ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Oulap se rooi maak mooi

First published in Die Burger, March 2018

 Soos die ou spreekwoord lui, helder ‘n spatsel kleur, veral rooi, alles op. Of: hoe rooier, hoe mooier!

Die Red Tin Roof, Riebeek-Kasteel

Soos jy met Hermonstraat afry, sien jy dadelik die rooi sinkdak van Red Tin Roof raak

Soos jy met Hermonstraat afry, sien jy dadelik die rooi sinkdak van Red Tin Roof raak

Die Red Tin Roof se restaurant, kroeg en gastehuis – met sy rooi sinkplaatdak – lok gaste wat kom eet, drink, oorslaap en kyk.

Eklektiese dekor by Red Tin Roof sorg vir interessante besprekings aan die tafel

Eklektiese dekor by Red Tin Roof sorg vir interessante besprekings aan die tafel

Die eklektiese dekor ontlok ‘n hunkering na ver plekke wat die gewone mens nie sommer goedsmoeds besoek nie.

Oorkant ‘n oorspronklike Sowjet-fluweelbanier wat Lenin uitbeeld, hang ‘n plakkaat van die Zoeloe-koning Dingaan.’n Lesotho-kombers met vegvliegtuie wat na speelgoedvliegtuigies lyk, dateer van net na die Tweede Wêreldoorlog. Daar’s ‘n vrugbaarheidsdeur van Mali, ‘n oorspronklike padteken van ‘n gorillapark in die Kongo, ‘n Belgiese lamp uit die kolonialistiese era, ‘n Meksikaanse spiëel en – weereens oorspronklik – ‘n plakkaat of twee van Mao Tse Toeng.

Dan ook ‘n versameling ou Vrye Weekblad-plakkate – glad nie verbasend nie as jy agterkom die Red Tin Roof behoort aan Jacques Pauw en Sam Rogers, twee van die mees prominente joernaliste in Suid-Afrika, voormalig aldan nie.

By Red Tin Roof kan jy agter onder koeltebome sit of binne terwyl Mao Tse Toeng vir jou van die mure afloer

By Red Tin Roof kan jy agter onder koeltebome sit of binne terwyl Mao Tse Toeng vir jou van die mure afloer

Jy hoef nie in die gastehuis oor te bly om by “Jou Ma se kombuis – Met eisj” te kom eet of ‘n koue met skuim – in een van twee kroeë – te kom geniet nie. Kies tussen gerookte snoek-viskoekies, samoesas of as deel van die Republiek-van-Vetkoek-spyskaart ‘n Boetman- of Boytjie-hamburger. Daar’s ook pizzas – onder andere ‘n biltongpizza met gekarameliseerde uie – op die spyskaart.

Almal is welkom by Red Tin Roof

Almal is welkom by Red Tin Roof

Tot en met ‘n jaar of wat gelede kon jy nog die oulikste hennetjie se keel streel waar sy op die klavier dut. Helaas, sy’s nie meer met ons/hulle nie.

Sou jy wou kom oorbly, is daar vyf kamers – een kamer heet heel gepas om by die rooi tema te pas, die Rewolusie-kamer – wat elk hul eie badkamer en stoepie het. Elke kamer het ook ‘n dakwaaier én lugversorging.

Die Red Tin Roof ís Riebeek-Kasteel.

  • Restauranture:

Somer Dinsdae tot Sondae, 12h00 tot laat

Winter Woensdae tot Sondae, 12h00 tot laat

www.riebeekkasteel.co.za

The Red Table, Nederburg, Paarl

By The Red Table op die Nederburg-landgoed sit jy in die somer in die koelte van akkerbome terwyl jy oor wingerde en die Drakenstein-berge uitkyk; in die winter is dit knus neffens ‘n kaggel wat in die ou herehuis, ‘n nasionale monument, brand terwyl die vlamme sowel as die serviette en tafeldoeke ‘n rooi gloed uitstraal.

Voorgeregte sluit biefcarpaccio voorgesit met bababeet, bokmelkkaas en peperwortelroom sowel as lensiebobotiesamoesas en seekosslaai met avokadopeer in. Die seekosslaai is lig en vars; dus gepas vir ‘n somersdag wat juis in die Paarl hittig kan raak.

Vars seekosslaai met avokadopeer is 'n nommerpas voorgereg vir die somer

Vars seekosslaai met avokadopeer is ‘n nommerpas voorgereg vir die somer

Varklies met sidersous is lipafleklekker by The Red Table

Varklies met sidersous is lipafleklekker by The Red Table

Aan’t tafel is daar gemoedelik gestry: is die varklies met ‘n patatkroket, roerbraaigroente en sidersousie of die geroosterde lam met Israeli couscous (ook bekend as pêrel-couscous) en parmesaan-murgpampoentjieskyfies die wenner as hoofgereg van die middag?

Ons het nie kans gesien vir nagereg na die ruim porsies by The Red Table nie, maar my hart het tjoklits geklop toe ek sien dat ‘n verbleikte groen boekie getiteld Die Lewende Taal – Afrikaans as Moedertaal as sytafeltjiedekor ingespan is.

Ruim tyd in om, terwyl jy nou hier is, Nederburg-wyne te proe, ‘n keldertoer mee te maak en die ou keldermuseum te besoek.

  • Restauranture:

Woensdae tot Saterdae, 11h00 tot 16h00

Sondae, 12h00 tot 16h00

www.nederburg.com/our-home/the-red-table/

Die Blomposbus, Calvinia

In die winter word die kokerboompies teen die koue toegebind soos hierdie enetjie langs die reuseposbus in Calvinia

In die winter word die kokerboompies teen die koue toegebind soos hierdie enetjie langs die reuseposbus in Calvinia

So rooi soos ‘n kalkoen. Of is dit so rooi soos ‘n kreef. Nee wag, dis eerder so rooi soos – sekerlik – die grootste posbus in die land.

Dís die Blomposbus in die hoofstraat – langs die kerkplein en oorkant Hantam-huis – van Calvinia. Die Hantam-Huis is die oudste gebou in Calvinia en die gebou is ‘n nasionale gedenkwaardigheid. Binne-in is ‘n restaurant, snuisterywinkel en inligtingskantoor.

Die knalrooi Blomposbus is 6.17 meter hoog, het ‘n omtrek van 9.43 meter en ‘n volume van 7.068 kubieke meter. Daar gaan omtrent nie ‘n dag verby wat daar nie sommer ‘n paar mense ‘n selfie voor die Blomposbus neem nie.

Dit maak dus sin dat die Blomposbus in die boek 1001 Móét-Sien Plekke – plekke om te gaan, dinge om te doen in Suider-Afrika gelys word.

Die Blomposbus was eers ‘n watertenk tot en met die middel negentigerjare. Toe is dit as ‘n werkende posbus gekamoefleer.

Jy kan steeds ‘n brief of ‘n poskaart deur die reusegleuf gooi. Jou posstuk kry dan ‘n spesiale blommetjiestempel voor dit versend word, sê hulle.

  • Hoopstraat, Calvinia

Daddy Long Legs Art Hotel, Kaapstad

Rooi spel – soms – gevaar. Maar nie altyd nie.

By die Daddy Long Legs Hotel in die hartjie van die stad het jy ‘n keuse van dertien kamers, elk volgens ‘n ander tema versier en ingerig.

Kamer 501 vier Levi-denims, Kamer Mak1One het wit dakbeeldhouwerk wat net lýk of dit op jou kop gaan val, Kamer Freshlyground het – ja, jy het reg geraai – musiek orals, Please do not Disturb is eintlik ‘n fantasie-klankateljee én slaapkamer en Sailor Jerry spog met tatoeëermerke teen die mure.

In die Emergency Room spel die rooi (van die mure) egter nie gevaar nie. Híér gaan jy nie oor die rooi bult ry (dis ‘n ou uitdrukking wat beteken om te sterf) nie.

Kies jou kussing en kruip in die bed

Kies jou kussing en kruip in die bed

Die Emergency Room is net vir speelse noodgevalle; al is daar ‘n skropkamer, skalpels en pleisterskêrtjies (weliswaar agter glas) en (nagemaakte) bloedspatsels hier en daar.

Lê jou kop neer op ‘n kussing waarop ‘Nurse’ of ‘Doctor’ – in Rooitaal – geborduur staan en leef ‘n paar van jou fantasieë uit.

Wees gerus – die Daddy Long Legs is so sentraal geleë dat jy die stad kan rooi verf voor jy na jou kamer met die rooi kruis van die Rooikruis teen die plafon terugkeer.

  • Langstraat 134, Kaapstad

www.daddylonglegs.co.za/arthotel/

www.daddylonglegs.co.za/product/the-emergency-room/

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 30, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .