ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Alaska is uniek

First published in Rooi Rose, March 2020

Asof uit ‘n sprokie verrys ‘n vuurtorinkie op ‘n eiland op een van ons veerbootvaarte

Alaska word nie verniet Die Laaste Landsgrens (in Engels: The Last Frontier) genoem nie. In dié staat van Amerika is daar meer bosvliegtuie (klein vliegtuigies wat in baie gevalle die enigste vervoer tussen afgeleë gemeenskappe is) as motors. Én dis onmoontlik om van die hoofstad van Alaska, Juneau, na Anchorage, die grootste stad in Alaska, te ry – dit kos vlieg of met ‘n veerboot soontoe gaan.

As jy met die Coastal Classic-trein vanaf Seward na Anchorage ry, sien jy vanuit die treinvensters in die buitewyke van die stad in amper elke agterplaas ‘n vliegtuigie geparkeer staan. Daar word gesê dat een uit elke 50, of 70, afhangende van watter bron jy gebruik, Alaskiërs ‘n vluglisensie het.

Dis nie al wat Alaska uitsonderlik maak nie.

Orals waar ons kom gesels Alaskiërs – dikwels oor ‘n glas vlytbier van die Alaskan Brewing Company –  oor hoe gereeld hul ‘n beer in hul agterplaas sien. Amerikaanse elande, ‘n tipe hert wat in hierdie deel van die wêreld moose genoem word, word ook gereeld opgemerk. Hul imposante vertakte gewei, soos wat hul horingagtige uitgroeisels bekend staan, trek eerste die aandag. Kaalkoparende, die nasionale voël van Amerika, krys vanaf lamppale en aas in vullisdromme in bykans elke dorp wat ons aandoen.

Net in Amerika!

Dis amper onmoontlik om jou in te dink dat hierdie Amerikaanse deelstaat met sy ryke natuurlewe en duisende gletsers – niemand is seker presies hoeveel gletsers daar is nie – in 1867 vir ‘n skamele twee Amerikaanse sent per akker van Rusland aangekoop is. Die totale koopsom van die transaksie was 7.2 miljoen dollar. In vandag se terme is dit ‘n skamele 109 miljoen dollar vir ‘n oppervlakte van 1 530 693 vierkante kilometer wat dit die grootste deelstaat van die Verenigde State van Amerika maak.

Hoewel passasierskepe vanaf die 1990’s al hoe meer na Alaska begin stroom het, is dié skeepsvaarte nie maklik bekostigbaar vir Suid-Afrikaners, gegewe die rand-dollarwisselkoers, nie. Die blote gedagte aan die wisselkoers kan jou dalk jou reisplanne op ys laat sit. As jy egter goed beplan en vooraf spaar, kan ‘n ongeëwenaarde reisondervinding in Alaska op jou wag.

Vaar met ‘n veerboot

Die Alaska Marine Highway bied ‘n verskeidenheid seeroetes wat met groot gemaklike veerbote afgelê word. Omdat die veerbote deels gesubsidieer word, is dit heelwat goedkoper as ‘n vaart met ‘n luukse skip.

Op elke veerboot wapper die Amerikaanse vlag
Die son sak op die eerste aand op die veerboot op die Binneroete

Ek en my man, Pieter, kon nie genoeg daarvan kry om met verskillende veerbote al met die Binneroete (Inside Passage) langs te vaar nie. Terwyl die redelik logge bote stadig deur die plat water klief, staan baie van die passasiers op die dek en uitkyk. As ‘n snerpende windjie – selfs in die somer – jou nie binnehou nie, kan jy jou verkyk aan eilande van wisselende groottes, sommiges met piepklein vuurtorinkies, asook fjords en ‘n bergagtige kuslyn waar bome plek-plek amper met hul voete in die koue water staan.

Ons eerste vaart van Bellingham in die staat Washington na Ketchikan in Alaska het sowat 40 uur geduur. Ons veerboot, MV Kennicott, het ‘n kafeteria, fliekteatertjie en leessitkamer aan boord gehad. Ketchikan is een van die plekke wat net met ‘n vliegtuig of ‘n skip bereik kan word.

Kyk hoe lyk Ketchikan

Ketchikan is die eerste bestemming op die Binneroete

Ketchikan, waar ons een nag deurgebring het, het die grootste versameling totempale in die wêreld. Soos wat jy deur die stad – dit voel soos ‘n dorp – loop, sien jy orals totempale. ‘n Besoek aan die Totem-erfenissentrum leer jou alles wat jy oor dié pale wil weet. By Alaska Fish House smul jy aan vis-en-tjips en kyk oor die water uit waar seevliegtuie elke paar minute opstyg of kom land.

Dit kos vroeg opstaan om betyds op die Malaspina, ons volgende veerboot, te klim. Vanaf Ketchikan na Juneau duur die vaart 18 uur. Die boot kom net voor drie in die middel van die nag in die hoofstad. Met ‘n gehamer aan die kajuitdeur word ons onseremonieel uit die bed geboender. Gelukkig kan ons in die kafeteria wag tot ons later aan land gaan.

Jippie, ons is in Juneau

Eens was daar meer kroeë as kerke in Juneau, lees ons in dié stad se brosjure. Die Red Dog Saloon, wat uit die glorieryke era dateer toe daar vir goud in Alaska geprospekteer is, is darem nog daar. Dié kroeg het regte, egte swaaideure wat jy so met die instap kan oopstamp asof jy ‘n rol in ‘n rol in ‘n cowboyfliek vertolk.

Vóór jy jou na ‘n kroeg begewe, moet jy liefs eers die Sint Nikolas Russiese Ortodokse Kerk besoek. Dié wit en blou houtkerkie is in die laat 1890’s van plaaslike hout gebou. Die ikonostase (ikoonmuur) en die ikone het vanuit Rusland gekom.

Net buite Juneau lê die Mendenhall-gletser. ‘n Besoek aan hierdie gletser laat jou al jou aardrykskundelesse uit jou laerskooldae herroep. ‘n Georganiseerde dagekspedisie ruk jou sak; daarom het ons publieke vervoer (maklik en goedkoop) gebruik en die laaste ent gestap.

Ons was verskriklik in ons noppies om gletsers te sien soos wat ons daarvan in die laerskool geleer het

Vanaf die Mendenhall-besoekersentrum stap jy met voetpaadjies na ‘n uitkykpunt, tot naby die gletser en na die Nugget-waterval.

Met die terugstap na die busstop het ons so wrintiewaar ‘n ma-beer met haar twee welpies tussen die bome langs die pad gesien! Al drie het rustig aan blare geknibbel en hulle geensins aan ons gesteur nie.

Terug in Juneau het ons by die negentiende-eeuse Alaskan Hotel Bar die grootsheid van ‘n gletser bepeins, gesus in die wete dat ons weer na dié stad sou terugkeer.

Krappote is, teen ‘n prys, op baie spyskaarte beskikbaar

Juis omdat daar nie orals in Alaska begaanbare paaie is nie én omdat jy jou reisplan by die skedules van die veerbote moet aanpas, sou ons na ons vaart op die volgende veerboot, Tazlina, weer ‘n dag en ‘n nag in Juneau spandeer.

Speel in ‘n fliek in Skagway

Derduisende mense het tydens die Klondike-goudstormloop na Skagway gestroom

Maar eers is ons na Skagway. Die hele dorpie lyk soos ‘n filmstel. Orals neem toeriste selfies voor kleurvolle houtgeboutjies.

Skagway het sy ontstaan te danke aan die Klondike-goudstormloop van 1897-1898 toe duisende fortuinsoekers van hier die berge in na die goudvelde getrek het. Reeds in 1897 het ‘n joernalis, Tappan Adney, in die Harper’s Weekly geskryf: “Jou oog vang die beweging. Die berg lyk of dit lewe. Daar is ‘n voortdurende bewegende trein… net soos ‘n ry miere… dit is mense, maar nog nooit het mense só klein gelyk nie.” Later is ‘n spoorlyn gebou, maar voor dit moes die delwers nog te voet hul pad na die goudvelde vind.

Amerika vier op 4 Julie Onafhanklikheidsdag. In Skagway is ‘n badeendjieresies, die Ducky Derby, een van die hoogtepunte op die almanak. In 2019 is 1500 genommerde rubbereendjies in die Pullen-spruit gegooi vanwaar hulle, met die hulp van dorpenaars wat roeispane inspan, na die Pullen-dam dobber. Die eienaar van die eendjie wat eerste by die eindstreep aankom, wen ‘n hele eenduisend dollar.

In 2019 is 1500 badeendjies tydens die Ducky Derby in die Pullen-spruit losgelaat

In Alaska blyk hulle ‘n ding oor kroeë – weens die delwersgeskiedenis – en die kleur rooi – oor al die bordele wat tydens die goudstormloop fluks diens gedoen het – te hê. In Juneau was daar die Red Dog Saloon; in Skagway was die Red Onion Saloon in Skagway juis ‘n voormalige bordeel. Deesdae is dit egter ‘n restaurantkroeg waarby ‘n bordeelmuseum ingelyf is.

Vanaf Skagway het ons met ‘n klein vliegtuigie van Alaska Seaplanes terug na Juneau gevlieg. Vanuit die lug het ons talle gletsers in die sneeubedekte berge gesien. ‘n Mens raak eenvoudig net nooit moeg daarvan om ‘n gletser te sien nie.

A, dis Anchorage

Om ons in staat te stel om die weste van die land ook te verken, moes ons van Juneau na Anchorage vlieg. Behalwe vir die Anchorage Museum met sy kuns-, geskiedenis- en etnografie-uitstallings, bied die uitgestrekte stad nie veel nie.

Tjoekepakke met ‘n trein na Talkeetna

Om met die trein van Anchorage na Talkeetna te ry, was egter ‘n belewenis. Ons het selfs ‘n elandooi met haar kalfie langs die treinspoor sien draf.

Talkeetna is die poortdorp na Denali Nasionale Park en bied verskeie selfsorgverblyfopsies

Talkeetna lyk óók soos ‘n filmstel en is in 1916 as die distrikshoofkwartiere van die Alaska-spoorlyn gevestig. Kort voor lank is ‘n poskantoor, handelspos, sigaarwinkel en ‘n besigheid wat donkies verkoop, geopen. Deesdae kom mense hiernatoe om bergfiets te ry, in die riviere te roei of om voet te slaan.

Stoepsitters by Nagley’s Store in Talkeetna, Alaska

Daarby is Talkeetna die poortdorp na Denali Nasionale Park. Eintlik kan ‘n mens nie Alaska besoek en nié na Denali gaan nie, maar ons Suid-Afrikaanse rande kon dit net nie bybring nie. Boonop is treinreis een van ons passies en daar was nog ‘n treinrit wat ons net nie kon misloop nie.

Amper elke besigheid in Talkeetna het ‘n versierde houteland om besoekers te vermaak en na binne te lok

Die meeste besighede in Talkeetna het ‘n versierde houteland wat binne of buite pryk. Daar is ‘n eland met polkakolle, een met waterstewels aan, ‘n ander dra kouse in die kleure van die Amerikaanse vlag en ‘n rooineuseland dra ‘n goue kraalhalssnoer.

Sjoe, Seward bied baie

Van Talkeetna is ons na Seward, hoofsaaklik om ‘n baie spesiale treinrit vandaar terug na Anchorage te onderneem.

Die hoogtepunte van ons tyd in Seward was ‘n hondesleerit, weliswaar nie in sneeu nie aangesien dit somer was, én nóg ‘n gletser. Glo dit of nie, die Exit-gletser in Kenai Fjords Nasionale Park was meer indrukwekkend as die Mendenhall-gletser buite Juneau.

Poolhonde (huskies) van Alaska is nie gryserig van kleur met blou oë, soos algemeen geglo word, nie. Dit is die Siberiese poolhonde wat só lyk. Die poolhonde van Alaska lyk soos ‘n kruis tussen ‘n jakkals en ‘n straatbrak. Hulle rittel van energie en is gék daaroor om te hardloop.

Terwyl manlief in Seward gaan visvang, kan jy na hartelus inkopies doen of al die muurskilderye naloop

Met ons besoek was dit hoogsomer, boonop die warmste somer wat Alaska nog ooit beleef het. Selfs in hitte wat party dae by 30 grade Celsius gaan draai het, het die poolhonde aanhoudend geblaf soos wat hulle vra om te hardloop.

Die Coastal Classic-treinrit van Seward na Anchorage het ons wildste verwagtinge oortref. Ons kon nie ons reis deur Alaska op ‘n beter noot geëindig het nie. Die spoor kronkel deur woude en ravyne waar die sneeu selfs in die somer dik lê. Ons het selfs ‘n gletser, met reuse-blokke ys wat afgebreek het, vanuit die trein gesien.

Vir my was Alaska soos ‘n land op sy eie. Grootliks onaangeraak, maar ‘n land wat jóú raak en lank na jou terugkoms bybly.

Alaska maak die avonturier in jou wakker
Elandtrofees is orals te sien
Once in A Blue Moose is ‘n reeks geskenkwinkels met geskenke wat tipies aan Alaska is
Wees gewaarsku – Alaska is soos geen ander plek wat jy al ooit besoek het nie
  • Sodra jy begin google, sal jy dadelik agterkom hoe goed Alaska op toerisme ingestel is. Daar is amper te veel inligting om uit te kies! Daar is selfs toeragentskappe en toeristeorganisasies wat kaarte en brosjure aan jou sal pos as jy verkies om eerder nie net die internet te gebruik nie.Begin met www.travelalaska.com
  • Boek veerbootvaarte met Alaska Marine Highway: www.alaskaferryvacations.com
  • Boek treinritte met Alaska Railroad: http://www.alaskarailroad.com
  • Lees meer oor die alledaagse lewe in ‘n tipiese Alaska-dorpie: If You Lived Here, I’d Know Your Name deur Heather Lende

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 3, 2020 by in Noord-Amerika.