van die oer-stad.

Die naaste blyplekke is in die dorpie van Wadi Musa, ook sommer Petra genoem. Net buite die hoofingang van Petra is verskeie (duur) hotelle. Verder teen die bult op is goedkoper opsies. Hier en bult op is oral restaurantjies van wisselende gehalte en pryse. Die straat wat vanaf die ingang van Petra na die dorpie loop, se naam is heel gepas Toeristestraat.

Petra is in 300 v.C. uit roossteen deur die Nabateane gebou. (Datums wissel wel geredelik na gelang van watter bron gebruik word, of na watter gids jy luister.) Daar is paleise, tempels, grafte (daar is bespiegeling dat dit van Nabateaanse, Griekse en Romeinse oorsprong kan wees), pragtige stoorkamers en stalle, alles uit klip gekap. ‘n Mens se eerste gedagte is aan die tyd wat dit geneem het. En aan watse swáár arbeid dit moes gewees het.

Spring vroeg weg

Sorg dat jy op Dag 1 vroeg begin. Die eerste besoekers word reeds om sesuur ingelaat en die plek raak voller en voller hoe later dit raak. Die kaart van Petra (beskikbaar by Jeff’s Bookshop) is ‘n goeie kopie – om jou deur die dag te help en om as aandenking te hou. Dis een van die baie min plekke waar ‘n kleurfoto-gids die moeite werd is om huis toe geneem te word.

Om by die eerste asemsnak-oomblik te kom, loop jy deur ‘n nou 1.2 km klipgang, die Siq. Dis nie mensgemaak nie, dit lyk ook nie mensgemaak nie, maar dis so gepas uit ‘n estetiese en praktiese oogpunt dat dit moeilik is om te glo. Voor die Siq begin, is ‘n oninteressante deel wat jy óf te perd (bietjie van ‘n geldmaak-storie), óf te voet kan doen. As jy lui vir stap is, raak jy net mooi moegerig en dan sien jy skielik die Skatkamer (in Engels Treasury). Soos jy verder deur die Siq loop, raak die skrefie ‘n skreef. Amper onverwags bevind jy jou voor die Skatkamer. Die Skatkamer is eintlik ‘n graftombe, maar is so genoem as gevolg van ‘n legende wat in omloop was. Volgens die legende het rowers hul buit hier versteek.

die-afwagting-bereik-hoogtepunt

As jy, soos ek, saam met drie Suid-Afrikaanse boertjies daar is, en, soos ek, vooruit geloop het, is dit met ‘n knop-in-die-keel dat jy die trane in hul oë sien. Deur ‘n waas van jou eie emosie natuurlik. Die fasade is die deel wat jou asem wegslaan; die interior is onversier en eintlik maar net ‘n groot mensgemaakte grot.

n-geduldige-kameel-op-sy-pos

Vanuit Petra is die handel in speserye, sy en slawe beheer. Die roete het van Damaskus na die destydse Arabië gestrek. Die Nabateane was suksesvol op verskeie gebiede. Die watergeleidingsisteem in die Siq getuig daarvan. Klaarblyklik kon selfs vloede beheer en water in tye van droogte voorsien word. Verskeie aardbewings het tot die ontvolking van Petra gelei, word geglo. Die finale kersie op die koek was ‘n massiewe aardbewing in 555 n.C (nog ‘n datum wat debatteerbaar is).

Wat daar te sien is

Met die inkom sien jy outomaties die Skatkamer of Khazneh. Net so indrukwekkend is die Ad-Deir (Klooster). Die Khazneh en die Ad-Deir se fasades herinner aan mekaar. Dis ‘n entjie se stap weg – verby ‘n amfiteater met 8000 sitplekke, ‘n straat geflank deur pilare, die ruïnes van ‘n Bisantynse kerk en verskeie koninklike graftombes.

Om by die Ad-Deir uit te kom, verg ‘n langerige asem en sterk bobene. Of ‘n vriendelike donkie; al wat jy dan moet doen, is agteroor (en soms vooroor) buig en styf vashou. Halfpad op is die Leeu-Graftombe te sien, maar jy moet uitkyk daarvoor, want die gevleuelde leeus is al erg verweer. Bo gekom is daar soet mentee in tulpglasies vir passasiers en water vir donkies. Die uitsig van hierbo is ‘n verdere bonus.

Ander langasem-klimme is na die Plek van Offerandes asook na Aaron se Graftombe en Berg Haroen wat vyf uur heen en weer neem. Vanaf die Plek van Offerandes stap jy aan na die Leeu-Fontein, die Tuin-Grafkelder en die Graf van die Romeinse Soldaat. Dis ‘n goeie idee om dit eerder op Dag 2 of 3 aan te pak.

In die vallei waardeur jy stap oppad na die donkies wat jou na Ad-Deir neem, is ‘n Tempel van Gevleuelde Leeus en die Qasr al-Bint, een van die enigste enkelgeboue, ook te sien.

Lourens was ook hier

Wadi Rum is ook in die suide van Jordanië. Hier het Lawrence of Arabia baie tyd deurgebring en ‘n fliek oor hom is ook hier verfilm. ‘n Uittog hiernatoe is maklik om te reël en behels gewoonlik 2-3 nagte se oorslaap in die woestyn. ‘n Nag in die woestyn is doodstil, met talle sterre (wat anders as by ons lyk, want jy is immers in die Noordelike Halfrond), en met ongelooflike sonsondergange en –opkomste. As jy bietjie ronddwaal, is daar baie Bedoeïen-rotsgeskrifte om te sien.

As jy nog dinars oor het voor jy via Amman terugvlieg, is daar genoeg snuisterywinkels wat oorgretig is om jou te help om daarvan ontslae te raak. Dis maklik om die lae-sand-in-‘n-goedkoop-bottel te vermy. Tussen soortgelyke belaglike aandenkings is daar ook geweefde lappe, insteekskoene en bose-oog muurdekorasies wat kwansius goeie geluk bewerkstellig en jou aan Turkye sal laat dink.

Maak ook ‘n draai by Cleopetra, ‘n restaurantjie, wat ‘n besoek verdien al is dit net om vir hul erkenning vir hul woordspeling te gee.

Jy kan nie Jordanië verlaat (meestal via Dubai se belastingvry inkopies) alvorens jy kunafa geëet het nie. Dis ‘n baklava met ‘n verskil – ook baie stroperig, maar met ‘n kaasvulsel. Dit klink net nie so lekker nie, maar as jy dit eers eenkeer geproe het…

Lees: Married to a Bedouin deur Marguerite van Geldermalsen: dis die ware verhaal van hoe Van Geldermalsen met Mohammad, ‘n Bedoeïn wat toe nog in Petra gewoon het, getrou het na sy hom skaars geken het.

Luukse verblyf: by die Movenpick Hotel reg langs Petra; hier is ook heerlike roomys beskikbaar en dis een van die min plekke met ‘n kroeg.

Sien ook:  Wadi Rum wat sinoniem met Lawrence of Arabia is

Lus vir Westerse kos: Pizza Hut is orals te sien hoewel dit nie soos pizzas by die huis is nie

Eet:  kunafa, ‘n stroperige filo-pasteitjie met kaas

Fliek: Transformers 2 (met Megan Fox) – veral die eindtoneel waar Petra gewys word

die-donkie-is-n-wonderlike-ding

One comment on “PETRA SE PRAG EN PRAAL – Eeue lank vergete, nou onvergeetlik

  1. esnaswart
    February 14, 2018

    Ek kan nie wag om eendag Petra te besoek nie, soveel nuwe ervarings wat daar vir my wag!

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 28, 2017 by in Midde-Ooste.