First published in Beeld, February 2019
Hierdie kosmarkte is nie net vir frankofiele nie
As ‘n mens tussen die tafels en deur die gangetjies van ‘n kosmark in Frankryk deurloop, rol die Franse koswoorde sommer vanself oor jou tong. Saucisson, charcuterie, fromagerie, baguettes en patisserie.
By die seekosstalle lees toeriste in geradbraakte Frans woorde soos crabs verts, pinces de crabs, tourteaux, crevettes roses, langoustines, dos de cabillaud.
‘n Entjie verder oefen buitelanders die uitspraak van chantilly maison, miel confiture, moules, boeuf bourguignon, epices, la macaronnade, canelés en vins au marche.
Bordeaux: ‘n Kosmark op die kaai van die Garonnerivier in die hart van die stad
Marché des Quais het tot stand gekom as deel van die verfraaiing van die stad van Bordeaux. As deel van hierdie projek is die fasades van die imposante stadsgeboue skoongemaak en gerestoureer aangesien besoedeling oor dekades sy tol geëis het.
Die promenade oftewel kaai op die linkeroewer van die Garonnerivier dien as gewilde staproete vir die stedelinge – en hul honde – van Bordeaux. Dit het deels as inspirasie gedien om dié kaai in ‘n kosmark op Sondae te omskep.
Elke Sondag is hier om en by 60 stalletjies waar jy piekniekkos, straathappies of wegneembestanddele kan aanskaf.
Een van die eerste stalletjies – as jy vanaf Bordeaux se Waterfront aangeloop kom – is La Macaronnade. Soos hul naam aandui is hulle oorwegend bekend vir hul makarons (makrolletjies), maar hulle het ook bessietert(ji)e(s), baguettes en canelés (rum-en-vanielje-deegkoekies).
By La Macaronnade is meer kleure makarons as in ‘n ekstra-groot pak kleurpotlode. Dis pruimpers, roospienk, fuchsiapienk, smaraggroen, mentgroen, lemmetjiegroen, kanariegeel, toffiebruin, knaloranje en blouselblou; dan praat ons nog nie eers van die pastelkleur makrolletjies nie.
Die canelés word met ‘n tuit wat amper soos ‘n outydse karring lyk, in bakpannetjies gespuit en net daar gebak sodat dit nog stomend warm gehap kan word.
By die groentetafel lê knoffelvlegsels langs klein boerpampoentjies en sjalotte. Appels (met die soetklinkende naam ‘pommes reine des reinettes’) en vars appelsap skuur skouers met waatlemoene. Goudgeel piesangs word van Martinique-eiland ingevoer.
‘n Kruis tussen ‘n broodrol en ‘n croissant word met donkersjokolade of appelkoos en rosyntjies gegeur; by die volgende stalletjie is bokmelkkaas en kaas wat onderskeidelik met salie, paprika en kerrie gegeur is.
Uit groot vlakbodempanne word diep geskep as die lus jou oorval na risotto de la mer (seekosrisotto) of fricassee de calamars (‘n stowegereg met inkvis). Daar is ook ‘n Marokkaanse stal wat porsies tagine (Marokkaanse bredies gegeur met ‘n speserymengsel genaamd ras el hanout) op koeskoes verkoop.
Boksies met plomp figue fraîche wil jou net in ‘n vars vy laat byt – ses vye kos een en ‘n half euro. Artisjokke is redelik volksvreemd vir Suid-Afrikaners, maar hoenders op die spit en varksosaties is Sondagkos vir ons.
Les Delices is die heimat van droëvrugte en gegeurde olywe– hulle banier verkondig trots dat hulle al dertig jaar op kosmarkte bedrywig is.
Aan die onderpunt van die mark is ‘n versamelaarsboekestal waar jy net vir die móói voor ‘n onverstaanbare boek – behalwe as jy Frans magtig is – sal swig.
Aan die beginpunt is ‘n rolskaats- en skaatsplankbaan vir verveelde tieners wat óf asemsnak-toertjies uithaal óf hulself aan die ander se manewales verkyk. Om veiligheidsredes is dit agter ‘n muur – kyk uit vir die helder fietsgraffiti aan die rivier se kant.
Libourne: ‘n Boeremark op die dorpsplein
Reeds sedert 1270 toe Libourne deur luitenant Roger de Leyburn gevestig is, was dié hawedorp nou verweef met handel. Waar die Dordogne- en Islerivier ineenvloei, is met wol en wyn sowel as sout en hout handel gedryf.
Deesdae word daar soggens op drie dae van die week – Dinsdae, Vrydae en Saterdae – by markte op die Abel Surchamp-plein handel gedryf. Die stalletjies is op en rondom die plein en voor die stadsaal wat uit die vyftiende eeu dateer, versprei, maar as jy tot in die systraatjies drentel, vind jy nóg verkopers wat hul ware uitstal.
Op markdae ry die boere uit die omgewing douvoordag na Libourne om hul ware uit te pak en geselsies onder mekaar te maak.
Terwyl die vroue rooi, geel, oranje en swart tamaties takseer, groet die stalletjie-eienaars hul getroue klante geesdriftig en ruil nuusbrokkies uit.
Perskes en nektariens beslaan sommer die plek van drie stalle op ‘n ry. Sappige Charlotte-aarbeie verkoop teen drie euro per bakkie. Voor ‘n juwelierswinkel pryk slaaikoppe asof in ‘n bedding.
Die knoffel-, ui- en sjalotverkoper brou sommer koffie ook om sy wins te verdubbel.
Die artisjokke is so groot dat dit geen wonder is dat rietmandjies wat lyk of dit uit Madagaskar kom, in die middel van die plein flink aftrek kry nie.
Daar’s ook frambose, seekos, spanspek, radyse, eiervrug, versuikerde koemkwat, gedroogde pomelorepe, eiers, olywe, heuning, vars blomme en potplante te koop.
Op die tafeldoek van La Saucissonnette pryk ‘n prettige tekening van ‘n uitbundige varkie wat op een klou balanseer. Dis seker die enigste varkie wat dié worsmaker ontduik het.
Braaihoenders word deur ‘n guitige meisie in ‘n duiwelspakkie met ‘n drietandvurk en ‘n bobbejaanstert geadverteer.
By Atelier d’Horlogerie Le Guen de Père se opslaantafel word horlosies met ‘vaardigheid en tradisie’ reggemaak en by Tapissier d’Ameublement Frédéric Rapin kan jy stoffeermateriaal kies en bestel en jouself só tyd spaar. Travail Soigne Paille Cannage – hul naam is omtrent ‘n mondvol – maak riempiestoele sommer net daar by hul stal reg.
Die enigste iesegrimmige verkoper beman die enigste boekstalletjie met interessante boeke hoewel min daarvan in Engels is. Al die ander Franse wat die Libourne-stalletjies beman, is gul en vriendelik alhoewel hulle nie noodwendig kan Engels praat nie.
My hart trek met ‘n punt huis toe toe ek rolle Afrika-lap bespeur. Dis toe Senegalese wat nie danig lus is vir geselsies maak nie.
Skuins agter die markplein is die Marché Couvert, ‘n onderdakmark wat elke dag oop vir besigheid is. Dis waar die dorpenaars seekos en vis, kouevleise en kase, fyngebak en foie gras aanskaf.
In die voetgangerstraat agter die mark – volg die kleurvolle sambrele wat bo jou kop hang – is daar sypaadjiekafees te kus en te keur. Hier kan jy ook na hartelus inkopies doen; die pryse is baie meer bekostigbaar as in Parys of ander groot stede in Frankryk.
Blaye: ‘n Dorpsmark aan die voet van die sitadelvesting
Die dorpsmark van Blaye is nie nét ‘n kosmark nie. Aan die agterkant van die mark word dan selfs matrasse verkoop!
Behalwe vir vars groente en vrugte, het die mark van Blaye ‘n wye verskeidenheid seekos waarvan baie uit die riviermonding en Arcachonbaai kom. Emmers tot boordensvol met krappe en oondbakke met krapknypers kry groot aftrek. Oesters kos tusssen ses en sewe euro per dosyn.
Ek sien vir die eerste keer flessies salicornia. Dis ‘n eetbare plant wat amper soos seegras lyk en wat ingelê word. Dis ryk aan vesel; daarom eet die Franse dit graag.
Vanaf Maart tot Mei stroom mense na die mark om vars aspersies wat in die distrik van Blaye gekweek word, te kom koop.
Le Beret Basque verkoop saucisson aux piments d’Espelette (worsies gegeur met Espelette-rissies). Dié rissies is oorspronklik van Suid- en Sentraal-Amerika, maar word nou in Espelette naby die Pireneë verbou.
Ek herken dieselfde Marokkaanse kok wat in Bordeaux en hiér geurige tagine op koeskoes verkwansel.
Papy Gepetto het ‘n uitgebreide versameling antiekspeelgoed, -bordspeletjies, plate en snuisterye. ‘n Paar meter verder pas ieder en elk ‘n Panama-hoed op, maar verkope blyk maar traag te wees.
Op Blaye-mark is ook kase uit die Loire-vallei, droëvrugte, terriens en patees in potjies, gegeurde olywe, songedroogde tamaties, soetgebak, tuinplante en les bes, kamoefleer- en knapbroeke wat deur die onderste helftes van winkelmannekyne vertoon word.
Dan’s daar ook kombuistafeldoeke en afdroogdoeke van goeie kwaliteit wat neffens ongewerkte tapisserieë – katmotiewe blyk gewild te wees – uitgestal word.
‘n Ou idioom lui dat iemand wat op alle markte tuis is, baie veelsydig is. Dis egter Franse (kos)markte wat die ene veelsydigheid is.
***
Franse koswoorde het ‘n bekoring van hul eie:
saucisson – Franse wors wat soos salami lyk
charcuterie – delikatesse wat Franse verwerkte vleise soos rillettes, boudin en saucisson verkoop
fromagerie – Franse kaas waarvan brie en camembert die bekendstes is uit die meer as 350 soorte wat ‘n mens kry
baguette – lang Franse witbrood
patisserie – Franse gebak
crabs verts – groen krappe
pinces de crabs – die knypers van ‘n krap
tourteaux – eetbare bruin krappe; baie gewild in die distrik van Bordeaux
crevettes roses – garnale
langoustines – ‘n soort kreef
dos de cabillaud – ‘n soort vis, amper soos kabeljou
chantilly maison – tuisgemaakte room
miel confiture – heuningkonfyt
moules – mossels
boeuf bourguignon – ‘n beesvleisgereg in rooiwynsous, gewoonlik met sampioene en uie
epices – speserye
vins au marche – wyne wat op die mark verkoop word
Indrukwekkend, soveel anders as die markte van Kazakhstan, al is beide skoon.
Ek sal nie omgee om Kazakhstan te sien nie! Van markte tot wat-ook-al-anders, Christa.