ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Oor ‘n ander boeg gooi

First published in Die Burger, June 2014

(Since this article has been published some details have changed) 

Teen vergaan kon hulle nie beskerm

Die Wikings het bygelowig hul boeë van hul skepe versier om hul teen bose geeste te beskerm.

Die kunstige figure wat vroeër dikwels op die voorste punt van ‘n boot aangebring is (bekend as boegbeelde) se vorm het soms die naam van die skip uitgebeeld omdat min mense daardie tyd geletterd was. Dit was ‘n aanduiding van die rykdom van die skeepseienaar.

Waar skepe en boegbeelde herdenk word

In Bredasdorp Skeepswrakmuseum

In Bredasdorp is daar ‘n volwaardige skeepswrakmuseum in ‘n gebou wat eens ‘n kerkie was.

Volgens vertellings het sowat 130 skepe sedert 1673 hier gestrand. Dit is geen wonder dat hierdie deel die begraafplaas van skepe genoem word nie.

Heel gepas versoek ‘n plakkaat ‘n oomblik van stilte ter nagedagtenis aan al die mans, vroue en kinders wat so dood is.

In die museum is ‘n hele paar boegbeelde te sien.

Een boegbeeld beeld die familiewapen van ene Bates-familie uit. Die skip waarop dit gepryk het, het spontaan aan die brand geraak.

‘n Annder boegbeeld kom van ‘n Noorweegse seilskip. Die seilskip Willem de Swyger het in 1863 by Ryspunt gestrand. Die boegbeeld van Willem de Swyger, waarna die skip genoem is, spog met oranje-blanje-blou vere aan die sykant van sy keil.

Ene “mnr. Neethling” het die boegbeeld aan die begin van die eeu op die strand naby sy plaas De Hoop gevind. Hy het dit self gerestoureer en museum stal ook ‘n foto uit van mnr. Neethling langs die boegbeeld.

Die herkoms van hierdie boegbeeld is onbekend

Die laaste boegbeeld trek ‘n swaard uit sy skede. Die herkoms hiervan is onbekend, maar daar word vermoed dis van die Neptune’s Bride, ‘n Britse seilskip wat met ‘n vrag steenkool aan boord aan die brand geraak het.

Benewens die fassinerende boegbeelde is daar ou ankers, porselein wat op die seebodem gevind is en versamelaarsmunte te sien.

‘n Geheimsinnige dame

By die L’Agulhas-vuurtoring staan ‘n vroueboegbeeld in die wind en weer.

En kyk, daar KAN die wind waai. Dis dalk ook hoekom sy lyk of sy ‘n smeersel lipstif en ‘n veeg maskara kort.

Die oorspronklike houtboegbeeld is in die skeepswrakmuseum in Bredasdrop, maar het eers vir 70 jaar by die vuurtoring gestaan.

Die oorsprong van die boegbeeld is onseker. Daar word bespiegel sy was van die Dundrennan, ‘n Britse skip, en dat ‘n destydse vuurtoringwagter, ene Hammond, haar gevind het.

Die Dundrennan het in 1895 weens digte mis in die moeilikheid beland. Soos dit ‘n dame betaam, bly sy misterieus en haar afkoms bly haar geheim.

Ook is daar ‘n klein graf van ‘n sewe maande oue babatjie, moontlik van Ierse afkoms.

Haar pa was die vuurtoringwagter en sy is in 1899 aan witseerkeel dood.

Kleine, fyne boegbeelde

In Mosselbaai by The Model Shipyard se ateljee word museumgehalte modelseilskepe gebou waarvan die boegbeeldjies op skaal gemaak word. Alles word noukeurig nagevors, soms vir maande aaneen.

The Model Shipyard ontwerp en bou seilskepe uit vervloë dae met die hand. Hulle is verantwoordelik vir die gesogte Stephens & Kenau-reeks en verskaf skepe aan die internasionale rolprentbedryf. Een van sy pragstukke pronk hoeka in Steven Spielberg se versameling.

‘n Boegbeeld in wording

‘n Mens verkyk jou aan die fynere detail – ‘n tweetandvurk, kadotjie en geveerde helm, ‘n jurk wat in voue val en voete met sandale aan.

Neem deel aan ‘n skattejag

As jy enigsins deur skeepswrakke en maritieme artefakte gefassineer word, kan jy ure in die Ye Olde Shipwreck Shoppe by Mariner’s Wharf, Houtbaai, verwyl.

Versamelaarsboeke, ou seekaarte, patryspoorte en skeepsvlae is maar net ‘n handjievol wat jou gaan besig hou.

2 comments on “Oor ‘n ander boeg gooi

  1. Hannah Velthuysen
    November 18, 2023

    Dankie hiervoor. VERSKRIKLIK GENIET.

  2. ilsez
    January 7, 2024

    Dis ‘n artikel van lank terug, Hannah, maar om een of ander rede het ek dit gemis en was dit nie voorheen op die blog nie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 16, 2023 by in Die res van Suid-Afrika.