ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Stadsjapies, kom span hier uit

First published in Die Burger, April 2015

(Since this article has been published some details have changed)

Boetiekhotelle is al ‘n paar jaar lank die in-ding by reisigers wat hul rugsakke weggebêre het. Maar “boetiek-kampeerplekke” het nog nie regtig op die radar verskyn nie.

Of dit só bekend gaan staan, is te betwyfel, maar dat dit kampering in ‘n ander liga plaas, is ‘n uitgemaakte saak.

Sowat 5,8 km buite Montagu, op die R62 op pad na Barrydale, sien jy vlae wat wapper. Daar lê Montagu Guano Cave, ‘n boetiek-kampeerplek.

Daar is ‘n Australiese emou, wolvoet-alpakas, swart buksie-varke, plesierige donkies en ‘n magdom kwetterende ganse. Ook sien jy daar ‘n mak kraanvoël wat kordaat naderstap om kos te bedel.

‘n Naweek wat die siel streel

Dié streelplaas vir die kinders is maar een van die attraksies op Montagu Guano Cave.

Die grot waarna die naam verwys, strek honderde meters agtertoe. In die grot woon derduisende vlermuise – glad nie so grillerig soos jy dalk dink nie. Hulle is eintlik oulike dingetjies, veral as hulle so onderstebo hang.

Dit is die einste grot waarin Sloet Steenkamp (vertolk deur Ian Roberts) in die TV-reeks Arende weggekruip het, vertel die ontvangsdame met sterre in haar oë. Dít is waar daardie episodes verfilm is. Die grot is nog nie naastenby volledig verken nie. By die ingang is ‘n Boesman-tekening.

Die guano (of vlermuismis) is in 1890 by die grot uitgehaal, en twee belangrike voorwerpe is gevind. Die een was ‘n geboorde klip, en die tweede was ‘n stukkie olyfhout, met ‘n geronde punt aan die een kant.

In 1964 het ‘n Amerikaanse argeoloog, Charles Keller, verder ondersoek ingestel. Nadat hy dinamiet ingespan het, het hy ‘n hele paar duisend spiespunt-artefakte gevind. Sy bevinding was dat die grot eens gebruik is om handbyltjies en ander gereedskap te vervaardig.

As jy op dié plek kom kampeer, kan jy ook meer van vlermuise en die grot leer; jy kan visvang of in die verhitte poel swem; en jy kan perdry of in die berg gaan stap. Dagbesoekers hoef nie toegangsgeld te betaal nie. Jy betaal net vir wat jy kies om te doen. Jy mag wel nie self na die grot gaan nie – trekkerritte word gereël om kampeerders en dagbesoekers soontoe te bring.

Daar is ook 13 ultra-netjiese kampeerplekke wat, soos die paaie soontoe, met perskepitte bestrooi is. Die ablusiegeriewe bevat vrolike pienk gordyne en uniek geteëlde mure.

Boonop is vir rugsakreisigers voorsiening gemaak. Daar is ook boslapas vir gesinne wat nie ‘n woonwa wil sleep of ‘n tent wil opslaan nie.

Verder is luukse tentverblyf of kliphuisies vir gesinne beskikbaar.

Ek wil, ek wil nie

Ons almal ken seker minstens een paartjie waar die man gek is daaroor om te kampeer, maar die vrou gewoonlik langtand is as die volgende kampeerlangnaweek beplan word.

Die Montagu-woonwapark, wat amper binne dié dorp geleë is, bied die oplossing sodat albei partye tevrede gestel kan word.

In hierdie privaat oord kan hy braai, en sy kan gaan koffie drink, kuns kyk of snuisterye koop. Siedaar, geen huismoles nie.

Die oumense het altyd met respek gepraat van diegene wat hul hand op hul plek hou, en dit is duidelik hoe hierdie oord – waar eens ‘n appelkoosboord was – bedryf word.

Juis daarom noem party mense dit sommer Appelkoospark.

Maak jou pad na Montagu-woonwapark

In die Montagu-woonwapark kamp jy onder skadubome.  Die gras is groen en die kampplekke is gelyk. ‘n Groot plaasdam is die tuiste van n verskeidenheid voëls, en jy kan met trapbote die dam verken.

Verder is daar konferensiegeriewe, ‘n televisiekamer, ‘n speelplek vir kinders en swembaddens.

Ook ander verblyfopsies is beskikbaar. Lees maar die reëls aandagtig – daar is heelwat “geen”- en “asseblief”-vermanings met uitroeptekenes daarby.

Montagu is sowat 160 km van Kaapstad. In die dorp en streek is heelwat wynproegeleenthedie.

Terwyl vroulief kuns besigtig, kan manlief die tjops op die kole sit, want die dorp is net ‘n flink stap van die oord.

As jy besluit om een aand nie te braai nie, kan jy by een van die plaaslike restaurante aansit om te smul.

https://www.montagucaravanpark.co.za/ https://www.montagu.org.za/restaurants/

2 comments on “Stadsjapies, kom span hier uit

  1. Dr Christa van Staden
    November 11, 2023

    Klink baie interessant

  2. ilsez
    January 7, 2024

    Ek moet bieg, Christa, ek KAN kamp, maar ek is nie ‘n natuurlike kamper nie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 11, 2023 by in Kampeer & karavane.